
Desmond Tutu (Foto: Dale Frost, Port of San Diego; foto verklein en gebruik ingevolge die Creative Commons-lisiensieooreenkoms)
Oor die vraag watter faktore statuur aan ’n persoon gee, die omstandighede of ingebore wysheid, kennis en sedelike gawes, is daar geen eenstemmigheid nie. Waaroor daar grootliks konsensus bestaan, is dat materiële besittings, aansien en rykdom gewis min of geen bydrae lewer nie. Soos die Nobel-vredesprys slegs aan uitsonderlike openbare figure toegeken word, word die term “messiaanse figuur” met die invloedrykste individue verbind. “Aan min mense is dit gegee om reeds gedurende hulle lewe die bewondering van die mensdom so aan te gryp dat hulle legendariese figure kon word,” aldus wyle Johan Heyns.
Die messiaanse figuur – om heel in die algemeen enkele trekke van hierdie menstipe te skets – is die persoon wat bewus is van die roeping om op aarde ’n hoër, goddelike orde te bring waarvan hy of sy in hom- of haarself die beeld omdra. Sodanige figure wil buite hulself die harmonie verwesenlik wat in hulle aanwesig is. Die wêreld moet anders word as wat dit is – en juis dit lei tot verontrusting en noop tot die uiterste kraginspanning.
Anders as die heroïese mens word die messiaanse persoon nie deur die wil tot mag gedryf nie, maar is besiel met die liefde. Hulle verdeel nie om te heers nie, maar wil wat geskeie is, herenig. Hulle is nie gevul met haat en verset nie. Hulle sien nie in die mens ’n vyand nie, maar ’n broeder of suster met wie hulle kan en moet versoen.
Onwillekeurig word aan Johannes Calvyn, Moeder Teresa en pous Johannes Paulus II se erfenisse gedink. Hulle lewe en werk is as ’n gawe van God gesien in ’n tyd toe hulle roepings juis nodig was. Wat hierdie aspek betref, bestaan daar tussen Johannes Calvyn en Johannes Paulus II enkele merkwaardige ooreenkomste. Eerstens het Calvyn geroepe gevoel om die wankelrige Protestantse geloof uit te bou. Johannes Paulus II het die Rooms-Katolieke Kerk sy menslike beeld van omgee gegee.
Tweedens het hulle albei se swak liggame ’n gees geherberg was soos ’n ster geskitter het en sy lig ver en wyd versprei het, tot in die mees suidelike punt van die sogenaamde donker Afrika. Geen wonder dat daar kort na sy dood na Johannes Paulus II as die “Grote” verwys is nie.
Desmond Mpilo Tutu se heengaan op 26 Desember 2021 is met huldeblyke van regoor die wêreld betreur. Barack Obama, voormalige VSA-president, Time se Persoonlikheid vir 2008 en 2012 en Nobelpryswenner vir 2009, het na Tutu as ’n mentor, vriend en morele kompas vir menige verwys. As universele geestelike was Tutu in die stryd vir vryheid en geregtigheid gegrondves, nie net in sy eie land nie, maar oral waar ongeregtigheid gedy het, aldus Obama.
“Ons moderne geskiedenis kan nie sonder erkenning van sy aandeel geskryf word nie,” het Hein Willemse van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria met die viering van Tutu se 90ste verjaarsdag in Oktober 2021 geoordeel. Man van vrede, Nobelpryswenner. Man van onbesproke integriteit. Voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie, morele kompas van die nasie.
Vir die grootste deel van sy lewe was Tutu die verpersoonliking van die stryd om geregtigheid, wat in die ou Suid-Afrika dikwels met harde en snydende woorde gepaardgegaan het. “As jy neutraal staan te midde van ongeregtigheid, dan kies jy die kant van die verdrukker,” het hy gesê.
Met sy borrelende sin vir humor, dikwels ten koste van homself, het hy internasionaal bekendheid verwerf vir sy stryd teen apartheid. Plaaslik het hy opgestaan vir die vertraptes en onderdruktes. Vol hoop het hy ons met ons politieke bevryding die “reënboognasie van God” genoem.
Tutu was die verpersoonliking van sy eie woorde: “Jou gewone dade van liefde en hoop is bewys van die buitengewone belofte dat elke menslike lewe van onskatbare waarde is.”
