Ernesta

  • 3

Sou jy van bo kon afkyk, sou dit net ’n blokkie grou wees wat blink. Merrimanlaan 40, die grys gewelhuisie met die sinkdak en Keltiese kruis teen die nok. Dit kon sowaar ’n kerkie gewees het wat agter die bougainvilleaheining en silwer verroeste hek vasskop teen die wind en reën. Dan, regs van die voordeur met die houtraam waarvan die verf vir hoe lank nou al in krulle uitslaan, die lugtige kamer gestroop van natuurlike lig.

Sysag teen die houtplafon. Ligter as ’n donsveer wat sigsag aarde toe dwarrel. So ’n veertjie het darem nog gewig wat dit aarde toe sal bring. Om skielik sonder enige swaarte af te kyk, is duiselingwekkend.

Eensklaps die paniek wat op ’n onthutsende manier posvat, want ek besef ek is geskei van my lyf wat onder die duvet lê. Ek word bewus van my pogings om terug te keer deur ’n kolkende stralekrans bokant my kop. Nog nie eens ’n volle twee dekades in hierdie vel nie en nou sukkel-sukkel ek deur ’n spiraal. ’n Stroom water wat skielik met ’n té groot tregter deur ’n strooitjie moet vloei. Is dit die einde? ’n Droom is dit nie.

Die lig is opgedam in ’n gesandblaaste koepel wat soos ’n slaaibak teen die plafon omgekeer is. Drie goue blare – of is dit vlerkies? – seël dit teen die wit. Dit is dag. Hoekom sou hy die lig aangeskakel het?

My linkerheup is klam en taai. Met die omdraai en been strek word ek swaarder op die matras. Hier lê ek en die lig is ver buite my bereik.

Dit is sy oorskulp wat onder my linkerbors nestel. ’n Vlesige stetoskoop, darem warm. Hy kan waarskynlik hoor hoe beur my longe teen my ribbekas vir nog. Nuwe lewe knetter deur my sinapse na vroeër se sweetsalvo’s en my gutturale krete.

“Ek wil nie sê dit was lekker nie.” My lompheid om ’n klank te vind wat by die meetrilling van ons lywe pas, maak my weer kind.

“Jy beter nie. Ek ken jou nie as iemand wat kortpaaie kies nie.” ’n Mens sou sweer hierdie man is langer as die afgelope vyf seisoene in my lewe.

“Jou asemteue kielie my oksel. Skuif bietjie af.”

Simeon skuur met sy stoppels oor my tintelende vel. Net ’n aks. Geen verskil nie. Die tinteling verdiep en versprei.

“Watter idioot het nou weer die woord ‘oksel’ uitgedink? Hoekom kon ‘armput’ nie deug nie? Dis tog die arm se put, as jy dit heel letterlik wou vasvat.”

“Dis een van die warmste plekke op die liggaam. As ek nog my Latyn reg onthou, is dit ‘axilla’. Nou is dit sommer net ‘kieliebak’. Jy krap nie in my slaai nie, jy kielie my bak.” Ek vlym my tong; daar is weer beheer. ’n Speelse beheer.

Die lagbui bons teen my buik.

“Dis soos ‘fyndraai’ vir ‘orgasme’. Om te draai, ’n driepuntdraai met ’n motor, is ’n maneuver. Dit verg konsentrasie en inspanning. Wat is orgasmies daaraan?”

“Wel, daar is wetenskaplikes wat mos toe die saak gaan bekyk het en dit as iets anders as net plesier beskryf het. Hulle noem dit ‘kleindood’ of ‘la petite mort’. Met elke orgasme sterf jy stadig. Of jy sterf en word hergebore. Die orgasme is eers so 135, of is dit nou 140 jaar gelede vir die eerste keer beskryf en benoem. En tog, ’n paar honderd jaar voor dit het hulle geweet van hierdie floute wat deur lekkerkry veroorsaak word. Jy verloor letterlik jou bewussyn as jy kom.”

