En die lyf bly warm

  • 1

Ek het vandag my eerste hoender geslag. ’n Haan. Daar’s te veel van hulle op die werf. Die henne word van hul neste af verwilder en bygekom om elke hoek en draai. Die vere sit al yl op hul rûe. Die bosvelder blyk ook te oud en te treurig om iets te doen oor die aangeleentheid en daarom het ’n hoër gesag ingetree en die balans herstel.

Die ou kêrel het bygestaan, reeds ’n gesoute slagter sedert sy dae as plaaskind. Beeste, skape, varke, noem dit maar op. Die hoender se lyf het ek sekuur tussen my bene vasgeknyp, die kop in linkerhand toegehou en die nek ’n bietjie uitgerek. “Nee,” het die ou kêrel gesê, “sny ’n bietjie nader.” Nader na die kop se kant toe. Daardie mes kon ek nie skerper bid nie. Twee of drie hale toe was die kop af. Die lyf het bly woel tussen my bene. Die nek het gedribbel soos ’n fontein. Daar was bloed op my hande. Daar was bloed op my denim. En al waaraan ek kon dink daar op my knieë in die gras met ’n sterwende hoender tussen my bene was voëlgriep. Voëlgriep? Voëlgriep! Ek kon daardie oomblik nie om bid nie. Toe trek die kop styf in my hand en die lyf word tegelykertyd stil. O Here die lewe is kosbaar, vergewe my.

Volgende moes die vere waai met sulke vinnige rukbewegings. En die lyf bly warm. Eers die sagte dons en daarna die penvere. Met die pluk van die stertvere het oorle haan ’n fatale tjorts gegee. “Ek sny gewoonlik sommer die punte van die vlerke af. Maak skoon sodat jy kan sien waar die bene bymekaarkom.” Ek weet volstruise het kloue aan die punte van hul vlerke. Het ek my ’n kloutjie met ’n enkele nael verbeel? Die gepluk het verder goed verloop. Daar was geen fyn veertjies oor om te skroei nie. Die haan was ’n kaalnek met vere soos ’n Silky. Skrikwekkend wat soms kop uitsteek so met die gene saam. “’n Hoender se vere kom nog maklik uit. Jy moet bietjie ’n eend probeer. Dan het jy ’n tang nodig om met die oortollige vere klaar te speel.”

Toe het ek die hoender versigtig oopgesny en die derms verwyder. En die lyf bly warm. Daarna het die pote en die stert gevolg. Laastens is die krop oopgesny, skoongemaak en die slukderm uitgehaal.

Die oggend was bewolk en koud. Die water uit die kraan kouer. Was. Was. Was. Maar die lyf bly warm.

Die hoender en uie prut nou reeds vir ’n geruime tyd in ’n kerriesous. Dit vat redelik lank om hierdie vrylopendes sag te kry. Sal skraps voor middagete die aartappels bygooi. Ek oorweeg ’n lekker paar snye bruinbrood as afronding. Smul saam, voor die kos koud word.

Adriaan

  • 1

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Jy gebruik nie 'n mes om met drie of meer hale 'n hoender nekaf te sny nie. Jy gebruik 'n byl - net een kap, jou dieremishandelaar!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top