
Foto: Canva
Epitaaf van my hart
my krabbels op ’n kleitablet
is slegs lugspieëlings
van ’n diepe worsteling
wat agter metaforiese maskers
toegesmeer is
soos ’n heilige sakrament
verbrokkel, verbrysel, verydel,
wat as ’n avondsmaal
aan honger rawe opgedis is
terwyl hulle my wroegings
slurpend, dikgedrink
uit son(dige) gevlekte bekers skink
my woorde word nou die epitaaf
versteek tussen distels en kaf
tot verdigsels weggeskaaf
waar dit in die sediment
van ’n witgekalkte graf
verlore gaan


Kommentaar
Baie dankie LitNet vir die plasing en blootstelling, ek waardeer dit baie.
Welgedaan Anze! Hierdie vers sê so baie. Mag jou krabbels, woorde en passie vir die digkuns NOOIT versteek word of verlore gaan nie.
Sjoe, net beter en beter. Raak mens se hart baie diep.
Baie dankie, liewe Loretta, vir jou dieper lees, ek waardeer dit baie.
Baie dankie, Rachel. Ek waardeer jou saamlees baie.