Fabel van die meermin en die dronkaards

  • 0

Al hierdie menere was daar binne
toe sy inkom totaal kaal
hulle was al gedrink en het na haar begin spuug
sy het niks verstaan nie want sy het pas van die rivier af gekom
’n meermin wat verdwaal het
’n stroom beledigings het haar gladde vlees getref
smerigheid het haar goue borste bedek
van huil het sy nie geweet, daarom niks gehuil nie
van aantrek nie geweet, daarom nie geklee nie
hulle het haar getatoeëer met hul sigarette en gebrande kurkproppe
en gelag totdat hulle omgedop het op die kroegvloer
sy het nie gepraat nie want van praat het sy nie geweet nie
haar oë was die kleur van teruggehoue liefde
haar arms soos twee topase wat op enerse wyse ontwerp is
haar lippe gestol in die lig van koraal
haastig is sy by daardie deur uit
skaars terug in die rivier, of sy is stil gereinig
glimmend soos ’n wit steen in die reën
en sonder een omkyk swem sy nuut
swem sy na niks meer as na haar sterwe toe.

(Fábula de la sirena y los borrachos deur Pablo Neruda uit  Estravagario, 1958.  Vertaal deur Waldemar Gouws)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top