Dagsê Kleinkoos
Op 18 Maart sê jy my vergelyking tussen karre en lewende wesens is onvanpas. Ek het nie karre met lewende wesens vergelyk nie; ek het die mens se onvermoë om te ekstrapoleer illustreer aan die hand van ’n praktyk of ’n proses soos estetiese ontwerp, in hierdie geval motorontwerp. Op dieselfde manier het ek gesê die teorie van evolusie kan nie ekstrapoleer (of voorspel) soos dr Van den Heever beweer nie.
Maar as ’n ou nou mooi daaraan dink is die ontwerpanaloog nie so onvanpas nie. As jy na die evolusie van die binnebrandmotor kyk is daar ’n duidelike evolusie maar, natuurlik, met eksterne ingryping, ’n moontlikheid wat nie uitgesluit is in hierdie hele proses nie (jy weet seker van daardie SciFi-storie van die wese wie se tuig onklaar geraak het op een of ander ruimtetog? Hy is toe in die omgewing van die aarde, parkeer sy tuig op die maan, ent lewe op aarde met ’n meteoriet of ’n ding en wag toe geduldig miljarde jare totdat uiteindelik die mens ’n tuig maan toe stuur waaruit hy toe die benodigde onderdeel steel en verder op sy tog gaan).
Voorspelling is iets wat ’n ou doen wat met die helm gebore is. Die plofstofdeskundige raai of voorspel nie; hy bereken haarfyn. Net soos paleontoloë aan die hand van hulle vakkennis – NIE die evolusieleer se vermoë om voorspellings te genereer nie – weet waar om sekere fossiele te kry. Mens kan seker ’weet’ met ’akkuraat voorspel’ vervang, dis dalk ’n kwessie van semantiek so ek sê maar weer, die evolusieteorie kan nie ekstrapoleer nie – daar is nie ’n manier om aan die hand van oeroue fossiele te ’voorspel’ dat daar eendag ’n leeu, ’n sysie, ’n mens en ’n bontebok gaan wees nie. Terloops, dankie vir die teregwysing ten opsigte van hidroloë en geoloë.
Wat die taal betref. Jy sê ons moet net die taal praat. Wel, dis nie genoeg nie as jy bedoel by die huis en onder mekaar. As jy bedoel by die werk, in die howe, in die openbare lewe, by die Buro vir Standaarde en die WNNR, in kafees en restourante, die staatsdiens en so aan dan is jy reg. Alreeds, omdat Afrikaans nie meer by hierdie instansies gepraat word nie het hy agteruitgegaan.
Net gister, byvoorbeeld, hoor ek oor die nuus van ’n groep wat ’n ’tender gewen het’ kan jy glo. So’n ’n rukkie terug sê een van die karakters op ’n sepie "dankie Prof, dit sal die ander mense encourage om Prof se contribution te match". Waar in jou lewe.
Dus, hierdie ding van dink en droom in Afrikaans maar doen besigheid in Engels is onsin (en, soos ek al by herhaling gesê het, mens dink in elk geval nie in ’n taal nie). In hierdie tye, waar baie van ons steeds die taal praat, het alle Afrikaanse universiteite verdwyn, die Afrikaanse skole is besig om te verdwyn en so ook dorp-, straat- en plekname. Ons is besig om deur ons ongeërgdheid ons taal te verloor.
Jy’s ook reg wat ons ’Afrikaanse’ pers betref. ’n Bottelgooier, of ’n skryfster wat laat blyk dat sy nie eintlik van die ’ander’ hou nie, maak ons pers histeries terwyl hulle koud gelaat word wanneer die ander openlik propageer dat die Boer geskiet moet word. Vier studente wat bietjie spaas maak met swart huishulpe word vir weke verguis in die pers terwyl die aanhoudende gruwelike plaasmoorde skaars die koerante haal.
Wat die doktorsgraad in Biologie betref stem ek saam met jou. So, met die dat ek nie eers ’n doktorsgraad in Biologie het nie, moet jy weet hoe ver bo my vuurmaakplek is Lane se boek.
