"Eucharistie" deur Patricia van Jaarsveld

  • 0

Eucharistie

’n Druïde voorspel van bagasie binne my
nomadiese bestaan, ek anker my skip met
bloedrooiseile aan die kus vannie Kaap.

Ek gee in blommeweelde blootsvoet en sommerso
in heemtaal aan jou as ankergeld binne ons
kleine Hantam tussen Calvinia en Nieuwoudtville.

Hier hang ek my hart aan lyn van jou wingerdsoes
binne die koue Bokkeveld sondiens soos dié van
’n rosekruiser en lid van ’n geheime orde.

Op ’n riempiesbank met die sonnedou los ek in
sukkelvers met nog ’n pietsie van my liefde op
rimpelpapier – die vraag het jy lekker geslaap?

Binne ’n rosyntjiebos en roserooi dra my soen in
nostalgie op die klank van die raasbessie in
die wind ’n totsiens met ’n later se hallo.

In rooieshout en rietebos se rieswariewas op
rokeskrif soen ek jou lippe teen myne vas.

En so sê ons met die klink van die karba’tjie
nag aan onse Rôeveld, vir nou!

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top