Erfenis duurder as grond

  • 0

Dit mag dalk net moontlik wees dat my nalatenskap groter waarde as die lees van my testament sal inhou. Êrens sal iemand tog iets erf en ander, moontlik niks.

Ons gesinsvriend en my braaimaatjie is ’n klompie dae gelede saam met haar nooi veearts toe. Haar nooi het die middag egter alleen huis toe gekom.

Ons Flekkie-hond was te oud en te siek om nog ’n middag vir my by die kardeur in te wag. Saans wanneer ek tuiskom, het sy gewoonlik met haar paadjie langs aangesukkel kar toe en ongeag van hoe laat en winderig dit was, het sy nooit haar lus om te groet versaak nie.
Sy was die gesiggie wat menige aand my gemoedsbekakking in ’n glimlag laat verander het. ’n Nalatenskap wat ek kan vier en ’n erfenisskat wat my huismense behoort te waardeer, want al is sy smiddae nie meer daar nie, sien ek haar groet by die oopmaak van my kardeur en dit maak my bly.

Die skryfstukkies wat ek so dan-en-wan neerpen en die gepaardgaande gogga se byt van ’n aantal jare gelede, het eerstens vir my die afhanklikheid van die verstaan van my eie gedagtes na vore gebring en tweedens, die waarde wat van hierdie woorde en opstelle vir ander mense, medemense, vreemdelinge en verlangse vriende kan hê, ontsluit. My beperkte gawe het genade gevind in die Hand van die ware Skrywer en gegewe die kommentare op sommige gedagtes, ook vir ander.
En daar, sonder kapitaal en grond en arbeid, het ek ook ’n nalatenskap. Is ek bevoorreg om ’n erfenis te mag skep wat gebore is uit die niet van ’n nuwe bestaan. Iets wat vir my seuns ( ͣ) van waarde kan wees lank voordat die laaste testamentêre dokumente gelees word en hopelik ook vir hulle daar sal wees om hulle te ‘groet’ wanneer hulle in die ‘smiddae’ van hul latere lewens tuiskom; om steeds ’n erfporsie duurder as grond te wees.

Soms, eintlik meer gereeld as wat dit moontlik goed is, sit en kyk en luister ek na die geselsery van mense. Ek hoor hoe hulle oor hul belange, hul tuiste, hul toekoms en hul verkose kinders gesels. Oor die toestand van die land en die tekorte; want êrens is daar altyd iemand anders besig om ’n onheilspellende invloed op ons gunstige bestaan uit te oefen.
Wat gaan van ons word; wat sal vir die kinders oorbly?

Daarom moet ons woeker, moet ons die skouer-aan-die-vierwiel hou en nog ’n dag langer en ’n uur meer insit, sodat daar genoeg is om nog ’n vakansie te beplan. Om nog ’n verandering by die huis aan te bring en weer terug te sit, te sug en met ’n braaivleisvuur se warmte op die agtergrond, oor die glas goeie rooiwyn te tob ... Ek weet nie waar gaan als eindig nie?

Vergun my om hierdie strikvraag te antwoord met: Niks gaan vanself beter raak nie. Ons moet begin om eers die regte apies kos te gee.

’n Dierbare oudkollega het baie jare gelede vir my hierdie staaltjie ter toeligting van ’n algemene wysheid vertel: Elke mens, ongeag daarvan of sy ’n sy is en of hy ’n hy is of andersom; ongeag of dit ’n slim mens of ’n dom mens is en ongeag of die affêre mooi hare, min hare, krulhare, wit-, swart- of rooi hare het. Elke mens, het ’n denkbeeldige apie wat op sy of haar skouer sit. Elke oggend en regdeur die ganse dag kry elkeen geleentheid om hierdie apie kos te gee; as’t ware te voed.

Gee jy nét vir jou apie kos, dan kry die ding te veel kos en kan die diertjie maagseer of iets dergeliks onder lede kry, met onsmaaklike gevolge ...

Gee jy nét ander mense se apies kos, dan uiteraard gebeur die teenoorgestelde. Daai apie van jou gaan kwyn en kort voor lank, sit daar op jou skouer ’n hopie vel-en-been waar daar eens ’n apie was. Die waarde in hierdie verhaal skuil duidelik agter die insig om te kan en te mag onderskei watter apie moet wanneer kos kry.

Ons oorlede hondjie het ’n leemte in my lewe gelaat. ’n Leemte wat ons met ’n nuwe babahondjie wil vul ( alhoewel die klein boggertjie ook vanaand by die veearts oornag!).

Dis juis die leemte wat nou ook die begin van ’n nuwe erfenisskat aankondig. En soos ons elke dag iets omtrent die hondjie en sy voorkeure en geite leer, so sal sy dieselfde moet doen; sodat wanneer ons weer by die spreekwoordelike lees van haar testament bymekaarkom (hopelik eers na ±15 jaar), daar ’n nalatenskap sal wees wat meer bindend as die laat nagte se opstaan, haar nagwandelinge of veeartsbesoeke is en selfs meer, as die gate wat sy nog in die tuin gaan grawe; wat in ieder geval weer na die reën toespoel.

So sal ons een insigryke oomblik en een gawe gedagte en een wyse daad op ’n slag, genoeg apies kan kos gee om ’n vir nageslag ’n waardevolle nalatenskap te gee.
Sodat Hy die aarde kan bewandel, nie saam met ons nie, maar deur ons.
Sodat iemand juis dít, van jou en my sal kan onthou.

ͣ (en ook enige nie-amptelike dogters )

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top