Groetnis
Jan Rap
NS Jy praat van kerne wat jy bestudeer het; weet jy of mens ’n kernboor vir hout kan kry en indien wel, waar? Of kan mens ’n klip-ene aanpas om houtkerne te boor?


Kommentaar
Beste Jan Rap,
Mens kan as jy wil die trajek van 'n projektiel met Einstein se teorie van algemene relatiwiteit en addisionele fisika bereken.
Jy kan natuurlik 'n reeks van empiriese toetse doen op een kanon en daarvolgens 'n stel reëls genereer wat jou sou toelaat om daardie maak en model te mik sonder dat jy enige iets van die werking van gravitasie, inersie, windweerstand ens. weet nie. Die reëls werk, maar jy het geen idee hoekom nie.
Fossiele kan volgens empiriese reëls gevind word. Fossiel c word gevind in laag C wat altyd onder laag B en bokant laag D aangetref word. As jy nou 'n gat boor en 'n kern trek en jy sien laag B lê hier bo-op laag F wat onder D aangetref behoort te word, so C en D is hier afwesig en dit help nie om hier vir fossiel c te soek nie. Dit is hoe stratigrafie aangewend kan word om olie of steenkool te kry, maar stratigrafie bied geen verklaring, geen teorie aan om die bestaan van rotslae en die assosiasie van sekere lae met sekere fossiele te verklaar nie. Dit is 'n stel empiriese reëls afgelei uit waarnemings, maar dit sê niks oor wat die meganisme is wat tot die vorming van lae en die fossielverspreiding gelei het nie.
Die teorie van evolusie voorspel dat lewe van nie-lewe ontstaan het, dat lewe deur eenvoudiger vorme ontwikkel het, dat hoe verder in tyd 'n voorvaderlike spesie en 'n nasaat van mekaar verwyder is, hoe meer hulle kan verskil en hoe nader hoe meer soortgelyk hulle behoort te wees en dat fossiele nie willekeurig aangetref behoort te word nie, maar versprei te behoort te wees met herkenbare patrone.
Ons neem nou hierdie voorspellings en gaan vergelyk dit met die natuur. Ons bemerk dat sekere fossiele in sekere rotslae voorkom, dat die opeenvolging van daardie lae vasgestel is en dat die oppervlakkigste van die lae fossiele bevat wat soos hedendaagse organismes lyk. Die dieper lae ontbreek aan baie fossiele wat herkenbaar in hedendaagse groepe hoort, bevat fossiele van uitgestorwe organismes en die diepste lae bevat fossiele wat relatief eenvoudig of primitief is of geen teken van lewe nie. Die geografiese verspreiding van fossiele verwant aan tans lewende groepe is soortgelyk aan die verspreiding van daardie groepe.
Hallo Jan Rap
Daar is seker so iets soos houtkerne, want sekere mense boor in bome en vat monsters van die hout in die bome. Waar mens dit kry, weet ek nie.
Oor die pers stem ek saam met jou. Vier outjies maak 'n video en beland wêreldwyd in die nuus oor "rassisme". Duisende ander outjies maak dood en word beskou as "slagoffers" van rassisme, terwyl die vermoorde mense dit maar verdien weens hul gewaande "sondes van die verlede". Die Afrikaanse pers doen lustig mee.
Kleinkoos
Jammer Jan Rap
Ek stem nog steeds nie saam met jou vergelyking met dinge soos karre en lewende wesens nie. Die verskynsels is geensins vergelykbaar nie, want karre of maantuie of wat-ook-al plant nie voort nie. Lewende wesens wel.
Die Teorie van Evolusie kan juis ekstrapoleer, want die Teorie van Evolusie kan voorspel dat die nageslag van, sê olifante, sal altyd geklassifiseer kan word in ooreenstemming met die "nested" hiërargie waarin olifante val.
Nes mense. Ons sal miskien nie altyd soos moderne mense lyk nie, maar ons nageslag sal altyd geklassifiseer kan word volgens die "nested" hiërargie waaronder ons val.
Kleinkoos