Etienne Leroux se Die 18-44-trilogie bied veelvlakkige waarde

  • 1

Titel: Die 18-44-trilogie
Outeur:
Etienne Leroux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798149587
Bladsye: 304
Klik hier om Die 18-44-trilogie nou van kalahari.net te bestel!

Etienne Leroux is een van die reuse van die Afrikaanse letterkunde. Saam met Jan Rabie en André Brink het hy vanaf die vyftigerjare van die vorige eeu vernuwing gebring in die Afrikaanse prosa en dit op ’n internasionale peil geplaas soos aangedui deur die sukses wat vertalings van sy werk behaal het. Daarby bly die allure van die Koffiefonteinse boer wat bedags toesig gehou het oor ’n uitgebreide boerdery en snags sy verstommende romans geskryf, enig in die Afrikaanse letterkunde. Met die verskyning van Kannemeyer se biografie oor hom het die belangstelling in sy persoon en sy werk opnuut opgevlam, iets wat waarskynlik bygedra het tot Human & Rousseau se besluit om vanjaar Die 18-44-trilogie uit te gee.

Dit is ’n interessante eienskap van die eerste deel van Leroux se oeuvre dat sy romans in trilogieë gerangskik kan word. Sy eerste drie romans, Die eerste lewe van Colet (1955), Hilaria (1957) en Die mugu (1959) is in 1986 deur HAUM-Literêr uitgegee as Die eerste siklus. Die volgende drie romans, Sewe dae by die Silbersteins (1962), Een vir Azazel (1964) en Die derde oog (1966) is in 2006 deur Leroux se eertydse uitgewer Human & Rousseau uitgegee as die Die Silberstein-trilogie. Die 18-44-trilogie, wat vroeër vanjaar ook deur Human & Rousseau uitgegee is, bestaan uit die romans 18-44 (1967), Isis Isis Isis ... (1969) en Na’va (1972). In Die eerste siklus word daar ’n verantwoording gegee van die strategie wat gevolg is met die versorging van die heruitgawe van Leroux se eerste drie romans. Hierteenoor word daar in hierdie uitgawe van Die 18-44-trilogie niks gesê daaroor nie. In lande waar ’n sterk tradisie van teksversorging bestaan, sou ’n belangrike skrywer soos Leroux se werk waarskynlik met ’n duidelike uiteensetting van die teksversorgingstrategie verskyn het. Dit lyk asof die teks van vorige uitgawes met foute en al gevolg is (ek onthou dat WEG Louw ons indertyd as studente vertel het hoe gesteur hy was deur die gebruik van die woord pikaresk wanneer daar eintlik pittoresk bedoel word en dié fout is nog steeds daar).

Tog is dit een en al ’n plesier om Die 18-44-trilogie in jou hande te hou, alhoewel ek moet bely dat die voorblad van hierdie uitgawe my nie naasteby dieselfde opwinding besorg het as die buiteblad-ontwerpe van die laat sestigerjare nie (elkeen van daardie ou hardeband-uitgawes het my in die vroeë sewentigerjare R3,75 gekos). Die drie romans van Die Silberstein-trilogie word algemeen as die hoogtepunt van Leroux se werk beskou word, sodat daar tot dusver minder waarde geheg is aan die drie romans van Die 18-44-trilogie. Tog kan die belangrikheid van hierdie drie romans in Leroux se oeuvre en die Afrikaanse letterkunde nie genoeg erken word nie.

Die waarde daarvan lê op verskillende vlakke. Die romans in hierdie trilogie (veral 18-44 en Na’va) het, net soos André Brink se roman Lobola vir die lewe van 1962, nuwe strukturele moontlikhede vir die Afrikaanse roman ontgin. Die trilogie wat ’n knolskrywer as sentrale karakter en waarnemer het, was ook een van die eerste verkennings in die Afrikaanse prosa van dit wat bekend staan as metafiksie (die naam vir tekste waarin ’n skrywer besin oor die skryfproses en vertel hoe hy skryf). Alhoewel dit aanvanklik lyk asof die knolskrywer slegs gemoeid is met sy eie “psigiese onwelheid”, is dit reeds vanaf 18-44 duidelik dat hy juis as skrywer gemoeid is met die groter probleem van ’n wêreld waarin mites en simbole hulle sin verloor het. Stilisties het hierdie drie romans vernuwing in die Afrikaanse prosa gebring: die skryfstyl is ’n mengsel van speelsheid, elegante ironie en erns. Ook inhoudelik het hierdie drie romans die greep van die Afrikaanse letterkunde uitgebrei: in die poging om die knolskrywer se drif na Jungiaanse individuasie, psigiese heling en versoening te demonstreer, word ’n magtige spektrum van verwysingsvelde betrek. Hiermee het Leroux hom destyds verwyte van onnodige obskuriteit op die hals gehaal, maar ook patrone neergelê vir latere skrywers wat eweneens die Tarot, die alchemie, die Joods Kabbalistiek en die Hindoeïstiese mitologie sou gebruik. Verder het Leroux ook met die skadeloosstellings voor in die romans die spel op en rondom die grens tussen outobiografiese feit en fiksie, wat veral in die tagtiger- en negentigerjare deur skrywers soos Koos Prinsloo op die spits gedryf is, aan die gang gesit. In 18-44 lui dit byvoorbeeld: “In hierdie boek is al die karakters denkbeeldig, die eerste persoon is nie die skrywer nie, die Rus is nie die Rus nie, die park is nie die park in Oranjezicht nie, X is nie I nie. Walkures bestaan nie, ek het nie ’n teringmaer tante nie, maar die filosofie is nagepraat.” Teen hierdie tyd is dit ’n bekende feit dat 18-44 gedeeltelik gebaseer is op ’n werklike briewewisseling tussen Leroux en Ingrid Winterbach, wat sedertdien self ’n gerekende romanskrywer geword het.