“Voel dit vir jou so?”

“Soos dood? Of ’n floute?”

Simeon se voorkop frons bo-oor my middellyf. Die fyn fladdering is steeds daar en die slaaibak teen die plafon leeg. My dam loop oor.

“Ek weet nie. Dit voel eerder soos die Bybelse Lasarus wat opstaan en ’n klip voor die graf wegrol. Lewe.”

“Dit verras my dat jy nie jouself kasty nie. Getroud, tesame met die ander geykte g-woord en jy vind dit gemaklik om hier, terwyl jou man by die werk is ... En ek wil steeds nie sy naam weet nie. Hoe minder ek weet ...”

“Die g-woord? Jy bedoel ’n gelukkige huwelik, wat net so vlietend kan wees soos die fyndraaitjie van vroeër? Kastyding het my nog nooit gefassineer nie. Ek begryp steeds nie hoe mense plesier en pyn met mekaar kan verwar nie.”

“Daar doen jy dit weer. Ernesta … enigma. Om jou te ontrafel, sal meer as ’n leeftyd duur. Dis bitter min dat iemand my so aanhoudend sprakeloos laat.”

“Dan is dit goed so. Om te probeer sin maak, is ’n las. ‘Sinnelose geweld’ is tog so ’n cliché, maar die teenpool is ‘sinnelose pret’. En ek gaan nie ‘lekker’ of ‘dankie’ sê nie. Laasgenoemde het jy reeds gevoel en gehoor. Skakel net asseblief die daklig af. Hierdie is ’n bed en jy is nie ’n sjirurg nie.”

Dít het ek my nie verbeel nie. Ek het dit doelbewus gedroom, soos baie ander dinge. Dit was op ’n klein skaal ’n poging om gebeure te boetseer.

Mans score. Kry wat hulle wil hê. Druk in. Kom.

Ek was op pad, maar wou ook ’n doel aanteken. ’n Punt. ’n Enkele punt op die regte plek plaas soos ’n skrywer wat die ruspunt in sy skepping vind. Die doel was om ’n sinvolle slot te skep vir hierdie spel van die sinne. En ek het dit begin visualiseer. Of gedroom?

My as was reeds in die erdekruik op die eetkamertafel en Tertius wou alleen wees en die soveelste voorgeskrewe glas vonkelwyn drink. Hy moes. Dit was alles uiteengesit in die brief wat hy saam met die musiek moes lees. Ek het Leon Bridges se “River” gekies.

Oh, I wanna come near and give ya
Every part of me
But there is blood on my hands
And my lips aren’t clean …

Van daardie hiperaktiewe New Age-ghoeroes en deesdae selfs sportafrigters sê jy moet jou drome en doelwitte op papier kry. Droom, ja, maar kyk dan daarna, hier voor jou, op ’n vel papier. Ek kon die nou reeds voorspelbare “Spiegel im Spiegel” van Arvo Pärt ook gekies het, maar soos ’n begeesterde skepper het ek met woorde iets gekomponeer.

Dit was ná die drankwinkelbesoek dat Tertius toevallig vir Simeon na sy motor sien stap het. Dié Simeon.

Ek het gedetailleerd geskryf hoeveel bottels vonkelwyn en hoe gereeld en al glo hy nie en al is dit hoe bisar, moes hy dit as ’n ritueel aanpak. Daar is iets boaards aan rituele en herhaling – wanneer jy iets sonder denke of nadenke oor en oor doen, naderhand sonder dat jy eens weet wat jy doen of waarom jy dit doen. Of behoort te doen. Dalk gebeur dit dat jy van buite af binnetoe kyk. Tertius, ja, dat Tertius afstand sou kon kry en van buite af kon kyk, verby die wasem op die ruite.

Toe besluit ek boonop op vonkelwyn. Hoe boaards kan dít nou wees?

Tertius het nader gehardloop en teen die venster gehamer, dalk te dringend. Simeon oorbluf en geïrriteerd.

