Dag Angus
Ek verwys na jou brief van gister. Jy sê evolusie beteken nie die mens stam direk van die aap af nie (soos die pa vir sy seun gesê toe dié hom vertel van Darwin: "Jóú pa was miskien ’n aap af maar beslis nie myne nie!").
En jy’s reg, evolusie beteken nie dat die mens direk van die aap afstam nie. Net soos ook die uitwys van leemtes in die evolusieteorie nie beteken dat jy ’n kreasionis (wat dit ookal mag wees) is nie. Jy hoef nie ’n ateïs te wees om akkoord te gaan met die evolusieteorie nie, net soos jy nie ’n diepgelowige christen, mohammedaan of boedhis hoef te wees om die teorie te verwerp nie.
Kobus is reg, die leemtes in die teorie is legio. Die een wat uitstaan is die gebrek aan oorgangs- en/of tussenspesies. Met oorlewing van die mees geskikte kan mens nie stry nie maar dan moet daar tog oorvleueling ook wees; ’n nuut-aangepaste organisme gebeur tog nie in een geslag nie.
’n Ander raaisel is parasiete. Daar is ’n parasiet wat ’n gedeelte van sy lewenssiklus in ’n mier deurbring en ’n ander gedeelte in ’n skaap. Moeilik om te verklaar want insekte is millenia langer op aarde as soogdiere. Dit kan dalk verklaar word dat die skaapgedeelte maar ’n aanpassing is nadat die meeste reptiele uitgesterf het maar hoe lank het dit gevat voordat soogdiere hulle verskyning gemaak het? Die mees onverklaarbare egter is die parasiet se vermoë om die gedrag van die mier te verander wanneer sy siklus in dié insek voltooi is; die mier hou op werk en gaan sit op ’n grashalm en wag om gevreet te word. Sou ’n makliker aanpassing nie wees om maar ’n erdwurm of iets te geword het nie? Die vermoë om ’n insek se senuweestelsel (brein?) te manipuleer moet tog oneindig ingewikkelder wees as om op humus te lewe of hoe? Of het evolusie en termodinamika niks met mekaar uit te waai nie?
Dan is daar die parasiet wat ’n vis se tong verteer en die plek van die vis se tong inneem en dan blykbaar te vreet wat die vis vir voedsel vang. Ek stem saam, die alternatief vir hierdie vreemde verskynsel is nie kreasionisme nie maar dit is beslis ook nie te verklaar deur oorlewing van die mees geskikte of bes aangepaste nie.
Darwin se verduideliking wat jy aangehaal het, naamlik die van die evolusieboom, gemeenskaplike voorouers en die het weer ’n gemeenskaplike voorouer ens lei tot die amper absurde: Oorspronklik was daar net ’n sel wat op een of ander manier begin skop of asemhaal het en die is ons almal se pa of ma. En hoe het daardie sel begin lewe?
Groetnis
Jan Rap
NS Jou boek is op pad


Kommentaar
'n Paar antwoorde:
Baterieë absorbeer voedingstowwe direk uit die omgewing uit. In 'n laboratorium kan hierdie organismes in media gekweek word wat slegs uit suiwer chemiekalieë opgemaak is. Autotrowe organismes (soos plante en swael reduserende bakterieë) neem ennergie as sonlig of reaktiewe swael verbindings uit die omgewin op en kombineer dit chemies met water en koolstofdioksie en produseer so biologies bruikbare ennergie.
Populasie getalle neem geometries toe solank as wat daar voldoende voedingstowwe en ruimte beskikbaar is. Duidelik is daar 'n maksium getal wat kan oorleef in enige habitat. Wanneer hierdie getal bereik word produseer meeste individue meer nasate as wat kan oorleef en voortplant. Die wat dus die beskikbare hulpbronne sodanig gebruik dat hulle meer nasate in die daaropvolgende generasie nalaat se gene neem in frekwensie in die populasie toe en evolusie gebeur. Daar is geen doel aan die proses nie, dit gaan nie oor ontsnap uit kompetisie of die ontwikkel van groter kompleksieteit nie. Dit is 'n passiewe proses waar die wat meer suksesvol voortplant se kenmerke meer algemeen in 'n gemeenskap word.
Parasiete is bloot organismes wat 'n ander organisme as habitat het. Baie nie parasitiese organismes het meer as een habitat. Dink bv. aan walrusse en pikewyne wat in die see leef en op land voortplant. Die lintwurm wat mense en varke besmet se lewenssiklus lyk geweldig kompleks, maar as dit vergelyk word met soortgelyke organismes wat slegs een gasheer het en ander wat vrylewend is kan mens 'n opeenvolging van evolusionêre stappe postuleer wat daartoe kon gelei het.
Jy vra van ekonomie en die weg van minste weerstand. Evolusie word beperk deur die materiaal wat beskikbaar is. Organismes kan nie willekeurig nuwe strukture ontwikkel nie: die genetiese potensiaal moet bestaan en die nuwe eienskap moet verenigbaar wees met die organisme soos dit voorheen bestaan het.