Engelsbefok

  • 4

Kobus Wiese gesels met ouens soos Matfield, De Villiers en Strauss na/voor/gedurende die rugby, almal Afrikaans, maar hulle praat Engels. Kan jy dit nou oorvertel. Mense sal natuurlik aanvoer dat daar Aussies en Kiwi's is wat ook luister maar dit is mos nie 'n geldige rede nie want gaan die Aussies en Kiwi's Afrikaans praat oor daar Afrikaanssprekendes is wat luister? Natuurlik nie.

Die ouens wat dit wil regverdig moenie met die wêreldtaalstorie kom nie; daar is nie so'n ding nie. Engels het hierdie gewaande eienskap omdat baie mense Engels kan praat, nie omdat die wêreldhof of die Pous of die Dalai Llama 'n dekreet tot dien effekte uitgereik het nie. As 'n Aussie of 'n Kiwi wil weet wat die Boere sê, plaas onderskrifte, of hy kan sommer vir die ou langs hom vra want blykbaar is die hele Australië en Nieu-Seeland vol Afrikaanssprekendes.

Ek sit en kyk na Fiesta op KykNet en jou wrintiewaar, dis mos die Kaap en soos ek verwag het, is alles Engels. Selfs al is die kaasmaker Afrikaans, is sy etiket op die kaas Engels. Waarvoor? As die kaas goed is sal die mense hom koop; Engels verkoop hom nie maar sy smaak wel. Buitendien, ek sal geld verwed dat die meeste kopers daar in elk geval Afrikaans was. Maar nou ja, 'n Kapenaar vrek mos oor Engels; helfte van die uitstallers daar se kinders is waarskynlik in Engelse skole.

Engels is die sogenaamde wêreldtaal omdat baie mense, insluitende Afrikaanssprekendes, dit praat. Afrikaans, aan die andert kant, is aan die verdwyn omdat dit nie meer gepraat word nie; Simon Kuper van die Financial Times sê juis Afrikaans het "gekrimp tot onbeduidendheid". Hy's ongelukkig reg en wie se skuld sou dit wees? Net ons s'n en as ons nie nou ophou met hierdie omarming van Engels, soos veral daar in die bakermat van Afrikaans, die Kaap (is dit ooit die bakermat?), bedryf word nie, gaan ons kinders almal Engels wees. Die helfte, lyk dit my, is in elk geval klaar Engels. Wat 'n verleentheid.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • George Bekker

    Jan ek dink jy het nog net gehoor van die Kaap. Jou stelling: "Maar nou ja, 'n Kapenaar vrek mos oor Engels;" getuig van algemene frustrasie oor taalsake, waarmee ek simpatie het. In terme van persentasie is meer as die helfte van Wes-Kaapland se bevolking Afrikaanssprekend en daar gaan weke om dat ek nie Engels praat nie. Ek mag my dit verbeel, want ek ken nie die noorde nie, maar ek kry die gevoel dat die plasing van Afrikaanse kinders in Engelse skole 'n groter probleem by julle as by ons is. Al wat ons as sprekers van die taal kan doen is om maar net elke dag Afrikaans te praat sonder om aanstoot te gee. Groetnis. George

  • Johannes Comestor

    Jan, ek het waardering vir jou skrywes. Vandat die moontlikheid van twee nuwe universiteite deur die nuwe bewindhebbers genoem is, asook sedert die aankondiging dat hierdie inrigtings in Kimberley en Nelspruit gevestig gaan wees, probeer ek die Afrikaanse koerante sover kry om 'n veldtog te voer sodat onderrig in Afrikaans aan daardie inrigtings verseker kan word. Albei sentra is in oorwegend Afrikaanssprekende gebiede. Tot dusver was daar, sover ek kan vasstel, geen reaksie op my versoeke nie. Allerhande inligting word oor die voorgestelde universiteite verskaf, maar geen woord word oor die onderrigtaal gerep nie. Dit sou naief wees om te dink dat die ANC-regering in albei gevalle 'n ander taal as die koloniale taal verkies. Dit sou ook dwaas wees om fatalisties te redeneer dat niks hieraan gedoen kan word nie. Dalk word daar gewag, soos glad te dikwels, dat Solidariteit/Afriforum die kastaaiings uit die vuur moet krap. Eers as dit te laat is, sal eens Afrikaanse kultuurvrate dalk begin om vir Afrikaans in die bres te tree. 