18-44 is ’n boeiende spel met die getalle 18, die ouderdom van die kunsstudent wat begin om aan die knolskrywer briewe te skryf, en 44, die ouderdom van die knolskrywer wat homself as troosteloos middeljarig beskou. Dit is veral die getal 4 wat belangrik is en struktureel ontgin word omdat dit sinspeel op Jung se verwysing na die vier psigologiese funksies (sensasie, gevoel, denke en intuïsie) wat geïntegreer moet word in elke individu voordat hy of sy psigiese heelwording kan ervaar. Hierdie psigologiese funksie vind ook neerslag in verskillende persoonlikheidstipes wat in die geval van die knolskrywer op verskillende maniere verwesenlik word in die vier vroue in sy lewe: sy teringmaer tante wat hom ingelei het in die geheime van die lewe; sy dowe, mank, manies-depressiewe vrou met wie hy ’n steriele huwelikslewe beleef; die Rus met wie hy ’n verhouding het; en die onbekende mej X wat vir hom briewe skryf. Elkeen van die roman se hoofstukke sentreer rondom die een of ander bewerking van ’n bepaalde tema wat met die getal vier verband hou. Die einde van die roman bring ook ’n wending in die verhouding met elk van die vier vroue in die knol se lewe. Die uiteindelike klimaks van die roman is geleë in die feit dat mej X 19 en die knolskrywer 45 word en dat die jaar 1844, wat onbeduidend was in die wêreldgeskiedenis, vervang word met 1945, wat met die einde van die Tweede Wêreldoorlog die begin van ’n nuwe era in die wêreldgeskiedenis ingelui het. Leroux gebruik deurgaans in hierdie trilogie die Jungiaanse sielkunde as basisgegewe, maar slaag daarin om deur sy kreatiewe vermoë die beperkinge daarvan te ontstyg. Die roman is ’n liriese weergawe van ’n psigologiese proses wat hom in die loop van die roman uitspeel sonder dat daar noodwendig ’n afsluiting of oplossing kom.

Die titel van die tweede roman in die siklus, Isis Isis Isis ..., dui reeds aan dat Leroux hier gebruik maak van die Egiptiese mite waarvolgens die god van die doderyk, Osiris, deur sy broer Set in 14 stukke opgekap is en weer deur die vrugbaarheidsgodin Isis aanmekaar gesit is nadat sy al die stukke behalwe die fallus gevind het. In Leroux se roman waan die knolskrywer homself in die rol van die verkapte Osiris en gaan soek hy self na Isis wat sy gefragmenteerde self byeen sal bring en op dié manier psigiese heling sal bewerkstellig. Hy gaan dus op ’n reis deur Europa waartydens hy aan enigiemand wat wil luister, die verhaal van Isis vertel, met detail wat hy onder andere uit Larousse se ensiklopedie van mitologie haal. Ten spyte van die feit dat die knolskrywer wel op sy reis 14 verskillende vroue raakloop wat die rol van Isis sou kon speel, en ook in kontak kom met ander Jungiaanse argetipes soos ’n reusagtige Neger en ’n dwerg, is sy soektog nie heeltemal suksesvol nie. Die roman gee ook ’n beeld van die politieke onrus van die laat sestigerjare in Europa, maar verbind dit ook deurentyd aan die kontemporêre Suid-Afrika.

In die derde roman van die trilogie, Na’va (die mees onderskatte van Leroux se romans), vertel die knolskrywer van die begrafnisfees van sy neef Georgie wat selfmoord gepleeg het deur homself met ’n Greener-haelgeweer dood te skiet. Die knolskrywer se soektog na redes vir Georgie se selfmoord word ingebed in die meer omvattende soektog na antwoorde op die probleme van ’n mensdom wat worstel met ’n gebrek aan sin en waardes. Struktureel gesproke is hierdie roman die hoogtepunt in die siklus: in aansluiting by die Hindoeïstiese verwysingsveld wat in die roman gebruik word, het die roman die struktuur van ’n mandala wat binne die Oosterse denke onder andere gesien word as ’n fokuspunt vir die kontemplasie waardeur insig verwerf kan word. Georgie se begrafnisfees word, net soos die partytjies in Sewe dae by die Silbersteins, ’n geleentheid waardeur ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing en karakters uit die Leroux-oeuvre aangebied kan word. Die romantitel kom uit die Hooglied-frase sjichorani ve na’va wat handel oor die Sulammitiese vrou en vertaal word as “ek is bruingebrand maar lieflik”, sodat daar vroeg reeds ’n aanduiding is dat hierdie roman ’n lieflike einde sal hê, in die sin dat die individuasieproses hier ’n soort afronding sal bereik.

Daar is twee maniere waarop mense hierdie trilogie sal lees: vir sommige sal dit ’n herlesing en vir ander ’n eerste lees wees. Barthes het geskryf dat die vreugde van herlees lê in die feit dat die teks tegelykertyd dieselfde en nuut kan wees. Dit is presies wat ek met my eie herlees van hierdie trilogie ervaar het: aan die een kant kon ek iets van dieselfde opwinding by die kennismaking met ’n gesofistikeerde perspektief op die wêreld ervaar; aan die ander kant was my lees gekleur deur dit wat ek sedertdien ervaar het en geleer het. Ten spyte hiervan is ek tog ’n bietjie afgunstig op lesers vir wie die heerlike avontuur van ’n eerste ontmoeting met Leroux se knolskrywer nog voorlê.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top