Ernst op RSG oor Stilte

  • 2

Na aanleiding van Ernst (ek het sy van gemis?) se reaksie vanoggend (Dinsdagoggend) op RSG rakende Leon van Nierop se telling van 3 uit 10 vir Stilte.

Ernst: ek het Stilte Saterdag gaan sien. Na my mening het Leon julle ’n guns gedoen met so hoë telling. Die storie was só voorspelbaar. En wat was fout met die hoofkarakter? Het julle haar later her-opgeneem? Want dit het deurentyd vir my gelyk asof die klank en haar lippe nie bymekaar uitkom nie. En ek bedoel nie net met die sangtoneel aan die begin van die fliek nie. Ek bedoel HEELTYD! Die gebruik van (ek vermoed) plaaslike inwoners, soos die ou tannie en die pastoor, was ’n dierbare idee, maar ai! Die dialoog was rukkerig, inteendeel het die hele fliek in geen stadium vir my “gevloei” nie. Chris de Clerque se karakter was heeltemal te stroperig en heeltemal te goed om waar te wees. Chante Hinds het die fliek in ’n mate vir my gered.

Ernst se uitlating dat die fliek vir “mense wat na RSG luister” gemaak is, verstaan ek glad nie. Bedoel hy RSG-luisteraars behoort tevrede te wees met ’n vervelige fliek, swak toneelspel, ongeloofwaardige karakters en swak verfilming? Of bedoel hy RSG-luisteraars is breindood Christene wat enige sedelessie in enige formaat sal opslurp?

Wat Wolwedans aanbetref: Ernst, gaan kyk dit. Ongelooflike akteurs, boeiende storielyn (al ken ons almal die storie). Vernuftige kamerawerk. My enigste kritiek is dat die akteur wat Ryno gespeel het, totaal verkeerd vir die rol was. In my kop sien ek iemand soos Sean Else in hierdie rol van die hartebreker.

My bydrae.

Groete,

Jana

  • 2

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Dit is nou maar die reaksie wat mens kan verwag van mense wat die Spirituele tema van die fliek en die waarde wat dit vir baie erg getraumatiseerde mense kan inhou, nie kan hanteer nie – dan maak jy soos Leon van Nierop en Jana hierbo.

    Mense wat 'ongemaklik' voel met spiritualiteit, sal maar so optree – maar daar is massas wat sal baat vind daarby. Ek dink dit is veral hierdie aspek wat deur die bemarkers gepromoveer moet word, veral op RSG en die algemene media. Daar is so baie mense wat die soort van dieper, beter tema nodig het en mee kan identifiseer, en veral hoe dit uitspeel.

    Dus, as daar geldige kritiek teen die fliek is, is dit bloot dat die fliek nie na behore bemark word, nie. Wat bemarking aanbetref, kan dit nie kers vashou met Wolwedans, nie. Ernst se oproep RSG toe was ’n fout – hy het niks om te verdedig, nie. Hy moet ook nie vir van Nierop daaroor toetakel, nie. Hy moet liefs konsentreer om die sterk punte van sy fliek – die hele fliek is ’n sterk punt – beter te bemark.

    Daar is baie stilte in die fliek, en dit is juis so treffend. Daar is ’n diep, ongemaklike letsel wat die sentrale tema van die hoofkarakter vorm. Daar is stilte om die intensiteit daarvan te beklemtoon.

    Anton Ernst as produksieleier behoort trots te wees op die produksie. Die tegniese haakplekke is eerder voor die deur van Darrel Roodt, die regisseur, maar dit is nie waaroor die fliek gaan, nie.

    Dit is sinneloos om Wolwedans met Stilte te vergelyk. Dit is soos om appels met aartappels te vergelyk. Wolwedans is ’n lekker fliek, maar niks onderskei dit van jou tipiese lae begroting Hollywood fliek, nie, want dit het ’n oppervlakkige en paranormale cliché storielyn wat holrug gery is in Hollywood en elders en trek hoofsaaklik die bier-en-braaivleis tipe gehoor wat hou van hulle flieks en musiek so oppervlakkig as moontlik en ry swaar op die rug van die feit dat dit ook ’n radio storie is en destyds op Springbok radio uitgesaai, is. Stilte se storielyn is ook identifiseerbaar, maar ’n storielyn vir mense wat instaat is om die ware kwessies van die lewe kan waardeer en insien. Jou oppervlakkige kyker sal daarom dus 'verveeld' raak. Nie jou meelewende kyker, nie.

    Kobus de Klerk

  • Het uiteindelik tyd gekry om te gaan kyk. Het gewonder waaroor die polemiek gaan. 'Stlte' is gewoon ’n swak rolprent. Kan nie dink dat iemand wat kwaliteit ken, dit kan verdedig nie. Dit val in die kategorie van 20 jaar gelede se kwaliteit van Afrikaanse rolprente. As mens byvoorbeeld 'Die Wonderwerker' hiermee vergelyk. Absoluut twee kategorieë. Ek stem nie saam met Leon van Nierop se 3 nie – moes eerder 1.5 gewees het. Spyt ek het my tyd gemors. Goeie boodskap – swak oorgedra.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top