En hadde de liefde niet: kanttekeninge by die liefdesverhaal

  • 0

Wie zegt dat je kunt beminnen
zonder leed of droefenis
die is niet goed bij zijn zinnen
of weet niet wat liefde is.

(Spaanse copla, anoniem, vertaal deur Dolf Verspoor)

There is a lack of understanding in
almost every love story.

(Pedro Almodovar) 

Wie oor liefdesverhale skryf, mag hom spoedig op afdwaalpaadjies bevind. Ek gaan probeer om areas soos die filosofie, die antropologie, die teologie en ander net in die verbygaan te noem en so ver doenlik suiwer literêr oor die liefdesverhaal te skryf.

My hoofbronne gaan drie bloemlesings uit die wêreldletterkunde wees:

  1. Liefdesverhalen uit de wereldliteratuur (1954), byeengebring en vertaal deur Clare Lennart, Jaap Romijn en Jacoba van Velde
  2. My eie bloemlesing liefdesverhale uit die wêreldliteratuur van 1977, maar helaas nooit uitgesaai soos beplan ni
  3. My Mistress’s Sparrow is Dead: Great Love Stories from Chekhov to Munro (2009), onder redaksie van Jeffrey Eugenides. 

Wat die drie bloemlesings gemeen het, is dat die verhale wat opgeneem is, onomstootlik literatuur is, en deur die groot kritikus, tyd self, as sodanig uitgewys is.

Hier volg steekproewe van die soort verhale wat in elkeen van die bloemlesings, die Nederlandse, die Afrikaanse en die Engelse, voorkom:

  1. Die Nederlandse bloemlesing liefdesverhale bevat onder meer: Het licht van het andere huis (Pirandello); Een roos voor Emily (Faulkner); Gigi (Colette); De oproep (Henry James); Droomnovelle (Arthur Schnitzler); Een volgzame jonge vrouw (Dostojewski); Immensee (Theodor Storm); Adolphe (Benjamin Constant); De haardos (Guy de Maupassant); Adieu (De Balzac); Griselda (Boccacio). 
  2. Die Afrikaanse bloemlesing bevat onder meer: Die klein meerminnetjie (Hans Christian Andersen); Die rendezvous (Toergenjef); Die ou kavalier (Isak Dinesen, beter bekend as Karen Blixen); Hotel Bonheur (Anna Blaman); De danseres van koper (Maria Dermout); Die Pruisiese Offisier (DH Lawrence); Die owerspelige vrou (Albert Camus); Op pad na Gomorrah (Ingeborg Bachmann); Patriotisme (Yukio Mishima); Die pyn (Pauline Smith). 
  3. Die Engelse bloemlesing bevat onder meer: The Lady with the little dog (Chekhov); The Hitchhiking Game (Milan Kundera); Mouche (Guy de Maupassant); Spring in Fialta (Nabokov); First Love (Isaac Babel); Tonka (Robert Musil); The Magic Barrel (Malamud); What we talk about when we talk about love (Raymond Carver); The bear came over the mountain (Alice Munro). 

Tien skrywers kan gevra word om bloemlesings liefdesverhale saam te stel, en die kanse is min dat daar oorvleueling gaan wees. In die bundels wat so pas genoem is, is daar net ’n enkele oorvleueling, naamlik “A rose for Emily” van Faulkner wat in sowel die Nederlandse as die Engelse bloemlesings opgeneem is. Die rede hiervoor lê voor die hand: “A rose for Emily” is doodgewoon een van die beste neo-Gotiese verhale in die wêreldletterkunde. 

As die wêreldvoorraad liefdesverhale onuitputlik skyn te wees, ontstaan die vraag of die liefdesverhaal hoegenaamd ’n onderafdeling van die kortverhaal is. Reeds in die Nederlandse bloemlesing van 1954 sê die samestellers: “[V]erhoudingsgewyse zijn er maar weinig verhalen waarin de liefde tussen man en vrouw niet op de een of andere wijze een rol speelt.” 