Tertius het my verras. Ek was nie meer daar om self ’n hand te lig en oor my lippe te veeg nie.

“Hierdie is vir jou. Om dankie te sê. Dit is van albei van ons …” In ’n breukdeel van ’n sekonde het hy die gaping gesien. En toe vloei dit.

“Ek het geen idee wie jy is nie. Ek dink jy verwar my met iemand anders.” Bruusk, en te verstane, want hy is onkant betrap.

“Nee, ek is seker. Jy is Simeon Tredoux. Ernesta het eers na haar dood besonderhede oor jou verskaf en dis sy wat my gevra het om dit te doen. Dit is uit blote dankbaarheid.”

Simeon. Sprakeloos.

Tertius is oorhaastig, struikel oor die konteks. As dit ’n skildery was, sou ek waterverf verkies het. Of miskien pastelle. Sagter, sagter, sagter. Weer eens ek wat nie in beheer is nie. Vermoedelik gebeur dit ook met mans wat wil score.

Daar sit Simeon, darem nie met sy broek op sy enkels nie. Al is hy nou in die bedompige ruimte van sy motor betrap. Skaamte. Die Engelse “shame” resoneer tog soveel dieper as “skande” of “skuld”.

“Jy weet van ons? ’Skuus, hét geweet?”

“Ek het haar gesmeek om jou te besoek, ja. Dit was my geskenk aan haar. ’n Laaste teug lewe voor die groot put haar insluk ...”

Daar sit Johan. KVS. Konteks, Tertius.

“Geskenk?”

“Wat kan jy dan nog gee? Wat bly oor? As die pynstillers en chemo nie meer enige hoop bring nie.”

“Ek begryp nie.”

“Ons was albei magteloos. Ek is impotent, maar ek het gereken as sy elders nog ... vir oulaas ...”

Ek het geweet ek sou op ’n stadium nie die weg terug vind nie. Dat my lyf en siel of gees of wat jy hierdie ook al noem, nie sy tuiste sou kon terugneem nie. Die houtplafon-nagmerrie was ’n angs wat ek in geen handboek kon naspeur nie. Dit was steeds ’n geskenk. Die wete dat jy met elke kleindood nader kom. Kom, soos orgasme, ja.

Tertius wou gereeld my beskrywing daarvan hoor. Dit het hom op ’n dit-kan-tog-nie-waar-wees-nie-manier gefassineer. Naderhand kon ek dit roboties vertel sonder dat die keeltoetreksensasie my verlam. Die kamer regs van die voordeur was soos ’n laboratoriumglaskas en die wals tussen lewe en dood het van die plafon en mure gebons.

“Hoe meer jy tuiskom in jou lyf, hoe beter, Ernesta. Miskien is jou liggaam net ’n tydelike gasvrou en jy wil nie oorhaastig vertrek nie. Geniet dit, gebruik dit, weet … ek klink nou soos iemand wat in sakramente glo. Of genade. Ag, jy weet wat ek bedoel.”

Nooit het ek hom bedank nie. Nie met woorde nie.

Tertius? Tertius? Dankie dat ek kon kom en gaan. Weet net …

Arme Simeon. En toe. Toe dit.

Daar het pêreltjies op die vonkelwynbottel gevorm wat begin streep het. Drup-drup. Simeon het die bottel neergesit. Die klammigheid in sy palm het hom teruggeruk na dit wat hy wou onthou.

“Sy was glad nie meer bang nie,” sê hy terwyl hy sy hand teen sy broek afvee. “Regtig nie meer bang nie.”

Toe het Tertius vir die eerste keer sedert ek deur die einste stralekrans teruggetree het, sy sakdoek uitgehaal. Ek het geweet ek droom nie meer nie.

  • 3

Kommentaar

  • Die woorde wat jy gebruik is verstommend. Wens my taalgebruik was so goed. Baie baie goed geskryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top