Evolusie, die leuen

  • 17

Eerstens kom ons stel dit duidelik. Evolusie is ’n geloof net soos Skeppingsleer ’n geloof is.

Daar is geen bewyse van evolusie nie - inteendeel dit word om ons weerspreek.

1) Vlerke en vlug soos in insekte en voëls en sommige soogdiere (vlermuis) is nie te vind in hulle sogenaamde voorgangers nie. Hoe sou dit kon evoleer - dit moet eensklaps werk of jy vlieg nie.

Die oorbeentjies - hamer, aambeeld en stiebeuel in enige soogdier moes ten volle werk of hulle sou nie oorleef. Evolusie wil voorgee dat dit deur twee veranderings oor jare plaasgevind het uit die kakebeen.

2) Baie eensellige vorms van lewe bestaan, maar geen vorm van dierlike lewe het 2,3,4 of 5 selle. ’n Bekende vorm van lewe bevat 6-20 selle (parasiete). Hulle moet ’n komplekse gasheer kry om te lewe.

As makro-evolusie gebeur moet daar baie tussen oorgangsvorms van 2-20 sel organismes wees.

3) Fossiele oor die wêreld wys op vinnige bedekking. As dit miljoene jare gevat het soos beweer word sal dit ontbind het. As daar gekyk word na die manier hoe fossiele gevind word sal dit duidelik wees dat hulle skielik begrawe was, hulle is nog in verwronge posisie wat aandui dat hulle lewendig was en ook sal jy fossiele kry wat deur meer as een  rotslaag  gaan. Die lae word miljoene jare uitmekaar beskryf.

4) Alle sediment lae is parallel - hoekom is daar nie erosie-slote as dit miljoene jare uitmekaar is nie. Dan moet daar mos ongelyke lae wees.  

5) As evolusie gebeur het, sou die fossielrekord, stadige voortgaande veranderings van onder na bo toon. Daar is talle gapings. 

6) In Cambrian-rots (die oudste) verskyn fossiele in komplekse vorm. Evolusie beweer variasies moet stadig en klein wees.

7) Bene van moderne mense is gevind in ongesteurde rots wat volgens evolusie gevorm is voor daar mense was. bv Castenedolo-geraamtes, Reck se geraamte, Swanscombe se kopbeen ens.

8) Chemiese evolusie: Daar is hoë vlakke van koolstof, suurstof en stikstof nodig  in die begin van evolusie. 
Koolstof - Rotse wat lewe voorgaan het bittermin koolstof
Suurstof - Geen evolusieteorie kan die suurstofoorvloed in aarde se atmosfeer verklaar nie.
Stikstof - Klei en sekere rots absorbeer stikstof. As miljoene jare verby was voor lewe begin het, dan sou die sediment voor lewe ontstaan het vol wees van stikstof.

9) Lewende organismes bestaan hoofsaaklik uit proteïen wat lang kettings aminosure is. Aminosure kan nie bind as daar suurstof teenwoordig is nie.

10) Evolusie beweer sjimpansees is die mens se naaste verwant. Hulle beweer sjimpansees se DNA is 99% verwant aan mense.  Twak. Gaan kyk na die seks-chromosome en meer as 30% verskil.

11) Die generiese DNA van elke menssel is ongeveer 4000 boeke inligting.
Dit kom neer op die volgende:
a) Begin met ’n eenvoudige sin
b) Tik dit oor en maak ’n paar foute
c) Kyk of die sin nou verstaanbaar is
d) As dit verstaanbaar is, vervang die oorspronklike sin daarmee
e) Gaan terug na “(b)”
Om net die ensieme in een organisme te maak is 10 tot die mag 40 000 probeerslae nodig.

12) Meeste insekte (87%) ondergaan metamorfose. Van larwe na papie na insek. Elke een se lewensiklus is uniek en hoe is dit moontlik as elke oorgang sy eie eetgewoontes ens het.

13) Die verskillende lewensvorme is afhanklik van mekaar. Diere benodig suurstof wat van plante kom, plante weer is afhanklik van koolsuurgas van diere. Daar is bv spesies soos bye wat van stuifmeel afhanklik is en die een sal nie sonder die ander bestaan. As een voor die ander was sal hulle nie bestaan nie.

