Estetika op die oog af

  • 1

’n Kollega van my het ’n ruk gelede haar doktoraal voltooi. Dit handel oor aantreklikheid – iets oor estetika. Ek het gedink ek weet wat dit is, maar dit later gaan opkyk, net om seker te maak. Wikipedia verduidelik dat dit te make het met ’n filosofiese beskouing wat betrekking het op die aard van kuns en skoonheid en smaak.

My medeskrywer en ek het onlangs gesels oor mooiheid en bril dra. Dit ís nou maar so, was my mening, dat party mense net mooier is mét ’n bril.

Wanneer is iemand mooi? het ek en sy toe bedink. Daardie “eye of the beholder”-ding is só afgesaag, het ek gedink toe ek haar toets oor ’n konsep wat ’n ruk gelede by my opgekom het: “Watter akteur is vir jou die mees aantreklike?” het ek haar gevra. Toe sy ’n rukkie neem om op ’n naam te kom, het ek haar in die gedagte geval: “Wat is daardie man se naam, mens, die een van die koffie?” “Ooo, jaa... George... Uhm... Clooney. George Clooney, ja! Hy ís nogal aantreklik,” was haar reaksie.

In plaas daarvan om die gewone 1 uit 10-telling-opsie vir haar te gee, het ek dit bietjie meer interessant gemaak en ’n telling uit 150 gegee. “OK, ja... Sê so 120 uit 150,” het sy reageer. “En vroue?” wou ek weet. Weer was daar ’n kort stilte. “Vrou, die aktrise wat gespeel het in daai fliek in die Egiptiese grafkelder-piramide-ding?” “Uhm... Ja, Jolie, Angelina Jolie.” “Sy’s nie vir my só mooi nie; ek gee haar ’n 140 uit 150.” “So, dan stem jy dat sommige mense aanvallig is vir ’n groter groep as ander en dat een spesifieke individu vir 20% van mense aantreklik is, terwyl ’n ander vir 140 uit 150 mense aantreklik is? Ek wonder of mens hier sou kon praat van ’n bekoorlikheidsfaktor-kategorie?” Weer gaan ons akkoord.

Op ’n dag, in gesprek met ’n vriendin, vertel sy dat sy van jongs af ’n bril moes dra en hoedat dit ’n negatiewe invloed op haar selfbeeld gehad het. Sy onthou dat sy altyd haar bril afgehaal het vóór ’n foto. As tiener was kontaklense baie gewild onder haar maats en baie het lense verkies bó ’n bril en die “lekker vier ogies”-spottery het nie veel bygedra tot ’n goeie selfbeeld in hierdie sensitiewe lewenstadium nie. Ook vertel sy van die teleurstellende beperkings wat bril dra op sekere aktiwiteite gehad het...

Hoe ’n mens skoonheid verklaar is waarskynlik iets waaroor mense oor eeue heen bespiegel het. Een van die eenvoudigste verklarings was dat die essensie van skoonheid geleë is in simmetrie: Wanneer daar gebalanseerde simmetriese verhoudings is in die voorkoms van iets of iemand, dan is hy/sy/dit vir mens mooi, het ek hardop gedink.“Dit kán wees,” was haar reaksie. Dis hiér waar die dra van ’n bril ’n belangrike rol speel, het ons besluit.

Wat is dit van ’n bril wat mens mooi maak? was een van my destydse gedagtes oor bril dra en in die besonder het ek dit toé as volg bedink:

  • Dit dra by tot ’n simmetriese balans en kan dié balans voltooi;
  • dit gee voortdurend skadu’s en diepte wat sekere gelaatstrekke beklemtoon;
  • dit beklemtoon mens se mees funksionele, besigste en belangrikste bate (jou oë); en
  • jou bril konsolideer jou voorkoms, herkenbaarheid en hiermee saam jou interaksie met ander.

Mens kan jou skaars indink aan Sarah Palin sonder ’n bril. Hierbenewens identifiseer en vereenselwig aanhangers en bewonderaars hulle met dié voorkoms en sou hulle moontlik verkies dat dit so bly, het ons ingestem.