Selfs al het Tutu vir miljoene Suid-Afrikaners gepraat, was hy vir talle ’n moeilikheidmaker en ’n huigelaar. By die benoeming vir die Nobelprys het Beeld destyds in ’n hoofartikel geskryf dit “is die eienaardigste toekenning wat tot nog toe gedoen is”; “’n mens moet jou gewete rek” by die aanhoor van “’n hoogs onwaarskynlike ontvanger” van die Vredesprys. Dit was onwaar, aldus Willemse.
Om innerlik heel en geesvervuld te leef terwyl hulle help bou aan ’n nuwe samelewing op die oorblyfsels van ’n bose bestel, weerspieël messiaanse figure edele beginsels. Hierdie beginsels, wat onlosmaaklik deel is van hulle wese, het ’n sterk aantrekkingskrag. Gustav Pienaar, wat by geleentheid spesiaal ’n erediens in die katedraal in Kaapstad met sy dogter bygewoon het in die hoop om Tutu se handtekening in sy nuutste boek te kry, het Tutu op ’n afstand fyn bestudeer. Tutu se religieuse wese en optrede weerspieël sy diep teologiese wortels en dit het Pienaar getref, sê hy. Hy deel met die lesers: “Die Arch het my beïndruk as ’n warm, liefdevolle, meelewende mens – nie verniet ’n Nobel-vredespryswenner nie.” Dit is jammer dat sulke mense moet oud word, het Pienaar met deernis verklaar.
Die vermoë om vergifnis uit te leef is ’n verdere lewenshouding van die messiaanse figuur. As ons diep beseer word, herstel ons nooit voordat ons nie vergewe nie, was een van Alan Paton, bekende skrywer en anti-apartheid aktivis, se oortuigings. “As ’n mens dink hoe Tutu in sy lewe verguis is, kan jy byna nie glo dat hy nie sy vyande gehaat het nie,” verklaar Jeannette Snyman. Hy het altyd sy morele kompas behou en met integriteit opgetree.
En hoe wonderlik was die “wit” vrouens wat so goed was vir sy ma in die vorming van sy wêreldbeeld nie. Dit is weer eens ’n bewys van die rimpeleffek van klein, goeie dade.
Tutu is, soos Nelson Mandela, ’n ikoon. Hulle vergewensgesindheid en totale aanvaarding van mense, ongeag godsdiens, politiek en seksuele oriëntasie, spreek van onbegrenste wysheid. Hulle het die wêreld ’n beter plek gemaak met hul onkreukbare karakters. Dan het hulle ook nie hulself te ernstig opgeneem nie – ’n duidelike teken van mense wat weet hoe om die lewe te vier en tot vreugde vir ander te maak.
Ons onthou die Arch met warmte en dankbaarheid as een van Afrika se grootste manne. Mag hy ons vorentoe steeds inspireer om beter mense te wees.
Vele van Tutu se boeke spreek van die skade wat apartheid aan menseverhoudinge en die psige van landsburgers berokken het. Apartheid het geen eerbied vir die lewe van die meerderheid Suid-Afrikaanse gemeenskappe getoon nie. Die wreedheid, lyding en onreg inherent aan die stelsel moes aangespreek en uitgeroei word. Tutu het by geleentheid geskryf: “Indien ons nalaat om met die verlede in ’n kreatiewe en positiewe wyse om te gaan, bestaan die risiko dat ons geen toekoms mag hê nie.”
Tutu se sterfdag moet die begin wees waarop elke Suid-Afrikaner sy of haar “reis van genesing” moet begin. Dít sal die grootste eerbetoon aan hom wees. So het Mamphela Ramphele, waarnemende voorsitter van die Aartsbiskop Desmond Tutu IP Trust, op ’n nuuskonferensie oor Tutu se dood gesê.