14) Reproduksie van diere, mense en plante kan nie deur evolusie verduidelik word nie. Die geslagsdele moet ten volle wees of dit werk nie. Alles moet gelyk versoenbaar wees. 

15) Wat van die solar-stelsel, daar word beweer planete het gevorm toe ’n ster naby die son verby beweeg het, het dit materie van die son saamgevat. As die planete en hul mane deur evolusie gevorm het moet hulle tog dieselfde materiaal bevat. Wat van planete wat nie almal in dieselfde rigting draai nie? 

16) Waar kom water op aarde vandaan? As die aarde dan deur evolusie se kolkende wolk gas en stof gevorm is sou water mos grootliks deur son verdamp het en op die buitenste ring van die kolk gesit het.

Hier is ’n paar vrae daar is nog:

a) Planetêre ringe? (b) Oorsprong van die maan? (c) Die son se uitstraling gedurende eerste 600 miljoen jaar te min? (d) Geen verduideliking vir tyd, krag, aksie, ruimte of materie?  (e) Wat van verskillende temperature op al die hemelliggame? (f) Wat van eerste wet van termodinamika? (g) Wat van tweede wet van termodinamika? (h) Wat van swaar elemente - die oerknal sou net waterstof, helium en lithium voortbring - waar is die ander elemente? (i) Wat van stervorming? (j) Wat van DNA, dit kan nie meer as 10 000 jaar opspoorbaar wees nie? (k) Wat van mensgemaakte voorwerpe in steenkoollae? (l) Wat van helium in rots? (m) Wat van sediment in riviere en die see? (n) Wat van kontinent-erosie? (o) Wat van metioorstof?  (p) Wat van stof op maan en planete? (q) Wat van hitte-uitstraling op al die hemelligame? (r) Wat van onakkurate datumvasstellings?

Hiermee volstaan ek.

Louis

  • 17

Kommentaar

  • Chris Dippenaar

    Veels geluk, jy het nou net bewys dat die skeppingsverhale van Hesiod en Ovid waar is! 

  • Louis: Dit is duidelik dat jy geen idee het van die teorie wat jy jou aanmatig om te kritiseer nie. Heelwat van wat jy aanval is nie eers evolusie nie en het niks met evolusie te make nie.

    Ek beveel aan dat jy nie kreasionistiese webwerwe en pamflette gebruik as jou bron van inligting  nie. En miskien die naaste biblioteek besoek (dis daai groot gebou met al die gratis boeke) en jouself eers opvoed in basiese wetenskap voor jy dit so woes aanval.

    Sommige van jou besware word hier aangespreek:

    http://www.talkorigins.org

    http://www.pandasthumb.org/

    • Dr Kent Hovind beskryf evolusioniste as "stupid". Ek dink nie hulle is "stupid" nie, maar gaan slegs tekort aan 'n totale onvermoë om logika en feite (Lw FEITE) te begryp - of te wil begryp. Die FEITE synde die onbewysbare "feite" van die evolusieteorie. Die evolusieleer (teorie) is 'n godsdiens, soos wat "creationism" ook 'n godsdiens is. Nie een van die twee groepe kan hulle siening bewys nie, behalwe dat dit baie maklik bewys kan word dat evolusie-"feite" feitloos is. Maar wil jy eerder glo daar was niks, toe ontplof die niks en voila! of wil jy eerder glo daar was 'n Ontwerper en Skepper? Vra die vraag vir enige vyfjarige kind en jy sal jou antwoord kry.

      • Nog die Bybel nog die Oerknalteorie beweer dat daar niks was nie. Probeer 'n webblad soos Fact and Faith.

  • Kobus de Klerk

    Hallo Louis,

    Wel gedaan.

    Maar die evolusioniste het in hoofsaak net drie maniere hoe hulle op so iets reageer:

    Hulle probeer jou beledig, maar gee geen verduideliking wat hulle uit die penarie help, nie;
    hulle vertel jou hoe jy kwansuis niks weet nie, maar gee geen verduideliking wat hulle uit die penarie help, nie (’n George Claassen gunsteling);
    hulle vertel jou jy weet niks, jy moet gaan studeer, maar gee geen verduideliking wat hulle uit die penarie help, nie.

