? Tapisserie met klein diere
Erika Murray-Theron.
Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad 2008.
Sagteband, 212 bladsye, ISBN 978-0-624-04618-9.
Klik op die omslag van die boek om jou eksemplaar by kalahari.net te bestel.
Jiaieks! Laat ek dit nou eers van my gemoed af kry: nog nooit was die temptasie so groot om ’n resensie met ’n cliché te begin nie. Maar ’n cliché het ’n manier om jou in te haal, so ek laat dit aan die leser oor om dit self hier in te voeg. Nogtans moet die volgende wel gesê word: die stofomslag van hierdie juweel van ’n boek is vir seker nie die mooiste Afrikaanse romanomslag wat in die afgelope tien jaar verskyn het nie. Ek is seker die spinnerakfoto was die regmatige wenner van een of ander Weg-leserskompetisie, maar hiér werk dit vir seker nie. Om nie te praat van die gekose lettertipe vir die titel nie. Ai. Ek weet beide die foto en die lettertipe probeer iets weerspieël van die broosheid van die netwerk van verhale en betekenisse wat in die roman so versigtig en teer ontvou, maar het ek die boek vir die eerste keer op ’n winkelrak teëgekom, sou ek beslis maar verbygehou het.
’n Tapisserie met klein diere is ’n familieroman wat welkome vernuwing bring in die oertydse plaasroman. ’n Nuwe (lees)era het aangebreek vir Suid-Afrikaanse gesinne wat nou verspreid woon oor die wêreld en die roman beskou hierdie netwerk van verwaterde familiebande tydens ’n ongewone byeenkoms op ’n kusdorp: “Van naby en van ver bring die skrywer sy karakters na die ruimte wat hy vir hulle beskik het. Van Namibië. Van Oos-Europa. Van ’n inrigting in Gauteng waarvan hy die aard eers later sal verklap. Van ’n staptog in die Himalaja, van ’n gerestoureerde huisie op Graaff-Reinet,” begin die selfbewuste skrywer/verteller/karakter, Gerhardt, sy hoogs gedetailleerde verhaal waarbinne hy die regisseur speel wat sy familie soos skimme van oor die wêreld oproep om hul bepaalde plek op dié verhoog te kom inneem.
Die ruimte waar die verhaal afspeel, is ’n wit strand, ’n wit doek, waarop die karakters hulle stories kom vertel. Hierdie ruimte word noukeurig en uitgebreid geskets, tot op die laaste geut wat nie skoongemaak is nie, voor die familie arriveer. Maar uiteindelik is dit die ander ruimtes, die plekke waarvandaan hierdie karakters kom, en die eertydse gedeelde familiegeskiedenisruimte wat sy plek kom oopverf op hierdie doek.
Aanvanklik beweeg die verhaal stadig deur die detail van voorbereidings vir die gaste. Gerhardt gaan haal ook eers sy pa, Eben, in Knysna, waar hy deesdae in ’n verontskuldigde Alzheimers-toestand verkeer, maar laasgenoemde het die vorige aand by die kliniek geval en is dus ook fisiek in 'n toestand van algehele afhanklikheid. Intussen moet Margaret, sy huishoudster, en Sydney, Margaret se susterskind, die nodige skoonmaak en gereedmaak doen vir die inval. Uiteindelik word dié twee (onder andere) die stille getuies van die tafereel wat stadig maar seker ontvou vanuit die pen van die skrywer/verteller.
Die beeldskone, maar duidelik onstabiele diplomaatsvrou Juliana, Gerhardt se niggie, is die eerste wat (te vroeg) arriveer, met een van haar perfekte entrances na sy blykbaar nie enduit by haar ma in Graaff-Reinet kon kuier nie. Sy het drie bruin seuntjies wat onbeheerbaar, selfs onder die au pair Emma se wakende oog, rondbaljaar, en haar man, King, kuier skynbaar eers by sy mense in die Oos-Kaap. En die garing maak ’n lus rondom die eerste raaisel.
Juliana se suster, Maryn, wie se verhaal begin in Johannesburg, waar sy onlangs ’n knie-operasie gehad het, ontmoet haar gesin uit Namibië op die George-lughawe. Ook hierdie gesin blyk deur ’n beproewing te gaan en wanneer die twee susters mekaar uiteindelik op die stranddorp ontmoet, is daar duidelik dinge wat deur albei ongesê bly. Daarmee saam is hulle broers, Driesen, wat onlangs uit die tronk is, en Sias, ’n fotograaf en alleenloper-wêreldreisiger, ook in aantog op ’n motorfiets uit Johannesburg.