Piet Meiring, teoloog, skryf:
Saam met miljoene in ons land en oor die wêreld heen sal ek hom onthou as die Nobelpryswenner, die charismatiese leier wat plaaslik en internasionaal sy stempel afgedruk het. Ek sal Tutu onthou as die invloedryke swart teoloog wat ’n groot invloed op die denke in ons land uitgeoefen het. Saam met baie sal ek nooit vergeet nie hoe die moedige profeet, die Amos van ons tyd, vreesloos en sonder aansien des persoons vir reg en geregtigheid geveg het, en wat apartheid en alles wat dit meegebring het, vurig veroordeel en bestry het. Wat in die struggle vóór geloop het in die protesoptogte, maar wat altyd bly pleit het vir geweldloosheid. Ook die man wat in die nuwe Suid-Afrika met net soveel passie vir die armes en die gemarginaliseerdes bly veg het, wat nie gehuiwer het om die ANC-regering, sy ou medestryders, aan die kaak te stel nie. In die geskiedenis sal Tutu se rol as voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie waarskynlik as sy heel grootste bydrae bestempel word. Dit was my voorreg om dit mee te maak. Daarvan gepraat, wat my altyd sal bybly, is aartsbiskop Tutu se opregte geloof, hoe hy nie een tree sonder die Here wou gee nie. Hy het elke dag met die Here begin en afgesluit, en om eenuur elke middag het hy sy etensuur opsygesit vir gebed en meditasie. Ons kon gaan eet, het hy gesê, hy sal later weer by ons aansluit. Tydens die Sebokeng-verhoor het ek hom een etenstyd in ’n telefoonhokkie sien staan, met sy geboë hoof teen die glasdeur – die enigste stil plekkie wat hy kon kry. Sy liefde vir die Here was aansteeklik.
Nadine Gordimer, ook ’n Nobelpryswenner, het geskryf: “Ek is ’n ateïs. Maar as iemand my ooit so ver sou kry om ’n geloofsprong te maak, sou dit aartsbiskop Desmond Tutu gewees het.”
Op die voetspoor van die Here Jesus was Tutu lief vir mense, ook sondige, skuldige mense. Hy het die sonde en ongeregtigheid, veral van apartheid, verafsku, maar altyd volgehou dat mense kan verander, dat God hulle kan vergewe en hulle nuut kan maak. ’n Voorbeeld hiervan is Tutu se verhouding met die NG Kerk. Hy het die kerk se aanvaarding van afsonderlike ontwikkeling, veral die kerk se teologiese verdediging daarvan, gestriem. Maar hy het altyd volgehou dat ook die NG Kerk kan verander. In die 1970’s en 1980’s toe ’n groepie dominees, oortuig van die sonde van apartheid, begin het om protes aan te teken, om die kerk so ver te kry om sy standpunt te verander, was Desmond Tutu by om aan te moedig en raad te gee.
Toe Willie Jonker by die Rustenburgse Kerkeberaad in November 1990 almal verras het met sy skuldbelydenis oor apartheid, toe hy namens die Afrikanervolk, en heel in besonder namens die NG Kerk, om verskoning gevra het, was Tutu, wat as voorsitter opgetree het, dadelik gereed om die belydenis te aanvaar.
En ses jaar later, toe Freek Swanepoel as moderator van die kerk voor die WVK die moeilike reis van die NG Kerk met apartheid beskryf het, tot by die 1994-sinode toe die kerk uiteindelik apartheid as ’n sonde en die verdediging daarvan as kettery bely het, was Tutu – weer ’n keer in die voorsitterstoel – dadelik gereed om Swanepoel te omhels:
Ek wil die Here dank. Wat vandag hier gebeur het – dat u kom sê het dat u jammer is – was werklik wonderlik … Ek bid dat die Here die NG Kerk op ’n wonderlike manier gaan gebruik. Ek sê altyd, as ’n Afrikaner eers een keer die lig gesien het, draai hy nie halfpad om nie … Ek het lus om vir die duiwel te sê: Pasop, hier kom die NG Kerk! ’n Groot stuk genesing het alreeds begin plaasvind. Ek is bly julle is deel van die proses van versoening.
Neels Jackson, teoloog en joernalis, beklemtoon dat diegene wat oor ’n diepgaande kennis van Tutu se lewensfilosofie en denke beskik, weet dat impulsiwiteit of oppervlakkige oorwegings nie die dryfvere vir sy openbare optredes oor etlike dekades heen was nie. Daar was ’n diepe sekerheid en helderheid oor die geloofwaardigheid van sy strewe om ongeregtigheid aan te spreek.
In April 1988 reageer hy in ’n brief aan die destydse staatspresident, PW Botha, op beskuldigings dat sy teologie bepaal word deur Marxisme en ANC-propaganda. Sy teologiese posisie, het Tutu geskryf, berus op die Bybel en die leer van die kerk, wat eeue ouer as die ANC en die Marxisme is. Hy het verwys na die inherente waarde wat die Bybel aan mense toeken terwyl apartheid juis dít ontken.