    Mens sou logies meen dat hulle, as die antwoorde bestaan het, dit vinnig net vermeld, dan sou die saak mos daarmee opgelos wees. Maar daar is niks ... Die gemene faktor in hul tipiese optrede is – hulle gee geen verduideliking wat hulle uit die penarie help nie, want hulle kan nie.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Louis

    Evolusie sal ’n feit bly totdat jy wetenskaplik kan bewys dat dat dit nie so is nie. Deur op LitNet te verklaar dat evolusie ’n leuen is, is ongelukkig nie genoeg nie. Dalk moet jy bietjie wyer lees en ophou alles glo wat sonder bewyse aan jou opgedis word.

    Thomas

  • Beste Louis Rudolph,

    Dis goed om skepties te staan teenoor alles, ook die evolusieleer. Dit lyk egter nie asof jy skepties staan teenoor jou vrae oor evolusie nie. Jy maak ’n hele klomp verkeerde aannames, en dan skiet jy dít af.

    Evolusie is nie ’n geloof nie. Evolusioniste kom nie Sondae bymekaar nie, kruip nie op die knieë rond en spreek in tale nie, sing nie psalms nie, het nie rituele waarin offers aan gode gebring word nie, eet en drink nie wyn en brood as simbole van mensbloed en vleis nie, verkondig nie pratende slange en bome nie, en ook nie maagdelike geboortes nie, verkoop nie koeksisters en pannekoek omdat iemand se 2011- model Mercedes al te oud is nie.

    Ek is maar ’n nuuskierige ou. Hierdie is ’n aanval op evolusie; dus neem ek aan dat jy smalend daarvan praat as jy sê evolusie is ’n geloof. Praat jy ook so smalend van ander gelowe, soos bv. Boeddhisme, Islam, die Christendom, Voorvaderaanbidding? Dit klink asof jy dit as ’n skande beskou om as ’n geloof uitgeskel te word. 

    Evolusie is bewys, en vind elke dag voor jou oë plaas. Alles verander, niks bly dieselfde nie. Selfs die Christendom is ’n toonbeeld van evolusie. Julle weerspreking daarvan berus op verkeerde aannames. 

    Vlerke het nie eensklaps ontstaan nie. Dit is net in mitologiese verhale waar dit kan gebeur, soos in die Bybel. Daarin het God die voëls en insekte binne een dag volledig en volwasse geskape, en vlieggereed. Jy behoort ook skepties daarteenoor te staan. Evolusie is maar die voortdurende stryd in die natuur om voortbestaan: die hopelose geklap van ledemate om kop bo die modder te kry, die geflap van vinne om uit die water te kom en weg te vlieg van predatore, die gespartel om oor die land te vlug en te vlieg, die gesweef van tak tot tak, en uiteindelik, na miljoene jare, die vlerk om te kan vlieg. Dis nie so lekker soos die Bybel dit beskryf nie: net die gewoep-wap, ek kul jou hier, en siedaar, daar vlieg hy! 

     Evolusie neem tyd, en organe het nie eensklaps ’n volmaakte vorm nie: dis beter om baie, baie effentjies te kan hoor as glad nie, en mettertyd kom die aanpassing tot beter gehoor.

     Die meeste van jou vrae is afgesaagde en alreeds lankal afgemaakte sake van kreasioniste en nie eens die moeite werd om verder te bespreek nie. 

    Net een sakie nog: evolusie is die geskiedenis van lewe op aarde; dit het niks te make met planetêre ringe of die oorsprong van die maan nie. Die astronome het wel verklarings en teorieë daaromtrent.

    Wat die leuen betref, dink jy nie die Bybel vertel ’n groter leuen nie? 

    Groete,

    Angus

  • Kobus: Kyk mooi na Louis se skrywe, dan sal jy sien waarom evolusioniste nie bodder om met hom in "debat" te tree nie. Hy vra meer as dertig retoriese vrae, oor elkeen waarvan letterlik hele boeke geskryf is. Wat verwag jy moet ons doen? Al dertig antwoord, terwyl die antwoorde reeds vrylik op die web en in die biblioteek beskikbaar is? En daarna? Ek het genoeg ondervinding van kreasioniste om te weet Louis sal bloot NOG dertig vrae vra.