Waar ek van Lennart, Romijn en Van Velde verskil, is dat hulle die liefdesverhaal wil ineng tot man-vrou-verbintenisse. In die tyd dat die Nederlandse bloemlesings verskyn het (1954), moes daar al klaar rekening gehou gewees het met belangrike lesbiese en gay-verhale. Ook is die liefdesverhaal nie noodwendig ’n mens tot mens-aangeleentheid nie, en daarom het ek “Die owerspelige vrou” van Albert Camus in my bloemlesing ingesluit. Die getroude vrou in die verhaal gee haar nie aan ’n ander man of vrou oor nie, maar aan die magiese woestynnag. Liefde is ook nie spesiegebonde nie, soos in “Woestynliefde” van Honoré de Balzac, waar ’n vlugteling-soldaat noodgedwonge ’n grot met ’n jong panterwyfie moet deel, wat tot ’n romanse lei. 

Hoe meer liefdesverhale ek in my lewe gelees het, hoe meer het die oortuiging by my gegroei dat liefde nie ’n “many splendoured thing” is nie, maar eerder ’n “many layered thing”, alte dikwels met ’n donker subteks. Dit is ook die mening van my kollega Jeffrey Eugenides, wat in sy inleiding tot Great Love Stories from Chekhov to Munro sê: “Love stories depend on disappointment, on unequal births and feuding families, on matrimonial boredom and at least one cold heart.” 

Jeffrey Eugenides hel ’n bietjie oor na die siniese kant, maar feit bly dat die literêre liefdesverhaal baie kompleks is, en nêrens so kompleks as in sy hantering van die nosie “die gelukkige slot” nie. 

Eers moet genoem word dat die kortverhaal, alle kortverhale, uiteindelik bloot ’n rustoestand bereik, en geen finale opheffing van spanninge nie. Hieruit volg dat ook liefdesverhale bloot voorlopige rustoestande bereik: geen aardse geluk gaan maar aan en aan tot in ewigheid toe nie. Hierdie gekke opvatting het in burgerlike verbeeldings ontstaan, en word verhewig voortgesit in verstrooiingsverhale. Die literêre skrywer weet egter van beter; Ernest Hemingway by name. Hy het byvoorbeeld gesê: “There is no happy ending to a happy marriage”, bedoelende een party kom voor die ander te sterwe.

Móét die ideale liefdesverhouding dan met ’n ongeluk eindig, waarin beide vennote sterf, of met ’n selfmoordpakt, so gewild in die Hoogromantiek?

Natuurlik nie; so iets sou gruwelik wees. Die alternatief blý egter treurig: die langslewende in ’n verhouding sal vir die res van sy of haar dae met verliesverwerking besig wees.

“The Pain” van Pauline Smith is hier ’n klassieke voorbeeld. Die kinderlose egpaar Juriaan en Deltje, arm maar steeds diep gelukkig by mekaar ná vyftig jaar, moet ’n krisis hanteer. Deltje word geteister deur kanker, en uiteindelik span Juriaan sy wa in en neem Deltje na die hospitaal op Princestown. Juriaan bly in die veld naby die hospitaal, en besoek Deltje so dikwels as wat hy mag. Die hospitaalomgewing beklem beide oumense, asook die harde vriendelikheid van verpleegster Robert, en op ’n nag dra Juriaan Deltje weg uit die hospitaal, na waar sy wa reeds ingespan staan.

’n Serene verhaal, met ’n serene slot. Wat vergeet word, is dat ’n verhaal voortgaan ná sy slot. Deltje is ’n sterwende vrou, en wat sal van Juriaan se siel word as sy nie meer vir hom uit die Bybel kan voorlees nie? ’n Mens vermoed dat hy spoedig sal kwyn, want dié kinderlike ou man is kwalik toegerus vir verliesverwerking. Hy is byvoorbeeld ’n analfabeet.

Die sinsnede “Trou tot in ewigheid” is ’n cliché, maar dit kán voorkom, soos Juriaan en Deltje so oortuigend demonstreer.

Die minder plesierige waarheid is egter dat daar meer hoëvlakverhale oor liefdesóntrou geskryf is as oor liefdestrou.

Ek wil dié uitspraak illustreer aan twee beroemde liefdesverhale, die een klassiek, die ander een eietyds.