Daarop het hy vir Botha geskryf: “Julle apartheidsbeleid is nie net onregverdig en verdrukkend nie. Dit is onbybels, onchristelik, immoreel en boos.” Maar selfs in dié brief verklaar hy: “Ons sien uit na die dag dat wit en swart in vriendskap en harmonie saam in die nuwe Suid-Afrika sal leef.”
Ná die politieke omwenteling van 1990 tot 1994 in Suid-Afrika het Tutu gedink sy rol in die politiek is afgehandel en dat hy hom by kerklike dinge sou kon bepaal. En onder sy leiding het die Anglikaanse Kerk byvoorbeeld vroue tot die priester-amp toegelaat. Maar uiteindelik kon Tutu nie loskom van sy profetiese rol nie.
In ’n stadium het hy vertel hoedat hulle altyd die NG Kerk verwyt het dat hulle nie sterk uitsprake teen die misstappe van die vorige regering gemaak het nie. Dan het die NG Kerklui vir hom gesê hulle praat wel in vertroulike gesprekke met die regering daaroor. Nou, het Tutu gesê, het hy besef hy is besig om dieselfde met die ANC-regering te doen. Daarna het hy nie gehuiwer om die ANC openlik en reguit aan te spreek nie.
Anton van Niekerk, hoogleraar in die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, beskou Tutu as a “visioenêre” figuur. “Die tragedie met visioenêre soos Tutu, Mandela en Gandhi is dat die wêreld hulle vereer, terwyl baie van hulle eie volgelinge nie hul insigte volledig snap nie en daarom nie die weg volg wat hulle aangedui het nie.” So het Pakistan en Indië se paaie uiteengeloop ten spyte van Gandhi se pleidooie dat Moslems en Hindoes mekaar moet aanvaar.
In Suid-Afrika is daar ten spyte van Tutu en Mandela se visie van ’n gemeenskap waar wit en swart tesame in vriendskap en harmonie leef, nog baie rassespanning. Maar dit beteken nie sy bediening was tevergeefs nie. Sonder hom kon Suid-Afrika se oorgang baie slegter verloop het. En vir die geslagte wat kom, sal Tutu se nalatenskap ’n helder baken bly van geregtigheid en versoening, van deernis met mense wat swaarkry en van God se liefde vir alle mense. Tutu was ’n toonbeeld van die heel beste uit die Christelike tradisie.
Dit gebeur soms dat die donkerste gebeure geboorte skenk aan onvergelykbare leiersfigure – mense wat uitkoms, rigting en hoop skep in sosiale katastrofes. Nelson Mandela en FW de Klerk het sleutelrolle gespeel in Suid-Afrika se bevrydingstryd. En dan is daar Desmond Tutu wat, sonder vrees vir oordrywing, sy regmatige plek in hierdie uitgelese geselskap mag inneem.
In sy boek oor wêreldvrede(makers) skryf Albert Einstein, die grootste wetenskaplike van die 20ste eeu, oor Mohandas Gandhi: “Generations to come will scarcely believe that such a one as this ever in flesh and blood walked upon this earth.” Dieselfde kan van Tutu gesê word.
Wat was egter ten diepste sy geheim – die kérnaspek van sy boodskap wat so ’n onuitwisbare indruk gemaak het op almal wie se paaie met syne gekruis het? Wat die grootste indruk op my gemaak het, was die diepgesetelde spiritualiteit wat al sy woorde en dade geïnspireer het. Sy spiritualiteit was geen oppervlakkige, kwasipiëtistiese of soetsappige vroomheid nie. Tutu het God ernstig opgeneem omdat hy God leer ken het as die menslike God – die een wat nie slegs werklik mens geword het nie, maar wie se menswording die sleutelaspek uitmaak van die humanisering of vermensliking van die wêreld. Tutu se God is die menslike God – en daarom ook die laggende God, soos hy dikwels aangevoer het. Hy is die God wie se beeld ons nie alleen dra nie, maar wat via diegene wat Hom bely die wêreld (wil) omskep in die ruimte waar ons mekaar vind en as medemense dien.
Afgetrede biskop Michael Nuttall, wat lank as adjunk met Tutu gewerk en ’n boek oor hom die lig laat sien het, het Tutu beskryf as iemand wat nie “op die een of ander kruistog van persoonlike verheerliking of selfvoldaanheid” was in sy stryd teen apartheid nie. “Nee, Desmond se reaksie op ernstige onreg kom uit die diepte van sy wese, en baie keer in reaksie op wat hy die Goddelike nudge genoem het. Dit was ons Arch op sy heel beste.