    Jy sien, sy doel is nie om antwoorde te kry nie. Dit is alles bloot retoriese vrae om die indruk te probeer skep dat wetenskaplikes nie weet waarvan hulle praat nie. En omdat hy die hele tyd bloot op die aanval bly, eerder as om te luister en te leer, is dit ’n fout en ’n mors van tyd om met sy "argumente" te bodder. Dit is ook duidelik uit sy skrywe dat hy – heel letterlik –  nie soveel as ’n hoërskoolleerling se kennis van wetenskap het nie. Waarom op dees aarde sou enige opgevoede mens sy tyd mors met sulke volslae naïewe aanvalle? Moet ons hom ’n gratis hoërskoolopvoeding gee, en sy huiswerk boonop ook nog vir hom doen? 

    Dit is nie nodig om met hom te "debatteer" nie – die wetenskaplike debat oor die feit van evolusie het reeds 150 jaar gelede geëindig. Dit is net so min nodig om op sy aanvalle te reageer as wat dit nodig is om op die plat-aarde brigade se stellings te reageer. Gelukkig vir ons het Louis en sy pelle nie genoeg politieke mag of invloed om hulle agenda op die res van ons af te dwing nie. Hulle staan nou maar daar en swaai hul vuiste magteloos in die lug. 

    Dit herinner bietjie aan ’n chihuahua wat  verwoed vir ’n rottweiler staan en kef. Wat doen mens? Probeer met eindelose simpatie aan die brakkie verduidelik dat sy opponent groter is as hy? Of is dit beter om maar bloot te lag?

    Diegene wat verkies om in die duister te leef is welkom om dit te doen. Dit sou wel wraggies gehelp het as hulle nie die hele tyd die res van ons se kerse probeer uitblaas het nie. 

  • CorneliusHenn

    Hallo Louis,  

    Jy het ongetwyfeld heelwat gedagte aan jou bydrae gewy. Dis ook duidelik dat jy respek vir jou medemens daarin toon ten spyte van jou verskil in mening oor die onderwerp. Hierin onderskei ek jou dus totaal van ’n patologiese hater soos Kobus de Klerk.  

    Ek deel ook graag die volgende gedagtes met jou: Daar is menige ongelowiges wat ook evolusie verwerp. Geen kennis hetsy die Skeppingsleer in die Bybel of wetenskap soos evolusie bepaal ’n mens se saligheid nie. Geloof wat beskerm of verdedig moet word is mensgemaak. Geloof uit die hand van God in jou hart sal jou beskerm – ongeag jou beskouinge op grond van jou kennis. God alleen bewerk geloof in ons harte – geen mens ontvang geloof in God van iemand anders nie.  

    Daar mag wel fanatici wees wat evolusie dien, maar evolusie is nie geloof in die algemeen nie. Geloof in ons harte (godsdiens) is diens in God. Evolusie as ’n logika dien die mensdom. Die mens het sulke logika in sy bestaan nodig om te oorleef. Dink byvoorbeeld net daaraan hoe Mendel se genetika wette die teling van kos op jou tafel gebring. Dink hoe dwepers soos die Jehovasgetuies kindertjies sal laat sterf in hul waan oor bloedoortappings ... 

    Ek het ’n groot passie vir logika soos evolusie maar het ook ewe veel vrede met jou verskil daarmee. Ek respekteer jou uitgesprokenheid as noodsaaklik vir die geleidelike ontwikkeling van ons bewussyn. Dis eintlik die grond vir alle wetenskap; gesonde gedagte ten gunste en daarteen.

    Ek bid egter dat  Kobus de Klerk en sy infernale bende se anderhaat jou verby sal val en dat jy nie deel daarvan sal word nie.  

    Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,  

    Cornelius

  • Kobus de Klerk

    Brianvds,

    Jy sê Louis moet nie die kreasionistiese webwerwe besoek nie, maar jy verwys hom na evolusionistiese webwerwe waar evolusioniste bevooroordeeld te werk gaan met hul inligting om hul agenda te pas. Dubbele standaarde? Die kreasionistiese mense, daarenteen, bekyk die saak heel objektief en lig juis die knelpunte sorgvuldig uit deur kundige mense.

    Dan is dit ook so dat die webwerwe wat jy aanbeveel, juis nie die antwoorde voorsien, nie, maar  die probleem probeer perpetueer.

    En asseblief, ek was positief beïndruk met jou redelik billike (vanuit jou oogpunt) en ordentlike manier waarop jy met my, byvoorbeeld, gekommunikeer het elders in kommentaar op my en Dolf se kommentare. Wil jy nie maar asseblief daardie trant bly behou, nie? Partykeer skop agnostici die gesprekke so ordentlik af, maar gou-gou daarna kom die beledigings en persoonlike aanvalle en die gesprek ontaard. Ek hoop werklik dit is anders met jou.

    Kobus de Klerk

  • Kobus: Verwys my gerus na voorbeelde op die webwerwe waarna ek verwys van evolusioniste wat bevooroordeeld met inligting te werk gaan, of enige feitefoute. Jy sal dalk so paar kry, want van die inligting daar is verouderd en niemand is perfek nie. Ek twyfel of jy sal kan aantoon dat daar grootskaalse bedrog gepleeg word (soos wat wel op baie blatante wyse op vele kreasionistiese webwerwe die geval is).

  • Louis,

    Ek stem heelhartig met jou skrywe saam en ek weet ook dat daar nog ongelooflik baie en steeds onbeantwoorde vrae rondom die leuen van die evolusieleer is. Te oordeel aan die reaksie vanaf ons evolusionistiese vriende waarvan die meeste ateïste is, het jy beslis baie teer puntjies aangeraak en die spyker op sy kop geslaan. Jy sal opmerk, Briandvs (as agnostikus) verwys na groot en klein hondjies wat blaf, maar hulle (die evolusioniste) veg verbysterd in hul onkunde voort om hul geloof te probeer regverdig en as “bewys” voor te hou!

    Briandvs,

    Ek stem ook saam met jou dat: “dit is nie nodig om met hom (Louis) te "debatteer" nie – die wetenskaplike debat oor die leuen van evolusie het reeds 150 jaar gelede geëindig” – hou asseblief op om ons intelligensie te onderskat en evolusie as feit voor te hou – na bykans 200 jaar is dit eenvoudig nog NOOIT bewys nie – Ál wat verander het sedert die evolusioniste se afgod, Darwin, sy evolusie leuen verkondig het, is dat die een onbewysde teorie en hipotese slegs vervang is deur verdere onbewysde teorieë en hipotese deur al die jare,  júis om niksvermoedende mense elke keer te mislei met sogenaamde “wetenskaplike bewyse” sodra elke vorige teorieë en hipotese as onbewys en snert uitgewys word. Maar wat ons evolusionistiese vriende nog steeds nie besef nie is dat hulle almal moet terugkeer na Darwin se oorspronklike evolusieteorie en EERS die essensie van die evolusieteorie moet bewys dat ALLE dinge deur evolusie ontstaan het!

    Hou asseblief ook lig en duisternis uit jou skrywes, dit geval jou nie te wel nie en as iemand wat erken dat hy nie kennis oor sake Gods het nie en dus agnosties is, verstaan jy nie die begrip van lig en duisternis korrek nie. Die punt is dat ware gelowige christene juis in die ware LIG lewe omdat hulle ware geloof het en die Waarheid weet. Dit is julle evolusioniste wat in die donker onbewysde grotte van die mensgemaakte evolusieleer rondstrompel om steeds vas te hou aan iets wat Nog Nooit bewys is nie en ook Nooit bewys sal word nie! Dan praat jy van magteloos vuiste in die lug swaai – hoe lagwekkend – hou op om in die spieël te kyk wanneer jy sulke snert kwytraak – jy beskryf net jouself en jou evolusionistiese pêlle!