Die klassieke verhaal is “The lady with the little dog” van Tsjechof, ook bekend as “Die dame met die skoothondjie”. (Dié melancholiese en poëtiese verhaal is onlangs weer aangehaal in die verfilming van Der Vorleser van Bernhard Schlink.) Die betrokkenes, ’n getroude man en ’n getroude vrou, leef van ontmoeting tot ontmoeting, wat lank nie geluk in die konvensionele sin van die woord beteken nie. Tsjechof se raaiselagtige slot het lesers selfs ná baie jare aan die gis. Hoe, vra die betrokkenes, hoe maak jy jou los van die verbintenisse van die verlede? En dan volg hierdie woorde:

And it seemed that, just a little more – and the solution would be found, and then a new, beautiful life would begin; and it was clear to both of them that the end was still far, far off, and that the most complicated and difficult part was just beginning. 

Minder melancholies, nee selfs optimisties, is die onkonvensionele liefdesverhaal “The Bear Came Over the Mountain” van Alice Munro. Munro is ’n Kanadese skryfster wat jou in haar onderbeklemtoondheid dikwels aan Tsjechof herinner. “The Bear Came Over the Mountain” handel oor Alzheimer se siekte, en hoe dit ’n skeiding tussen twee beleë middeljarige mense bring. Die vrou in die verhaal, Fiona, dring daarop aan om in ’n inrigting vir mense met geheue-agteruitgang geplaas te word. Wanneer haar man, Grant, haar besoek, herken sy hom nie meer nie, maar lyk uitstekend aangepas, want sy het ’n nuwe liefde in haar lewe, ene Aubrey. Wanneer Aubrey se vrou hom kom weghaal, weens geldelike probleme, gaan Fiona vinnig agteruit, en is daar sprake dat sy na die afdeling vir gevorderde verswaktes moet gaan. Grant gaan ’n verhouding met Aubrey se vrou aan – of dis wat gesuggereer word – en oorreed haar om Aubrey terug te neem na die inrigting; hy sal betaal. Fiona begin weer lees en aandag aan haar voorkoms bestee, want haar geliefde Aubrey is weer by haar. Geluk word, in dié verhaal, deur ironieë gedra; tot twee maal toe.

Is konvensionele lesers in staat om ’n onkonvensionele “gelukkige slot” te aanvaar?

Ek is bevrees dat ’n verhaal soos “Mouche” van Guy de Maupassant sede-apostels selfs ná ’n eeu gaan skok. Vyf jong mans, almal in hul twintigerjare, arm maar lewenslustig, besit ’n boot waarmee hulle op die Seine vaar – “that lovely, calm, varied, stinking river, full of mirages and filth”. Van iemand wat die Seine só beskryf, moet ’n mens nie tydskrif-romantiek verwag nie. Al wat hul boot kortkom, is ’n helmsvrou, en na veel gesoek vind hulle ’n vrou na hul sin, lig van sinne, los van sedes. Sy behoort aan al vyf mans, en wanneer sy verwag, besluit al vyf dat hulle die vader is. Mouche is doodtevrede met dié reëling, maar weier om haar aan bande te laat lê deur haar groot lyf, en spring van die boot na die oewer, vas teen ’n klip. Daar volg ’n miskraam, en net haar sterk konstitusie trek haar deur. Sy treur oor die baba, ’n seunskind, maar haar manne troos haar en sê: Dan maak ons weer ’n baba vir jou.

Ja, die liefde is inderdaad ’n veelkantige en dikwels selfweersprekende verskynsel, maar dit vra meestervertellers om geykte opvattings te ignoreer en die oue weer nuut te laat word.

2

Die aanstigting tot hierdie praatjies was natuurlik my jongste, en stellig laaste, kortverhaalbundel, Die huis van die digter en ander liefdesverhale. Ek gaan bitter min oor dié bundel sê, want die verhale is almal reg deur see. Die leser kan van my teoretiese invalshoeke op enkele verhale toepas, bloot as speletjie, of net sowel ignoreer.

