Enemy of the people deur Adriaan Basson en Pieter du Toit: ’n resensie

  • 1

Enemy of the people
Adriaan Basson & Pieter du Toit
Jonathan Ball Publishers (2017)
ISBN 9781868428182

Voormalige president Jacob Gedleyihlekisa Zuma het die twyfelagtige status dat geen Suid-Afrikaanse leier se onmiddellike politieke bestaan beter gedokumenteer is as syne nie. Dit is nie net in hofstukke dat hy ’n pertinente – indien nie omstrede – akteur was die afgelope nege jaar nie; daar is ook minstens vyf omvangryke boeke met hom as die hoofkarakter in ’n drama wat Suid-Afrikaners vir byna twee dekades met morbiede fassinasie ervaar het.

Enemy of the people, die boek van Adriaan Basson en Pieter du Toit, gaan egter oor veel meer as net Zuma. Die boek bevestig ’n baie belangrike punt wat ons gerus in ag kan neem in ons evaluering van die werklikhede onder president Ramaphosa, en dit is dat staatskaping ’n komplekse stelsel is wat oor dekades opgebou is en waarskynlik slegs oor dekades afgetakel kan word.

Basson en Du Toit skryf geskiedenis, maar nie met die achilleshiel wat tipies is van die mondelingse tradisie nie. Hulle deurwinter op die slagveld, ry die paaie saam met ons almal en besoek die feite van die saak met beduidende integriteit. Hulle onderskryf nie die waarde van ’n spesifieke identiteit nie; hulle karteer die middelgrond van die Suid-Afrikaanse politiek, en identifiseer die verskynsels, persoonlikhede en identiteite wat die vyand van die middelgrond en “die mense” (“the people”) geword het.

Die boek ondersoek die lewe en legende van Jacob Zuma as die meesterpatronaat wat kaders ontplooi met die doel om nie alleen die staat te beset nie, maar ook operasionele ruimtes tussen die privaatsektor en die monetêre en fiskale regime. Pravin Gordhan se mantra na afloop van sy informele “staat van beskuldiging” was: “Connect the dots.” Met ander woorde, verbind individue en verskynsels met mekaar in die konteks van politieke mag.

Zuma was nie net korrup nie; sy denkwyse wat betref die argitektuur van politieke mag was strydig met die belang van beide die rykes en die armes in Suid-Afrika. ’n Korrupte staat is een verskynsel, ’n plunderende politieke elite is iets anders; laasgenoemde was Jacob Zuma se regering in aksie.

In die een toneel na die ander in Enemy of the people – ’n banale choreografie van absurdhede – versaak Zuma die beginsels van beide die Grondwet en die bevrydingsnarratief ter wille van monopolieë in die privaatsektor wat kaders sowel as entrepreneurs ondermyn. Die ironie van die Gupta-familie se ekonomiese bedrywighede was dat hulle in die privaatsektor meegeding het, diverse dienste op ’n tenderbasis kon lewer, en die proses van produksie in die mynbedryf kon bepaal sonder om enige historiese verbintenis met die bevrydingspolitiek te hê. Selfs die privaatsektor van Suid-Afrika kan in werklikheid nie ’n legitieme besigheidsverhouding met die staat ontwikkel sonder om ’n statutêr-onderskrewe saketransaksie met kaders aan te gaan nie.

Die Guptas het eenvoudig die uitvoerende gesag van die staat gemanipuleer via hul verhouding met Zuma, en tog is daar eintlik weinig bewyse van ministers wat hulself direk kon verryk het in die proses van staatskaping. Die proses van staatskaping gaan in die eerste plek oor mag, en daardie mag was gesetel in die “vyand van die mense”. Ministers soos Malusi Gigaba, Lynne Brown en Mosebenzi Zwane se verhouding met die Guptas het hulle nie soseer verryk nie; dit was eerder dat hulle die verhouding tussen Zuma en die Gupta-familie moes bestuur op ’n wyse wat eersgenoemde as meesterpatronaat ter wille sou wees en laasgenoemde se monopolie in die ekonomie sou bevestig.

Staatskaping moet ook onderskei word van die verskynsel van tenderpreneurskap. Die bevrydingselite kon nooit ’n teoretiese onderskeid tref tussen die operasionele manifestasies van swart bemagtiging en dié van kaderontplooiing nie. Die ooglopende teenstrydighede tussen die twee begrippe was egter die teelaarde vir die verskynsel van tenderpreneurskap. ’n Tenderpreneur is hibriede politieke gedierte, ’n inteling tussen bemagtigdes en kaders wat kan repliseer slegs deur misbruik te maak van die regverdigings van selektiewe bevoordeling vir ’n voorheen benadeelde politieke identiteit.

Die tenderpreneur het ’n praktiese manifestasie geword van staatsbesetting (nié staatskaping nie) deur politieke onaantasbares binne die bevrydingsregime. Terwyl kaders die staat beset, veral staatsbeheerde ondernemings, vestig tenderpreneurs verhoudings met kaders wat finansiële voordele (nie noodwendig onwettiges nie) verwerf ten koste van beide die privaatsektor se effektiwiteit en die staatskas se verpligtinge jeens die burgery. Staatskaping, daarenteen, is ’n funksie van individue of belange binne die privaatsektor wat verhoudings vestig met kaders met die doel om ’n monopolie in die privaatsektor te vestig of in stand te hou.

Tydens een van die bekendstellings van Enemy of the people vra die joernalis Redi Tlhabi die logiese vraag of apartheid nie ook maar ’n vorm van staatskaping was nie. Apartheid was ’n patronaatskapstelsel van wit en Afrikanerbevoorregting. Die praktiese werklikheid van apartheid is egter dat die Afrikanerstaat as’t ware die privaatsektor ideologies beset het. Staatskaping is die omgekeerde; dit is die besetting van die staat se jurisdiksie deur opportunistiese en korrupte belange binne die privaatsektor. Die mag en vermoë van die staat om die samelewing gedienstig te wees word dus beset deur akteurs in die privaatsektor ter wille van ekonomiese en monopolistiese belange in die formele ekonomie.

Terwyl Zuma byna elke grondwetlike en staatsinstansie uiteindelik na sy politieke wil sou knak, was daar ’n groeiende weerstandigheid vaardig – met wortels in die stryd teen die apartheidstaat – wat Zuma nie kon beheer nie. Vir meer as nege jaar stry nieregeringsorganisasies, die media en diverse belangegroepe ’n voltydse stryd teen Jacob Zuma in ’n poging om hom tot verantwoording te roep vir beweerde en gestaafde  korrupsie.

Hierdie boek deur Basson en Du Toit is ’n uiters belangrike dokument. Dalk selfs uiteindelik ’n historiese dokument. Maar die werklike waarde van die boek is dat dit ’n sosiaal-politieke verskynsel verteenwoordig van ’n samelewing wat ’n weerstand opbou teen die tipe vergrype wat die demokratiese proses ondermyn. Teen die tyd dat Cyril Ramaphosa en die amptenary van die ANC Zuma se pilare omgetrek het, was dit duidelik dat hulle dit nooit sou kon gedoen het sonder die gees van agitasie wat in die burgerlike samelewing en die media geheers het nie.

  • 1

Kommentaar

  • André Badenhorst

    Dankie vir Croucamp se verfrissende en vloeiende taalgebruik. Ek sou net graag wou weet - voordat ek die boek koop - waarom hy dit as ‘n moontlike historiese bron beskou. Wat onderskei dit van die oorvloedige media-beriggewing en hoe sou hy die skrywers se onbevange integriteit moveer?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top