“Sy (stryd) was nie ’n wrede, ideologiese tog vir geregtigheid nie. Dit was altyd gegrond in genade … in ’n blywende, liefdevolle goedhartigheid: die sagte aanraking, die vergewensgesinde hart, die warm glimlag – o ja, die warm glimlag,” het Nuttall gesê.
Hierdie huldeblyke is in wese enkele persone se persoonlike menings wat nie in die minste doelbewus die indruk wil wek dat hy nie sonder foute en gebreke was nie. Die leser moet self oordeel in hoeverre Tutu as messiaanse figuur gehuldig kan word.
* Fokusprent by die artikel: Elke Wetzig; gesny, verklein en gebruik ingevolge die Creative Commons-lisiensieooreenkoms)
Bibliografie
Boonzaaier, Dawie. 2 Januarie 2022. ’n Nederige en dapper mens. https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/n-nederige-en-dapper-mens-20220101.
Frost, Brian. 1991. The politics of peace. (Voorwoord deur Desmond Tutu.) Darton, Longman & Todd Ltd, ble vii–x.
Heyns, JA. 1867. Denkers deur die eeue. Kaapstad: Tafelberg, bl 120.
Jackson, Neels. 2 Januarie 2022. Tutu: Toonbeeld van hoe ’n goeie Christen kan leef. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/tutu-toonbeeld-van-hoe-n-goeie-christen-kan-leef-20220102.
Meiring, Piet. 2 Januarie 2022. Tutu: die laggende profeet. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/tutu-die-laggende-profeet-20220102.
Pienaar, Gustav. 12 Oktober 2019. Tutu waardige houer van die Nobelprys. https://www.netwerk24.com/netwerk24/za/die-burger/eiendomme/tutu-waardige-houer-van-nobelprys-20191011.
Prince, Llewellyn. 26 Desember 2021. Desmond Tutu. Sy dood “moet begin van reis na genesing wees”. https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/tutu-se-dood-moet-begin-van-reis-na-genesing-wees-20211226.
Snyman, Jeannette. 31 Desember 2021. Mag hy aanhou almal inspireer. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/gesels-saam/mag-hy-almal-aanhou-inspireer-20211230.
Tyler, Carol. 2005. Punishment, forgiveness, and the rule of law: a vision for conflict resolution in Alan Paton’s Too late the phalarope. Case Western Reserve Law Review, vol 55.
Van Niekerk, Anton. 3 Januarie 2022. Desmond Tutu se groot geheim. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/desmond-tutu-se-groot-geheim-20220103.
Willemse, Hein. (2021, 6 Oktober). Tutu: Kompas en vredemaker. Beskikbaar by https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/tutu-n-kompas-en-vredemaker-20211005.


Kommentaar
Dankie vir hierdie besondere boodskap, Raymond (kollega, kameraad). Mens kan net hoop dat individue sowel as groepe wat hierdie buitengewoon liefdevolle en geliefde mens, agent van insig in en vergifnis vir die mens se toegee aan onkundegebaseerde vooroordeel, van innerlike krag, van byna Messiaanse integriteit (om die goeie te wil en nie anders te kan as dit grootliks te doen) hom sal rolmodelleer, eerder as ikoniseer. Lg. het inderdaad, soos jy noem, die potensiaal om mense agentskaploos te laat "aanbid", onwillig om eie denke en optrede so navolgenswaardig as dié van die sentrale figuur van ons verering uit te leef. Uiteindelik is die grootste huldeblyk aan die mens Desmond Mpilo Tutu nie om hom te aanbid as standbeeld, maar te waardeer as ewemens van rooi vlees en bloed deur agente van ons eie bes moontlike self te wees. En as ons dan daarmee sukkel, dan tog maar ten minste so veel moontlik sóós hy te wees. En dan, eers met outentieke jammer wees, sê en doen, sal ons sy medemenslike versoening en die vergifnis van sý eie goddelike rolmodel waardig wees.
Dankie hiervoor, Raymond. ’n Boeiende artikel. Dis net jammer oor al die giftige kommentaar hieroor op Facebook, geopper in ’n klaarblyklike poging om vandag nogsteeds die onverdedigbare sisteem van apartheid te probeer verdedig.