    Johannes Comestor  

  • George
    Ek ken die Kaap baie goed.  My pa-hulle het in Vredenburg gebly en, na my pa se oorlye, het my ma Malmesbury toe getrek om naby my een suster te wees wat daar gewoon het.   Van my ma se ander susters (my ma-hulle was nege dogters) het een in Houtbaai, een in Umtata en een in Ugie gebly (oukei laasgenoemde twee is nou wel Oos-Kaap).  Na my oom se aftrede het my Houtbaaitannie-hulle Kaapstad, Constantia, toe getrek en my suster-hulle is intussen Muizenberg toe.  Na my oom wat in Constantia gewoon het oorlede is het  sy vrou,my tannie, en my ma jare saam in 'n huis in Malmesbury gewoon waar albei toe, binne dieselfde week, oorlede is.  So, tot en met daardie tyd was ek gereeld in die Kaap, by al bogenoemde plekke, veral Houtbaai want dis naby, baie naby, 'n paar 100 treë, van die see af.  Ook was ek tussenin baie in die Kaap sonder om by famile en bekendes te kuier (hulle moet ook darem 'n blaaskans kry).  Laaste paar kere was eers Lambertsbaai (karavaan), later Klub Mykonos, volgende keer gekamp (tent) by Augrabies en laaste nog 'n trippie deur die Noord-Kaap op pad Kgalagadi toe.
    So, ek ken die Kaap, nou seker nie so goed soos jy nie maar goed genoeg om agter te kom die Kapenaars is gek na Engels, al die jare al. In Muizenberg byvoorbeeld, waar die meeste mense Afrikaans praat, het ek nie één Afrikaanse uithangbord gesien nie.  En dit is asof die Bruines daar, weliswaar met 'n swaar Afrikaanse aksent, net wil Engels praat.  Selfs die Noord-Kaap en Weskusarea wat nou veronderstel is om diep Afrikaans te wees is die geskrewe taal Engels. "Dis maar vir die toeriste" is hulle antwoord altyd wanneer daarna navraag gedoen word.
    Jy is reg as jy beweer dat dit wat verengelsing betref, dit slegter hier in die noorde, veral die stede, gaan as daar by julle.  Hier in die noorde het die adder in ons boesem ons klaar gepik en vergiftig.  Daar by julle egter, wat nou veronderstel is om die bakermat van Afrikaans te wees, besef julle nog nie die gevaar van die adder wat julle nou na julle boesem lok nie.  Dit is miskien hoekom ons hier in die noorde so vies raak vir die Engels daar op julle wyn- en kaasfeeste; julle nooi die ramp uit wat  ons klaar getref het. 

    Johannes
    Om pro-Afrikaans te wees is nie polities-korrek nie dus sal jy niks van die Afrikaanse koerante hoor nie; hulle is tog te bang hulle maak golfies.  En, soos jy sê, eers as dit te laat is sal die eens Afrikaanse kultuurvrate se spyt kom.  Soos ou George hierbo sê, ons moet Afrikaans praat sonder om aanstoot te gee maar praat alleen gaan nie help nie.  Ek haal my hoed af vir iemand soos jy wat daadwerklik iets doen.

     

  • George Bekker

    Jan ek waardeer jou lekker gesels en die familie stories. Dis tog 'n belangrike deel van ons kultuur.

    Terwyl jy so lekker gesels wil ek meld dat my jongste dogter 'n paar jaar gelede haar matriek buitengewoon goed geslaag het in 'n Afrikaans medium skool. Dit het haar geensins benadeel nie, want die skool stel buitengewone akademiese standaarde en sy het Engels op die hoër vlak geneem. Wat hierdie dom mense wat hulle kinders na Engelse skole stuur nie besef nie is dat hulle ook in 'n ander kultuur inkoop en as dinge later op hoërskool vir hulle kinders heeltemal verkeerd loop is dit te laat vir trane. George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top