Ek ken die vrou, die wilde een,
wat hardloop met die wolwe.
Sy jaag die voornag uit sy lêplek op
en kap na skaduwees
wat opstaan teen die wande.
Nou glip sy uit die grot,
gly met die trop deur smal ravyne;
besnuif die droom,
markeer die pas
tot anderkant die middagdors
waar in die lang gras
in die kollig van ’n koelteboom
’n raamwerk roer.
Hier sper die derde oog –
hoe helder span ’n beeld
in doringtak en struikgewas.
Vannag sal sy die sterre vang,
ligsnoere vleg, krale en beentjies ryg
en om haar nek en lende hang.
’n Tong swel blink en pers –
die warm asem stoot die skemer in –
die fluitroep van ’n jong wolvin?
Kabaal of groeiende kadans?
Die rante hou die sniklag
van ’n hond-vrou vas.
Die slym lek uit haar bek,
ketting in die sand,
verhale van demone
wat met die volmaan loop.
Sy hardloop voor:
Sy is getoor tot vrou met fallus,
die een wat jag
en tussen wolwe woon.
Zandra Bezuidenhout
Aardling. Protea Boekhuis. 2006.