Die “teorie” waarna u tot dusver geluister het, het op Die huis van die digter gevolg, en nie andersom nie. Dit was die patroon dwarsdeur my skrywersloopbaan. Ek het dosyne en dosyne kortverhale geskryf voordat ek oor die kortverhaalgenre begin teoretiseer en spekuleer het, en dieselfde het met my kabarette en liedtekste gebeur: eers “bloedende praktyk”, toe teorie.

Ek het byvoorbeeld nie gaan sit met die voorneme om ’n bundel liefdesverhale te skryf nie. ’n Verhaal het hom self kom aanmeld: “Aletta van die oewererwe”, ingegee deur die rolprent One Night with the King, gebaseer op die boek “Ester” in Die Ou Testament. "Ester” het ’n besondere plek ingeneem in die leeservarings van my jeug. My Sondagskoolonderwyseres, tant Nan Lübbe, het dikwels gesê: “Kinders, julle hoef net een novel in jul lewens te lees, en dis die boek 'Ester’.” Ouma was net so lief vir “Ester”, en sy het my dit op die koop toe bygebring dat boeke soos “Ester” en “Rut” in een asem gelees moet word. Dit het ek en Ouma dan ook gedoen, minstens twee maal in my hoërskooljare. As ek moeg word van lees, het Ouma by my oorgeneem, en omgekeerd.

Die rolprent One Night with the King was egter vir my ’n groot ontnugtering. Die eens vervolgde Jode in die storie word later self barbaarse vervolgers, en Ester word darem altevol soos 'n skoudier gedresseer vir haar groot nag met die koning.

Gelukkig het ek die skryfster Joanna Trollope se inleiding tot “Esther” en “Ruth” raakgeloop. Sy meld dat “Ester” eerder in The Tales of the Arabian Nights tuishoort, en dit ís dan ook so dat hierdie boek teen opposisie in die Bybel gehaal het. Martin Luther het byvoorbeeld gewens dat dié verhaal nooit geskryf was nie. “Esther,” skryf Joanna Trollope, “is darkness in a beguiling mask of light.”

In my verhaal “Aletta van die oewererwe”, ’n knieval na beide Ouma en tant Nan Lübbe, laat ek duidelik blyk dat Aletta deur die sinnelikheid en barbaarsheid van “Ester” betower is, en dat haar verliefdheid op ’n misdadiger die regstreekse gevolg hiervan is.

Ek moet myself in dié stadium korrigeer: Die huis van die digter was nie regtig “bloedende praktyk” nie. Ek het met groot plesier aan die skryf gegaan en die een verhaal het ’n ander tot lewe gewek, en só, by wyse van ’n kettingreaksie, het die bundel ontstaan. Ek wou doodgewoon stories vertel, sonder postmodernistiese fraiings; stories soos dié wat ek in my jeug gelees het. En toevallig – of dalk ook nie toevallig nie – het hierdie verhale liefdesverhale geword.

Die DNS van Die huis van die digter kan net so teruggevoer word na die Bybelboeke “Ester” en “Rut”; na die navrante en dikwels neurotiese kultuursprokies van Hans Christian Andersen; maar bowenal na die kortverhale van Guy de Maupassant.

De Maupassant het my geleer dat die liefde ’n baie wye omvang het, en vele stemminge betrek, van sordied tot boertig; van wreed tot sereen. Maar dit het nooit by my opgekom dat ek spesifiek liefdesverhale gelees het nie; ek het bloot meesterlike verhale gelees, soos “Boule de Suif” (Bolletjie vet), “Die huis van Madame Tellier”, “Miss Harriet”, “Die twee soldaatjies”, “Die olyfbos”, en talle ander.

Ook het De Maupassant nooit voorgegee dat hy die liefde as fenomeen deurgrond het nie. Hy het gesê – en met dié woorde wil ek afsluit:

Liefde is nie ’n woord nie; dis ’n onsegbare toestand wat deur ’n paar letters aangedui word. 

Titel: Die huis van die digter en ander liefdesverhale
Skrywer: Hennie Aucamp
Uitgewer: Protea Boekhuis
Formaat: Sagteband
Bladsye: 96
Prys: R120
ISBN: 9781869193393

Klik hier om die bundel verhale by Kalahari.net te bestel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top