    Angus,

    Evolusie Is ’n geloof. Julle as ateïste hang dit juis aan as teenvoerder vir die ware en enigste evangelie – die christelike geloof. Julle soek bewyse vir God en sake Gods en omdat julle dit nie verkry het nie, hang julle die evolusieteorie aan omdat julle glo dat dit bewys is – slegs ’n herinnering daaraan dat julle Ware Geloof eenvoudig nie verstaan nie en nog nooit het nie! Maar evolusie Is Nie Bewys Nie en Dit Vind Nie Elke Dag Voor Ons Oë Plaas Nie! (hou asseblief op om sulke twak te verkondig!) en as sulks hang julle ’n spul saamgeflansde en onbewysde teorieë en hipotese aan! En hou ook sommer op om aan te hou beweer dat aanpassing (“adaptation”) evolusie is (kyk jou vorige skrywes) – Dit Is Nie!

    Julle wil nie onderdanig wees aan julle Skepper (God) nie. Vir julle gaan dit oor die skepsel (mense) eerder as oor die Skepper. Julle het nog nooit besef dat ALLES oor God gaan en tot Sy eer strek! Julle wil God nie dien nie maar verwag van Hom om julle te dien – dit is ook hoekom baie ateïte (ironies dat hulle glo nie in God nie) dan God blameer vir alles wat in hulle eie lewe én in die wêreld verkeerd is – sonder om tot die besef te kom dat die chaos juis heers omdat die mens God nie wil dien nie en eerder sy eie kop wil volg! Kortom, die mens wil nie verantwoordelikheid vir hul eie misdrywe neem nie maar wil, heel gemaklik, eerder God daarvoor blameer en terselfdertyd hulself regverdig  – hoe pateties én ongelooflik dwaas! Dit is ook hoekom julle dan ’n mensgemaakte teorie - die evolusieleer – aanhang en as bewys vir die waarheid voorhou – dít tewyl julle weet dit is onbewysde twak.

    Jy sien, Louis se skrywe is “spot on” en julle spreek nie sy vrae aan nie, maar doen weereens ’n “side-step” en probeer eerder die lesers se aandag van die regtige kwessie (die onbewysbaarheid en absolute snert wat die evolusie teorie voorhou) af te trek en te fokus op jul eie wanbegrip van wat bewys beteken.

    Jy noem ook dat “Die meeste van jou (Louis)se vrae is afgesaagde en alreeds lankal afgemaakte sake van kreasioniste en nie eens die moeite werd om verder te bespreek nie”. Nee-nee, Angus, as dit dan “lankal afgemaakte sake” is, gee sommer gou-gou vir ons die bewysde antwoorde daaromtrent en die saak is mos dan afgehandel. Maar jy KAN NIE – want dit is nog NIE afgehandel NIE omdat dit NOG NOOIT beantwoord is nie, man! Veduidelik sommer gou-gou hoe plant diere met on-ontwikkelde geslagsorgane voort en hoe oorleef diere met on-ontwikkelde organe en vlerke miljoene jare lank – siende dat jyself sê evolusie neem miljoene jare lank? En tewyl jy besig is en so roem op fossiele rekords – gee sommer gou-gou vir ons die bewysde oorgangs fossiele ook!

    Thomas

    Jy is natuurlik die beste (en ek sien Briandvs nou ook) wanneer dit by vrae kom waar die evolusieleer weereens as onsin blootgestel word – jy (julle) verwys dan graag en baie gou na web-tuistes en boeke deur evolusioniste geskrywe, wat die evolusieleer kamstig “bewys”. Maar doen ’n mens bietjie nadere ondersoek na julle verwysings, is dit eenvoudig net nog ’n klomp onbewysde aannames van “wetenskaplikes” wat juís hul uiterste bes doen om die verotte karkas van die evolusieleer lewend te hou en om met net nog meer hogere en gevordere (hul noem dit graag die evolueering van die evolusie teorieë en hipotese) idees vorendag te kom – en in dié proses bly hulle nog steeds net waar alle evolusioniste is – bykand 200 jaar in die verlede by hul afgod, Darwin!

