Fiktiewe ontmoetings

  • 0

Hoe kan narratief betekenisvol met die konsep van identiteit in verband gebring word? Die Duitse literatuurwetenskaplike Winfried Fluck beweer: “(F)ictional texts and other aesthetic objects provide material that allows the reader to rewrite and extend the narrative of his own identity.”

Verlede week het ek beweer dat ons sosiale lewe niks anders as verskillende vorme van narrasie is nie. Dat ons sin maak uit dit wat met ons gebeur deur verhale te konstrueer. Dat identiteit dus “narratiewe identiteit” beteken. Hoe lyk dit met die ontmoetings met regte persone? Eintlik sou mens kon sê (en daarvan praat Winfried Fluck ook in bogenoemde artikel) dat ons op persone en mense reageer op basis van 'n denkbeeld, wat ons oor daardie persoon in ons verstand vorm. Wanneer ons op die uitsprake van iemand anders reageer, reageer ons dus veel meer op ‘n reeks beelde as op 'n  regte persoon. So is die ander persoon soos hy of sy werklik is, in wese onkenbaar – ons reageer slegs op ‘n geestesbeeld in ons verstand. Hoe groter ons stede word, hoe meer ons in anonimiteit wegsink, hoe meer tyd ons op facebook deurbring, ver weg van kennisse en vriende (in my geval in die verre Duitsland), hoe meer word ons ervarings in die sosiale sfeer denkbeeldig en fiktief.

Dus sou mens eintlik die twee gelyk kon stel: wanneer ek 'n persoon in die werklikheid en ‘n karakter in 'n teks ontmoet, reageer ek in beide gevalle op 'n geestesbeeld van die persoon/karakter wat ek in my verstand vorm. Of ek nou 'n werklike persoon ontmoet of kennis maak met 'n karakter in 'n verhaal, in beide gevalle kom ek in kontak met 'n ander ervaringsruimte as my eie. In beide gevalle is daar die potensiaal om deur die ontmoeting verander te word en my eie denke, idees en identiteit te verbreed of te omvorm. Net soos regte mense, kan fiktiewe tekste en die karakters wat ons daarin ontmoet, uitlokkend afstootlik of weersinwekkend wees. Dit kan my uitdaag om my oogpunt of emosionele sentimente te bevraagteken of te verander.

Fiksionele tekste is dus 'n vorm van oordrag, herskepping van my eie identiteit. In die proses van lees kan ek terselfdertyd myself en ook iemand anders wees.

Tot volgende week
Rentia

• Fluck, W. 2013. Reading for recognition. New Literary History, 44 (1): 45-67.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top