Evolusie en “Skeppingsleer” as Gelowe?

  • 4

Dagsê Louis,

Verskoon dat ek nie onder jou bydrae kommentaar lewer nie maar daar is reeds soveel reaksie dat ek ’n nuwe bydrae verkies.

Ek sien jy sê die ‘Skeppingsleer’ —  ek aanvaar jy bedoel Kreasionisme of, soos  aanhangers deesdae verkies om daarna te verwys, ‘Intelligente Ontwerp’ — is ’n geloof? Is jy seker jy bedoel wat jy sê? ’n Geloof nogal — jou wragtig?

Miskien bedoel jy daarmee dat omdat Kreasionisme nie bewys kan word nie, dit geglo moet word. Evolusie daarenteen is ’n wetenskaplike teorie wat op bewyse gebaseer is wat voortdurend getoets word vir die waarheid en daarom sal  en kan dit nooit kwalifiseer as ‘geloof’ nie. Die teorie kan hoogstens as vals bewys word — maar nie soos jy beweer, as geloof nie.

Dalk moet jy liewers bietjie gaan nalees oor oa die Doversaak (2005)   — daar is talle ander ook —  (Scopes Trial – 1925; Epperson v. Arkansas – 1968; Willoughby v. Stever – 1973; Daniel v. Waters – 1975; Hendren v. Campbell – 1977;) en minder tyd spandeer op kreasionistiese webwerwe. In die saak  —Kitzmiller v. Dover Area School District waarna ek verwys, het  ’n ouergemeenskap onder leiding van Tammy Kitzmiller (een van die ouers) die Skoolraad gedagvaar omdat hulle Kreasionisme as wetenskapsvak in die klaskamer ingevoer het. Daar is die kwessie oor Evolusie en Kreasionisme behoorlik oopgevlek. Die groot ghoeroe van Kreasionisme,  prof Michael Behe is spesiaal deur die Verdediging as getuie ingevoer maar dit is ironies dat juis sy getuienis  geboemerang het toe advokaat Eric Rothschild hom in ’n hoek gehad het en hy moes erken dat sy getuienis daarop neerkom dat as Kreasionisme Wetenskap is, Astrologie ook as Wetenskap kwalifiseer en dus by implikasie ook geregtig is vir onderrig in die klaskamer. As Rothschild so met die professor kon mors kan ek my nogal  goed voorstel wat hy met jou sou aanvang.

Onnodig om te sê dat die Skoolraad nie net die saak verloor het nie maar ook ’n boete deur Regter Jones opgelê is en deur die ouergemeenskap in die pad gesteek is. Die plaaslike dominee het darem sy ondersteuning vir die Skoolraad betoon deur daarna in ’n preek die inwoners van Dover te waarsku dat ’n verskriklike ramp hulle gaan tref omdat hulle God verwerp het. Tipiese reaksie  — en die ramp is ook nou al 7 jaar uitstaande.

As die Skoolraad van Dover nou maar net van jou bewus was, kon jy dalk vir hulle die knoop deurhaak.

Groete

Panda

  • 4

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Panda,  

    Dis jammer dat daar dikwels vanuit beide godsdienstige sowel as wetenskaplike kontekste uitsprake gemaak word wat stryd tussen kerk en wetenskap veronderstel.  

    Evolusie word in ’n taal geteoretiseer wat sekere gespesialiseerde kennis vereis om te verstaan.

    Nes wetenskap, het teologie uiteraard ook ’n heel ander taal.  

    Wetenskaplikes behoort nie teologie te beoefen nie (soos om teorieë of geloofsuitspraak oor God te probeer weerlê nie).  

    Dit is ook nie die taak van die teologie om opinies oor wetenskap of die rol daarvan te ondermyn nie.

    Opregte belydenis dat God die Skepper van ons heelal is het vrede daarmee as wetenskaplikes die komplekse werklikheid van ons bestaan geleidelik ontsluit.  

    Christen-wetenskaplike is eintlik ’n heel versoenbare en geseënde beskouing.  

    Namaste! 

    Cornelius

  • Wat ek hier ironies vind is dat hulle evolusie wil afkraak omdat dit kwansuis "blote geloof" is. Maar wanneer dit by hul eie geloof kom is daar niks "bloot" daaromtrent nie – dis alles heilige waarheid! Kan nie mooi uitwerk waarom hulle skynbaar dink hulle geloof is meer heilig as enigiemand anders s'n nie: as kennis onmoontlik is en alles kom neer op geloof, behoort hulle veel meer sinies te wees oor enige aanspraak op kennis, insluitende dié van hul heilige boek. 

    In ieder geval, ek dink nie hulle sal daardie bronne waarna jy verwys gaan oplees nie. Die lees van idees waarvan hulle nie hou nie is nie hul sterk punt nie, veral nie as hulle ’n hoërskoolkind gaan nodig hê om al die groot woorde te verduidelik nie.

  • Thys Human (PTA)

    Netjies gestel, Panda. En dankie vir die verwysings na daardie ander hofsake wat nie altyd so bekend is soos die Scopes- en Dover-sake nie.

    Ek wil ook voorstel dat Louis (nog nie sy stuk gelees nie, maar sal tog gaan kyk) ’n bietjie die biologos webblad besoek. Dit is ’n ernstige poging van goeie Christene om hulle geloof met die evolusie-proses te probeer vereenselwig deur dit alles as die werk en skepping van hulle godheid voor te hou. Ek self kan dit natuurlik nie ondersteun nie, maar dit is ’n baie redeliker benadering as die radikale kreasioniste en maak dit moontlik vir gelowiges om hulle tog in die wereld van die wetenskap te begeef. Die gaping is net aansienlik kleiner.

  • Cornelius: Daar is in die algemeen redelik vrede tussen wetenskap en religie. Die probleme begin wanneer fundamentaliste stellings oor die fisiese heelal op die Bybel wil grond. Sulke stellings kom noodwendig in konflik met wetenskap, of stel hulself ten minste bloot aan wetenskaplike ondersoek.

    Terloops, in die hofsake waarna Angus verwys, was die klaers amper deur die bank Christene, nie ateïste nie. Ek het al heelwat met Amerikaanse Christene wat evolusie aanvaar gekorrespondeer. Hulle is almal heftig gekant teen kreasionisme want hulle voel dit laat hul geloof totaal belaglik lyk, en hulle is ook gekant teen die teokratiese agenda van die Amerikaanse kreasionistiese beweging.

    Ek het eenkeer ’n aanhaling gesien van, as ek nou reg onthou, St. Augustinus, waarin hy mede-Christene maan om hulself op hoogte te hou van wetenskaplike kennis, omdat hulle anders agterlik en onopgevoed voorkom, wat dan weer baie swak reflekteer op die Christendom. Ons kreasionistese korrespondente hier op LitNet kan gerus sy raad volg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top