    Terloops, jou aanmerking “Evolusie sal ’n feit bly totdat jy wetenskaplik kan bewys dat dat dit nie so is nie. Deur op LitNet te verklaar dat evolusie ’n leuen is, is ongelukkig nie genoeg nie. Dalk moet jy bietjie wyer lees en ophou alles glo wat sonder bewyse aan jou opgedis word” is só ironies, jy sien, die evolusie teorie is NOG NOOIT BEWYS NIE en daarom is dit ’n slegs ’n onbewysde teorie en Nie ’n Feit Nie! Dus, om op LitNet te verklaar dat evolusie ’n feit is, is ongelukkig nie goed genoeg nie. Dalk moet jy bietjie wyer lees en ophou alles glo wat sonder bewyse aan jou opgedis word!

    Kobus,

    Dit is net ’n plesier om jou my broer en vriend in Christus te noem. Ek vind jou skrywes interessant, opbouend en insiggewend – knap gedaan aan jou! Ons weet dat alles gaan oor die Eer en Heerlikheid van God ons Skepper en Vader en Sy Genade en Liefde in en deur Sy Seun, Jesus Christus ons Here!

    Groete en Sterkte

    Dolf

  • Louis Rudolph

    Geagte Brianvds, Cornelius, Thomas, Angus en Chris

    Ek voel so jammer dat ek weer reageer.

    Die aanval en beledigings is gelukkig nie teen my gerig nie, maar eintlik teenoor die Bybel. Ek glo eerder die Bybel wat deur 6 000 jaar nog nooit verkeerd bewys is nie, as wetenskaplikes wat  met leuens probeer om wys te wees. Ek het deur baie jare ook die boeke en webblaaie van evoluste deursoek vir die waarheid en dit nie gevind nie. "Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal jou vrymaak".

    Rom 1:20 -22 "Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;  omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword."

    My enigste vraag nog: was een van julle daar 4.5 000 000 000 jaar gelede toe dit onstaan het volgens julle?

    Niemand kan eers vandag vir ons beskryf hoe die piramides gebou is 4500 jaar gelede nie.

    Louis

  • Louis: Ek vind dit ietwat vreemd dat jy sê die Bybel is in 6 000 jaar nog nie verkeerd bewys nie. Die oudste boeke van die Bybel is nie meer as so 3 000 jaar oud nie. Voor dit het die Bybel nie bestaan nie en was daar geen sin om hom verkeerd te probeer bewys nie. Die Bybel soos ons hom ken is minder as 2 000 jaar gelede deur ’n komitee van Katolieke burokrate aanmekaargeflans.

    Maar dit daar gelaat. Ek het ’n ander vraag: is dit selfs in beginsel moontlik om die Bybel verkeerd te bewys? Indien wel, watter eksperiment of waarneming kan ons in beginsel doen om dit reg te kry? Indien nie, is die Bybel nie wetenskap nie, en dus nie eintlik in konflik met die wetenskap nie. Enige wetenskaplike teorie kan immers in beginsel verkeerd bewys word. 

    Daarom dan ook dat ek dit eienaardig vind dat kreasioniste so hamer op evolusie "wat nog nooit bewys is nie". Heeltemal korrek: geen wetenskaplike teorie word ooit finaal en bo alle moontlike twyfel bewys nie. Nie net evolusie nie – enige ander teorie ook, hetsy gravitasie, atoomteorie, die wette van termodinamika of wat ook al anders. 

    Wetenskaplike teorieë kan nie finaal bewys word nie. Hulle kan net verkeerd bewys word (of bewys word dat hulle onvolledig is). Dit is nie hul swak punt nie. Dit is juis hul sterk punt. 

    Maar ek dink nie jy of Dolf verstaan wat ek van praat nie. 

    En ja, julle is inderdaad besig om magteloos jul vuiste in die lug te swaai. Evolusieteorie word deur die hele wetenskap aanvaar. Dit word deur al die hoofstroomkerke aanvaar. Dit vorm deel van ons skole se leerplanne. Dit word daagliks gebruik om die wêreld om ons te verstaan, om nuwe gewasse te kweek, nuwe antibiotika te ontwikkel, nuwe olie- en steenkoolbronne te ontdek. 