Tog is die interessantste karakter (bo en behalwe die verteller natuurlik) Dorothea, die matriarg, wat haar man en kinders skynbaar verlaat het toe hulle haar die nodigste gehad het en nou op haar eie van Graaff-Reinet af ry om die familie-reünie by te woon. Dorothea is ’n kunstenaar, ’n wewer wat internasionale bekendheid verwerf het met haar tapisserieë en oënskynlik nog altyd haar kuns bo haar familie gestel het.
In hierdie verweefde (en ek belowe ek gaan nou by hierdie metafoor probeer bly) wêrelde kondig die verlede homself telkens as karakter op die voorgrond aan, en binne hierdie verlede skuil onder andere ’n pa wat die woord swendelaar na ’n troetelnaam laat lyk, asook ’n derde suster wat nie meer daar is nie.
En soos die vakansie begin, begin daar ook ’n uitrafel van persoonlike geskiedenisse.
Waarom hierdie waarheids-en-versoeningskommissie in die kleine? Soos in elke familie, dra iedereen by tot die kollektiewe skuld van die verlede.
Maar nou moet daar eers stilgestaan word by die titel. Die verband tussen Dorothea en die titel is ooglopend; en selfs die "klein diere" word verklaar deur ’n tapisserie waaraan sy op die oomblik werk, geïnspireer deur die werk van Dorthe Sigsgaard, tydens ’n reis na Denemarke: "? Vulkaan en klein diertjies," sê Gerhardt. Hy probeer hom dit voorstel. “Woede en liefde" (bl 72). Dorothea en Gerhardt het ’n sterk band en veral deur hulle gesprekke oor kuns word die leser bewus daarvan dat hulle meer gemeen het as Dorothea en haar eie kinders. En dit is hier waar die titel sy fokus verskuif na die skrywer/verteller. Gerhardt is besig om sy eie tapisserie te weef met die orkestrasie van dié kusvakansie. Maar meer nog: die titel verwys terug na die skryfdaad, die máák van verhaal wanneer dit selfbewus wys op die fyn manipulasie van al die narratiewe elemente wat storie moontlik maak.
En Gerhardt se klein diere? Dwarsdeur die verhaal speel hy die rol van waarnemer. Tot in die fynste besonderhede sien hy kleiner diere raak: van die valkie onder die berghang tot die seekat wat hy red aan die einde. En met dieselfde deernis vertel hy die verskriklike familieverhaal. Dorothea verduidelik: “Die wêreld is vreeslik en wreed ook. Die natuur is ongevoelig teenoor mense. Bot ongevoelig. Dat mense dit kan mooi vind, dít is die wonder. Dat mense verder mooi goed wil maak, is nog een” (bl 71). Gerhardt probeer om deur sy verhaal, en die karakters wat hy daarin toelaat, én die stories wat hy toelaat om vertel te word (want nie al die drade word finaal ingeweef nie), iets moois te maak van die verskrikking van die verlede asook om ’n manier te vind om met homself saam te leef.
Ongelukkig is dit juis Gerhardt se aandeel aan daardie verlede wat die leser laat huiwer oor die oordaad van dinge wat hierdie familie moet oorleef. En hy huiwer voor sy eie manipulasie: “Kán hy met die speletjie aangaan?”, vra die skrywer op bl 176 nadat die gebeure byna tot breekpunt gedryf is. Hier moes klokke begin lui het, want wat volg, doen eintlik afbreuk aan dit wat hierdie roman so spesiaal maak, naamlik dat alles daaraan so ongelooflik herkenbaar is. Een van die vondste is juis dat die literêrheid van die roman so maklik geléés kan word, asof dit populêre fiksie is. Asof jy saam met een van hierdie karakters op skool of universiteit kon gewees het. Asof dit net dalk een van jou eie familievakansies kon wees ... En dan oorspeel die skrywer sy hand.
Nogtans is hierdie enkele haakplek nie genoeg om die impak van hierdie roman te stuit nie. In die stilte wat volg na die pynlike onthullings, maak die familie uiteindelik ’n vuur op die sand. Hierdie simboliese vulkaan met sy hoogs feilbare menslike klein diere daarrondom word ’n oomblik van versoening waar woede wel plek maak vir liefde. Die weefstok is geensins weggepak nie, maar dit is Dorothea wat opmerk: “Hierdie is die dae” (bl 189) en dat die verlede se houvas net vir ’n oomblik vir hierdie familie en dalk vir ons almal weer sy plek op die agtergrond kan inneem.

