Enkele opmerkings oor Thomas se siening dat nie almal heeltyd bedrieg kan word nie

  • 4

Thomas, mens kan seker maar mens hoef nie. So ruk terug is 70% van die mense met ’n slap riem gevang en nou sit ons met ’n ‘demokrasie’ waar jy net 51% van die mense hoef te bedrieg en die ander 49% se doppie is geklink. Soos ons s’n (die Afrikaner) geklink is: Ons taal gaan agteruit, ons straat- en plekname word uitgegooi, ons universiteite en kolleges is weg en ons skole is onder beleg.

Maar jou storie is eintlik oor godsdiens. Jy reken ‘kennis’ sou nou maak dat godsdiens oor die wêreld taan (behalwe in Afrika). ‘Kennis’, wat volgens wetenskaplike metode verwerf en bewys is, is nog maar karig in vergelyking met 20 jaar vorentoe, wat nog 100 jaar of meer vorentoe. Kyk maar hoe het kennis en tegnologie die afgelope 40 jaar eksponensieel vermeerder en as jy (probeer) ekstrapoleer word jy eenvoudig dronkgeslaan.

Buitendien, die oorgrote meerderheid van die mensdom het nie naastenby hierdie nuutverworwe kennis in pag nie. Die kennis wat op die oomblik blootgelê word is ligjare verwyderd van toepassing deur Jan Rap en sy maats. As mens kennis-in-pag van ’n gegewe groep of volk sou voorstel as ’n piramiede – die basis is ’n klomp mense met min kennis en die top is ’n paar mense met baie kennis – sou hierdie piramiede platter wees in, sê Pythagoras, of Gauss, of Fermi se tyd as vandag? Ek sou sê ’n definitiewe ’nee’ gegee die slaagstandaard (matriek), die gepamperlang van studente, sosialisme (leeftoelaes dus werk of studeer is onnodig), die volume ontblote of ontdekte kennis en die blote massas mense vandag. Inteendeel, ek reken die voorpunt van kennis is vandag verder verwyderd van die gewone man as in die verlede.

Dus, al het ‘kennis’ ’n ontreligieusende effek of, alternatiewelik, ’n verateïstiese effek, is dit definitief nie uit hoofde van verhoogde kennis nie. Jou dalende grafiek byvoorbeeld bring nie die toestroming van immigrante (met ander oortuigings, Islam, voorvadergeeste ens) in berekening nie. Sou jy byvoorbeeld die groei van Islam (veral in Europa) superponeer op daardie grafiek gaan die oppervlak onder die gekombineerde kromme min of meer dieselfde bly. Dit is nie net Islam wat groei nie, daar is al hoe meer aanhang van sogenaamde Paganism (lyk vir my na ’n soort blommekinders-effek), verering van elwe of feëtjies en allerhande sulke goed; mense wat in toenemende getalle gedurende volmaan met kerse om Stonehenge rondhang, die soort storie.

Ek kan nie jou missie (en George Claassen s’n byvoorbeeld) verstaan om godsdiens of religie uit te roei nie. Dink aan die kerkmusiek van Bach-hulle, aan die wonderlike argitektuur, skilder- en beeldhouwerk teweeggebring deur religie. Dink aan daardie wonderlike wiskundige patrone op die koepels wat die Islam-ouens maak. Dink aan argitekte, ingenieurs en vakmanne soos orrelbouers, klipkappers, messelaars, skrynwerkers, houtsneewerkers ens ens wat gaan verdwyn as daar nie meer katedrale, kerke, moskees en tempels gebou word nie. Dit sal mos ’n groot jammerte wees, ’n ramp wil ek my verstout om te sê.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Beste Thomas,

    Jou skrywe was kort en bondig. Jou (heel korrekte) waarneming is dat godsdiens 'n al kleiner rol speel in mense se lewens in Europa en die VSA. Die kruks van jou brief is in die volgende aangehaalde sin: "My vermoede is dat dit iets te doen moet hê met die uitbreiding van kennis in die ontwikkelde wêreld wat mense meer immuun maak teen onrealistiese en onbewese godsdienstige aansprake."

    Wat doen Jan Rap hierbo? Hy soek, soos gewoonlik, net 'n goeie rede om te mor en te kla. Sy eerste paragraaf is só irrelevant met betrekking tot jou brief, dat hy dit wragtig sélf raaksien! Hoe sê hy?... "Maar jou eintlike storie is oor godsdiens..."

    Ten minste weet ons nou dat Jan Rap van die oortuiging is dat ons almal godsdienstig moet wees, want dan kan ons na mooi musiek in pragtige katedrale gaan luister. Anders gaan die rampe ons tref.

    Groete

    Dirk

  • Jan Rap

    Ek het geen missie om godsdiens uit te roei nie - godsdiens sal mettertyd vanself irrelevant word. Ek stateer net 'n klompie feite omtrent die ontwikkelende situasie. Kennis gaan eksponensieel toeneem soos jy sê en godsdiens gaan dienooreenkomstig in die hek duik.
    Waarvoor ek my wel beywer is om godsdiensindoktrinasie uit skole verwyder te kry. Ek wil nie my kleinkinders daaraan laat onderwerp nie.

    Groetnis
    Thomas

  • Dirk
    My eerste paragraaf is nie so irrelevant nie; Thomas beweer jy kan nie die hele tyd almal bedrieg nie maar die toestand in die land spreek die teendeel. Beduidend is ook die feit dat jy weer huil oor ek nou volgens jou kla. Implisiet is my gemor en klagtes dus nie oor niks nie.
    Jou slotparagraaf is tipies weer 'n skelmstreek: Ek het gesê die feit dat daardie argitektuur, musiek en kuns kan verdwyn 'n ramp sal wees. Jy maak of ek gesê het rampe gaan ons tref as ons nie godsdienstig is nie. Nou laat ek daaraan dink, dit mag wel so wees (alhoewel dit nie is wat ek gesê het nie) want kyk, ons regering is nie godsdienstig nie en 'n moerse ramp, die huidige bedeling, het ons getref.

  • Thomas
    Ek is verbaas jy sê jy het geen missie om godsdiens uit te roei nie want jy dweep met ateïsme omtrent net so erg as 'n kommersiële prediker met godsdiens. Om nie jou kleinkinders aan 'die indoktrinasie' van godsdiens te wil blootstel nie is so effe aanmatigend.
    Godsdiens of religie is 'n verstektoestand; 'n kind in Ramadi byvoorbeeld word groot met Islam as agtergrond (of godsdiens dan) en een in, sê Potchefstroom, met die Christelike geloof. Dieselfde geld ten opsigte van Hindoeïsme, Taoïsme, Judaïsme, Shintoïsme, Etnoreligiïsme, noem maar op.
    Religie, skyn dit my, is inherent. Indien jy jou kleinkinders weerhou hiervan gaan jy 'n leemte laat en nog miskien iets soos groepvervreemding, gepaard met baie stres, veroorsaak. Tensy, natuurlik, jou kleinkinders hulself in 'n groep bevind waarvan almal se oupas geleerd genoeg is sodat hulle ook ingelig is dat al hierdie goed twak is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top