    Jy kan so vies daaroor wees as wat jy wil. Daai pouslike amptenare wat geweier het om deur Galileo se teleskoop te kyk was ook heel vies. Dit het nie gehelp nie. Soos een of ander slimkop opgemerk het, "Reality is that which does not go away when you stop believing in it". 

    Ek dink jou gevoel van bedreiging is onnodig. Jare gelede, toe ek deur Unisa biologie gestudeer het, het ons ons praktiese werk by die destydse PU vir CHO gedoen. Soos jy dalk weet, was Pukke daardie jare nogal ’n bastion van konserwatisme en Christelike geloof. Hulle was so Christelik, sommige van ons klasse is met gebed geopen. (Nogals tot konsternasie van die paar Moslemstudente!)

    En wat het al hierdie uiters Chistelike dosente gedink van kreasioniste? Ek het hulle daaroor uitgevra. Hulle was van mening dat kreasioniste óf totaal onopgevoed is, óf stapelgek. Niks in plantkunde of dierkunde maak enige sin sonder evolusieteorie nie. Aldus diep gelowige wetenskaplikes. Ek dink julle verstaan straks bloot nie teorie wat julle julself aanmatig om te kritiseer nie.

    Soos Richard Dawkins gesê het, ek moet nog iemand ontmoet wat evolusie beide verstaan en verwerp. Ek dink dit is dalk juis waarom julle weier om enige van die bronne waarna ek verwys te gaan lees – netnou verstaan julle dalk die hele ding, en dan volg daar onvermydellik ’n geloofskrisis! 

  • Louis: In al die opwinding het ek nou skoon vergeet om op jou vraag te reageer. 

    Jy wil weet, en ek haal aan: "My enigste vraag nog: was een van julle daar 4.5 000 000 000 jaar gelede toe dit onstaan het volgens julle?" 

    - Uiteraard nie, maar ek vind jou vraag eienaardig, om twee redes.

    Die een rede is dat as jou geïmpliseerde argument geldig is, naamlik dat mens ’n ding direk met jou eie oë moet sien voor jy enige vertroue kan hê dat hy werklik is, dan is dit net sulke slegte nuus vir jou, wat seker nie in die Tuin van Eden teenwoordig was nie. Mens wonder dan waarom jy so absoluut oortuig is dat die storie waar is. Volgens jou eie argument is Genesis heeltemal belaglik.

    Die tweede rede is dat ek dit moeilik vind om te glo dat jy werklik so naïef is om daardie argument te aanvaar. Was speurder Piet Byleveld teenwoordig toe Leigh Matthews vermoor is? Indien nie, hoekom was hy dan so oortuig dat hy die skuldige opgespoor het, en waarom het die hof sy argumente aanvaar en die skuldige tronk toe gestuur? 

    Verwerp jy forensiese wetenskap ook? Indien wel leef jy in ’n uiters bisarre heelal. Indien nie, waarom verwerp jy dan vakgebiede soos geologie, astrofisika, paleontologie en so aan, wat werk op presies dieselfde beginsels waarop forensiese wetenskap berus? 

    Ek verstaan daai een nie al te lekker nie...

  • Ek geniet so die wanopvattinge van gelowige. Ek wonder of  Louis et al genoeg respek het vir Darwin om minstens sy meesterswerk(e) te lees? Ek het baie bybels (insluitend die geskrifte van ander gelowe) gelees en teologiese ontledings deur wêreldkenners, (Bv Karen Armstrong (google haar gerus)). Ek kan dit onomwonde stel dat alle gode mensgemaak is (sowat 2800 sedert Summeriese tye). Kyk ook wat sê Biskop Shelby Spong ... Die enigste verskil Louis, tussen jou en ons ateïste, humaniste en agnostiese kommentaarmakers is dat jy in een meer god glo as ons. 

    Mbt evolusie: dis ’n teorie net soos swaartekrag ’n teorie is ... nie ’n geloof nie. Geloof is slegs nodig as jy onseker is van jou saak of jy nie oor feite beskik nie. Feite het nie geloof nodig nie. Dis julle reg om te glo wat julle wil ... net so is dit ons reg om julle jul dwalinge uit te wys. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top