Nana Mouskouri se brilstyl het redelik konstant gebly oor die jare, terwyl Sarah Palin (met selfvertroue) dikwels verskillende rame dra. Die feit bly egter dat albei ’n bril met styl en selfvertroue dra.

Jou keuse van ’n bril kan verskeie eienskappe van jou persoonlikheid, aspirasies en selfs waardes reflekteer. Die interpretasie van dié boodskap lê in die persepsie, waardesisteem en lewenservaring van die aanskouer en dís waarom die keuse van ’n raam so belangrik is.

Brilmodelle is feitlik deur die bank mooi mense. Dit maak die keuse van ’n raam nóg moeiliker, “want,” sê my kollega, “jy aanvaar dat jy nes daai spesifieke model lyk”. “Dis nie noodwendig akkuraat nie en buitendien, geen twee mense lyk presies eenders nie,” voeg sy by.

’n Reël wat mens miskien moét oorweeg is die “ek hou van haar [oogskadu, lipstiffie, ensovoorts]” een: Om jou grimeerkeuses te baseer op dié van verskillende modelle, kan chaos tot gevolg hê. Dink maar: Jy maak jou lippe soos Angelina Jolie s’n, jou wangbene soos Keira Knightley s’n en jou oogskadu soos dié van Nicole Richie, net omdat jy van dié style hou, terwyl jou gesigvorm en haarkleur heeltemal van hulle s’n verskil.

Om jou eie gesigstruktuur, oogkleur en ander relevante faktore (uitrusting, byvoorbeeld) in aanmerking te bring by die keuse van ’n raam is belangrik.

Benewens dat jou bril jou verruklik kan laat lyk, kan dit vir die betragter iets sê oor jou:

  • kunssinnigheid
  • smaak
  • lewensbeskouing
  • houdings
  • persepsies
  • jou waardes
  • jou persoonlikheid

Daar’s mense wat gek is na iemand wat bril dra, glo ek. “Hoekom is dit so?” het ek en my kollega gespekuleer. “Daar’s waarskynlik ’n magdom redes, maar van hulle lê waarskynlik in die voorkomskomplementerende funksie vir party en ’n assosiasiefaktor by ander.”

Bril dra kan ’n mens se selfvertroue verhoog. “Sonder jou bril, sal jy merendeels meer selfbewus en broos voel,” sê ek en dink, “mens se keuse van ’n bril kan verskeie eienskappe van jou persoonlikheid, aspirasies en lewensfilosofieë reflekteer, daarvan is ek oortuig.” Mens moet onthou die boodskap wat jou bril uitdra, lê in die persepsie, waardesisteem en lewenservarings van die aanskouer, besluit ons, wat ons by die volgende punt bring: “Die kuns en vaardigheid van die brilontwerper en -maker speel ’n belangrike rol in die stimuluspotensiaal van jou raamstyl.”

’n Bril moet ’n stelling maak, maar nié een leen nie, tensy dit jou behoefte is.

Jy het al dalk op ’n keer terugvoer gekry soos: “Haai, jy lyk nes...” Wees versigtig vir dié soort kompliment, want elke mens se persepsie oor voorkomste verskil en hoef nie noodwendig geldig te wees nie. “Hou sulke opmerkings egter in gedagte, en gebruik dit op ’n subtiele en positiewe manier tot jou voordeel, waar jy kan,” het sy vir my geknik en grond toe gekyk.

’n Mens voel altyd beter as iemand jou ’n raam help kies. Daar is ’n rede hiervoor. Wees rustig wanneer jy die keuse maak. As jy kan, doen dit saam met jou optometris of ’n kenner (baie van hulle weet van gesigvorm-brilraam-kombinasies wat mooi voorbeelde gee van die soort raam wat by jou gesig pas).

Dra jou bril elke dag met selfvertroue, projekteer én lééf jou styl.

William Somers en Esther Lombardus

  • 1

Kommentaar

  • Baie goed en openhartig geskryf.
    Ek hou GLAD nie van bril dra nie, alhoewel ek van 12-jarige ouderdom moes BRIL, was ek altyd skaam om so gesien te word.
    Ek haal my hoed af vir brildraers en dit lyk soooo mooi en cool op ander, maar nie vir myself nie!
    Well done, julle!
    Baie COOL

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top