
Hoe kom ’n middelklas skrywer uit haar gemaksone sodat sy kan skryf oor interessante lewens, plekke en karakters? Hoe en waar vind mens goeie, geloofwaardige dialoog? Om in ’n koffiekroeg te sit en luistervinkend notas te maak, of luiweg deur ’n stad te stap, het sy beperkinge. Die antwoord op hierdie vraag kan miskien eerder in die joernalistiek gevind word.
Lauren Beukes, skrywer van die roman wat ek verlede week genoem het, Zoo City, beweer in ’n onderhoud wat afgedruk is in die Suid-Afrikaanse uitgawe van die boek,dat joernalistiek die beste basis was wat sy ooit kon kry om fiksie te kan skryf. Voordat sy haar op fiksie toegespits het, was sy twaalf jaar lank ’n vryskut-joernalis in Johannesburg. Soos joernalistiek, is fiksie gegrond in ervaring, ondervinding en die vind van ’n konteks waarbinne mense en gebeurtenisse verstaan kan word, beweer sy. Die navorsing wat sy gedoen het vir tydskrifartikels, het sy vroeër al in fiksionele stukke verander. Al die ure lange onderhoude wat sy al getranskribeer het, het haar blykbaar ’n goeie oor vir dialoog gegee. En joernalistiek het haar gebring na die mees interessante hoekies en draaie van die stad waar sy grootgeword het.
Ook die bekende Colombiaanse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde, Gabriel García Márquez, het as joernalis begin. In Noord-Amerika word hy hoofsaaklik as ‘n skrywer van fiksie gesien, terwyl hy in sy geboorteland, Colombia, as ’n literêre joernalis bekend is. ’n Voorbeeld van ’n boek wat fiksie en joernalistiek kombineer, is The Story of a Shipwrecked Sailor,wat in 1970 (in Spaans) in boekvorm gepubliseer is en gebaseer is op 14 nuusartikels wat hy vir die koerant El Espectador geskryf het.
Hoewel Márquez eers ’n joernalis was, is hy vandag veral bekend as skrywer wat die literêre styl “magiese realisme” bekend gemaak het. En waarom is dit betekenisvol? Die verhouding tussen karakters, ruimte en gebeure in die begrip realiteit wat in ’n magiese-realistiese teks geskep word, strook nie met die realiteit van die verhouding tussen daardie elemente binne die fisiese wêreld nie. Of ten minste nie binne die fisiese wêreld soos deur ’n middelklas mentaliteit aanvaar word nie. ’n Herkenbare, realistiese situasie word dus binnegedring deur iets of iemand wat te vreemd is om te glo.
Tog word die magiese realisme van Márquez baie noukeurig in die realiteit geplaas. Dit is geensins fantasie nie. Die oorsprong daarvan is eerstens die realiteit - ’n baie spesifieke omgewing en konteks wat noukeurig ondersoek word. Eintlik word die etiket “magiese realisme” wat op Márquez se werk geplaas word, ook onder diskussie geplaas. Mens kan byvoorbeeld beweer dat hy bloot met minder tradisionele konsepsies van realiteit eksperimenteer en daardeur wys dat “die realiteit” meer dubbelsinnig is as wat ons dalk vermoed.
Ook die magiese gebeure en besonderhede in Zoo City het kragtig sy grondslag in die akkurate waarneming van die Johannesburg waarin dit plaasvind. Hoewel ’n fantasievolle Johannesburg van die toekoms uitgebeeld word, kommunikeer die roman soveel oor die fisiese realiteit van daardie komplekse stad – met al die geweld, xenofobie en korrupsie wat daarmee gepaard gaan.
Dat feite fiksie (kan) genereer en daardeur aan die een kant meer geloofbaar kan wees en aan die ander kant iets oor die realiteit van ’n ervaring, gebeurtenis of plek kan kommunikeer, sê egter nie nét vir ons iets van fiksie nie. Ook joernalistiek word geskryf uit ’n bepaalde oogpunt, met ’n spesifieke styl en stem, en kan nooit volslae as “objektief” beskou word nie. In feite is joernalistiek ook maar ’n vorm van fiksie.
Feite en fiksie is dus geensins teenpole nie. Die een genereer die ander. En joernaliste en skrywers van fiksie baie by mekaar leer. Joernaliste kan dalk beter storievertellers word wat meer begrip het vir die kompleksiteite van die “realiteit” waaroor hulle verslag lewer. En miskien kan joernalistiek vir skrywers van fiksie ’n uitweg uit die isolasie van die verhewe kunswerk bied?

