
Foto: Canva
Embrio
my muse het laasjaar,
soos ’n lydende genie
weggeteer tot niks
ek kon geen gebeure
so allergroots ervaar,
geen wroeging
effektief
of so enorm,
dat my beenmurg
die impulsboodskap
na my hande
kon gelei
my stem het
in ywer stilgelê
en met kopskud
nee gesê
vir enige
kiem of woord
wat kon maal en teel
om darem ’n volsin
te kon fatsoeneer
“God, net iets, asseblief!”
het ek gesmeek,
“selfs onstoflik,
dat ek dit kan
probeer besing.”
in roep verhoor,
klop daar tans
’n embrio
in my buik
se amnionsak –
ofskoon flou en onbeleë
is die roering daar –
gedienstig sal ek wag
dat haar water breek
en dat ek
die skone vrug
deur my skede
sal kan baar


Kommentaar
Dis regtig iets besonders.