Enkele gedagtes van Danie du Toit by ’n dankdiens vir Hendrik (Pretoria, 7 Desember)

  • 0

Sy naam was Hendrik. Maar hy was ook net so bekend as “Broer”.

Toe hy nog klein was, het sy familie hom “Broer” genoem. Daarom die verbasing van ’n dominee toe Hendrik hom met die eerste ontmoeting voorgestel het as: “Ek is Broer Venter, Dominee!”

Vir so baie mense was hy ’n kosbare vriend – ook ’n broer.

Al het hy sy eie geloof beskryf as “tradisioneel”, weet ons dit was véél meer as dit.  Dat hy homself beskryf het as “patriot”, klop met die durf en waagmoed waarmee hy geleef het.

Waar ons kom dankie sê vir Hendrik se lewe, lyk dit my gepas om ’n Psalm te lees.  Want in die Psalms word daar nie – soos in die meeste gedeeltes van die Bybel – óór God (of óór mense) gepraat nie, maar tót God. In die Psalms kom die mens aan die woord en tree die mens in gesprek met God.  Daarom staan die Psalms bekend as die “binnekamer” van die Bybel.  

Dit pas by Hendrik. Hy het nie net (op die internet en elders) geskryf óór God nie, maar ook tót God. Dink aan sy 2009-boek se titel (God, ek is ook hier), wat soos die opskrif van ’n hedendaagse Psalm klink.

Juis omdat daar in die Psalms direk na God geroep word, help dit ons in ons nadenke oor God én wat dit beteken om in God te glo.

Ons denke oor geloof is dikwels uiters beperk, asof geloof niks méér is nie as “’n sekere kennis” en “’n vaste vertroue” (om een geloofsbelydenis se woorde te gebruik).

In die Psalms het geloof egter uiteenlopende gestaltes: soms dankbaarheid (Ps 116), soms vertwyfeling en onsekerheid (Ps 88), soms verlange (Ps 42), soms vertroue (Ps 23), soms verwondering (Ps 118), ensomeer.

Waar ons kom dankie sê vir Hendrik se lewe,  dink ons vir ’n oomblik na oor ’n psalm wat bekend staan as ’n verlangepsalm:Psalm 42 is gevul met heimwee na God:

Soos ’n wildsbok smag na waterstrome
so smag my siel na U, o God

Dis die taal wat Hendrik verstaan het: verlangetaal, verwonderingstaal.

Hy kon oor alles wonder, ook oor God.  Maar altyd met diepe eerbied teenoor God en mense en die lewe.

Hy kon opreg sê:

O Heer my God, as ek met eerbied wonder ...

In hierdie nadenke was hy bereid om homself bloot te lê en verwondbaar te maak. Hy het hom nooit probeer verskans nie, en nooit het hy sy toevlug geneem tot dogmatiese uitsprake nie.

Vir Hendrik was dogmatiese taal taboe. Hy het geen begeerte gehad om bepaalde leerstellings te verdedig en dogmas te onderskryf nie. Hy sou eerder saam met Wilhelm Jordaan sê:

Toe ek ’n kind was het ek gedog
die dinge is maar so
maar noudat ek ’n man geword het
weet ek
dit is dogmadinge
wat mens doodmaak
binne

Terselfdertyd het hy nooit die vreemde hunkering en heimwee na God verloor nie. Dit was altyd teenwoordig in Hendrik se gesprekke en sy skrywes. Hy het die verlangepsalm gelééf.

Soos Eugene Marais kon hy praat van die groot verlange wat my nooit verlaat.

En dan was dit nie net algemeen-menslike heimwee nie, maar verlange juis na God.

In Psalm 42 word dié behoefte aan God vergelyk met die dorstigheid van ’n wildsbok wat smag na water. Vir so ’n dier in die droë landstreek beteken water die verskil tussen lewe en dood. So word die hunkering na God allesoorheersend. En dan is dit ’n soeke na “die lewende God”, nie mensgemaakte afgode nie.

NP van Wyk Louw skryf:

U is begeerte, en pyn, en ’n verlange,
en het ons hart in so ’n drif gemaak
dat nêrens rus vir ons bestaan.

In die Psalm gaan dit nie oor ’n bloot intellektuele spel wat uitloop op ’n bespiegeling oor God se aan- of afwesigheid nie. Vir die digter is dié verlange deel van ons hunkering om iets van die diepste lewensgeheim te begryp.

Dít is nie maklik en eenvoudig nie. Daar kom ’n oomblik wanneer die soeker nie meer antwoorde het nie. En, soos die Psalm te kenne gee, het jy nie die lus, of is jy nie in staat, om oor en tot God te sing nie.   
      

Lina Spies berym dié gedagte met die woorde:  

O, hoe het die lied verstom
as net trane uit my kom.

Maar dan kom daar ’n manjifieke draaipunt.  Al word daar gesuggereer dat sang en liedere nie meer moontlik is nie, word gesê: Ek sal wéér sing!

Ja, ek sal weer vir God ’n loflied sing.
Selfs in die nag sal ek sing.

Dié ervaring van verlange na, soeke na en hernude belewenis van God wat so eie is aan die Psalm, het Hendrik gedeel.  In God, ek is ook hier vertel hy daarvan:

Die mens in hierdie verhaal het ’n hoë berg uitgeklim op soek
na God en gedink hoe hoër die berg, hoe nader aan die hemel
en aan God. En toe hy bo kom en die lug is so dun dat niks meer
daar wil groei nie, toe is hy op sy eie. Hy het hom vrekgeskrik
toe hy agterkom hoe hoër hy klim, hoe minder beleef hy van God,
want God leef doer onder tussen die mense. Wat hy by hom
gehad het, is die afgode wat ons as allerantwoorde voorhou en
saam met ons dra.

Hendrik het ontdek dat ons God te hoog soek. Ons moet laer af, tot in die dieptes.  Dit lyk my dit klop met die betekenis van die Christusgebeurtenis. Vier ons dan nie juis dít by die Christusfees nie?  Dat God nie ver is nie – nie daar bo op die hoogste bergtoppe of hoogste hemele nie, maar dat die Woord vlees geword het en onder ons kom woon het? God het ’n tent onder ons opgeslaan: doeronder tussen die mense.

Dáár is dit nie óns wat noodwendig God vind nie, maar ons wat deur God gevind word.

Waar ons dit besef en omhels, kyk ons met nuwe oë na mekaar.

Dan leef ons met eerbied vir mekaar se menswees en met eerbied vir die lewe.

Dalk begin ons dan eers saggies neurie, en later sing ons saam. Ook hier waar ons vandag dankie sê vir Broer se kosbare lewe.

Danie du Toit

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top