Songs of the Veld and other Poems

  • 1

Ingelei deur Marthinus van Bart
Cederberg Publishers
ISBN  978 0 620 39432 1
134 bladsye, hardeband
R285
Africana / Boereoorlog

 
 

I

Die Anglo-Boereoorlog – of verder dan die ABO – bly een van die mees omstrede oorloë nog. Dit was ’n oorlog met ernstige menseregte-vergrype en indien ’n mens luister na die uitsprake van veral Britse historici in daardie meesleurende Scorched Earth van Herman Binge, sou vele van die soldate en bevelvoerders vandag ter take geneem geword het vir sodanige skendings.

Hierdie leser het uitgebreid gelees oor hierdie oorlog en onder andere dagboeke vanuit die konsentrasiekampe bestudeer, asook etlike ander bekende dokumente. Songs of the Veld and other Poems dra die subtitel Engelse gedigte oor die Boereoorlog. Dit word ingelei deur Marthinus van Bart, oftewel: Martiens van Bart wat veral op Saterdagoggende in By kultuurhistoriese essays skryf en baie belangrike bewaringswerk op hierdie manier doen.

Songs of the Veld is dan ’n bundel met oorlogsgedigte wat aan die vergetelheid ontruk is. Dit is in 1902 in Londen gepubliseer. Die anonieme verse het as’t ware die impak van die oorlog aan die buiteland verraai en die verse is naamloos gepubliseer weens vrees vir vervolging.

Figure soos C Louis Leipoldt, Betty Molteno, Alice Greene, Anna Purcell, Frederick Carl Kolbe en Albert Cartwright was van hierdie digters wat nie geskroom het om die onmenslike verskroeide-aarde-beleid te ontbloot nie. Dit het uiteindelik tot die konsentrasiekampe gelei wat weer aktiewe optrede van figure soos Emily Hobhouse ontlok het.

 

II

Dit is vanselfsprekend dat Songs of the Veld minder hartlik in Suid-Afrika ontvang is. Die boek is vernietig en verbied en slegs enkele eksemplare het behoue gebly. Van Bart rekonstrueer die voor- en agterblad van hierdie teks soos wat die oorspronklike teks gelyk het. Die tekste wat behoue gebly het, is ingesmokkel en ’n mens sou jou ook kon afvra: hoe ironies dat hierdie teks nou verkrygbaar is ten tyde van ánder oortredinge …

’n Mens moet dan ook hierdie boek lees saam met Wium van Zyl se Hierdie land van leuens. "Brieven uit de Kaap Kolonie", waarin Leipoldt as kolonialer vir die leser sy indrukke van die oorlog weergee. Van Bart se deeglike en belangrike studie beklemtoon dat die ABO-oorlog nie net ’n oorlog was tussen Boer en Brit nie. Trouens, historici soos Bill Nasson beklemtoon die pro-Boer-aandeel van swart mense aan die oorlog.

Op die buiteblad verskyn daar ’n beeld van die antieke beeldhouwerk die Griekse Gevleuelde Vryheid van Samothrace, wat in die Louvre in Parys ten toon gestel word. ’n Afdruk hiervan het in Olive Schreiner se huis gehang en die beeld op die stofomslag is dan ter ere van Schreiner. In Schreiner se woorde: “Gebroke, ontsier sonder kop of arm – en tóg so kragtig, voortstrydend na die oorwinning!”

Van Bart wys op die mistasting dat die oorlog nie ’n suiwer militêre magstryd tussen Boer en Brit was nie. Die niewapendraende burgerlikes van die Kaapkolonie het net so ’n belangrike rol gespeel as die gewapende burgers op kommando (xiii).

Engelssprekendes, Fingo’s, Italianers, Duitsers, Franse en burgerlikes van ander nasionaliteite het hulle teen die oorlog verset. In my persoonlike navorsing het die briewe van Emily Hobhouse aan mev Steyn (saamgestel deur Rykie van Reenen) belangrike perspektiewe gebied.

Wat hierdie gedigte dan wil beklemtoon, is dat die gedig as propaganda mense kon bewus maak van die lyding, en die seminale rol van Leipoldt word deur Van Bart uitgewys.

Die boek bevat belangrike foto’s en die teks is in sowel Engels as Afrikaans gedruk, wat dit vir elke Suid-Afrikaner verpligte leesstof maak.

Daar word agtergrondsinligting verskaf oor die Jameson-inval, en die belangrike politieke rolspelers soos Milner, Kitchener, oom Paul, Rhodes, president Steyn en andere se rolle word omskryf. (Milner is dood aan slaapsiekte nadat ’n tsetsevlieg hom gesteek het en Kitchener is tydens die Eerste Wêreldoorlog op ’n sending na Rusland onderweg toe sy kruiser HMS Hampshire deur ’n Duitse seemyn gekelder is (liv)).

Die studie is uiters deeglik nagevors met ’n voorwoord, biografiese besonderhede oor die digters, ’n kontekstualisering van die oorlog en die rol van The New Age in Londen wat hierdie gedigte gepubliseer het. Die voetnote op sigself is ’n studie-in-die-kleine.

 

III

Oor die figuur Leipoldt skryf Van Bart uitgebreid en hy betrek Van Wyk Louw se bekendste uitspraak oor hierdie digter: "In die dae van ons grootste nood was Leipoldt die hart van die Afrikaanse volk (…) Elke blommetjie, elke diertjie van ons veld het hy genoem asof dit die laaste keer was wat dit genoem sou word” (lxxiii).

As hofverslaggewer was hy dus ooggetuie by die krygshofverrigtinge waar mense ter dood veroordeel is. Al die blanke inwoners, skryf Van Bart, was verplig om hierdie bombastiese en intimiderende magsvertoon by te woon. Alleen hierdie besonderhede, die konsentrasiekampe daargelaat, bewys hoe wreed en onmenslik hierdie oorlog was.

As navorser wys Van Bart onder andere op feitefoute, soos dat die gedig oor Gideon Scheepers deur Betty Molteno en nie Olive Schreiner nie, geskryf is.

Daar is ook dertien gedigte van Bertrand Shadwell in Songs of the Veld opgeneem – ’n verdere bewys dat hierdie oorlog nie as ’n blote Brit-Boer-oorlog getipeer kan word nie.

 

IV

Die gedigte is opstandsverse en hierdie soort gedig werk met retoriese strategieë soos die pryslied wat ons in onder andere Xhosa-digkuns vind.

“Two June Pictures” karteer die verskille tussen hier en daar en die leser word bewus van die pynlike realiteite van ’n verwoestende oorlog.

Proud England, till thou, too shalt peak and pine
That innocent blood shall rest upon thy head.

Aangrypend is die vers oor “Miss Hobhouse”.

’n Vers soos “Scheepers” ontmasker die Britte se “blank indifference”.

Dit is dan gedigte waarin die aanklag botvier en hierom dan die herhaling van ellendes en die gebruik van uitroeptekens.

Soos die struggle-gedigte in die tagtigerjare wil die verse lesers en toehoorders mobiliseer. Die verse is hierom uiters emosioneel en dikwels skril.

Dikwels is die dood in die gedigte aanwesig, as ’n werklikheid en laaste uitweg.

Die siel kan egter nie verslaan word nie. God word aangespreek, soos in “The end is not yet”, en die “unequal fight” sal elders (in die hiernamaals) besleg word. Die beroemde vers van ene FWB (Leipoldt se pseudoniem), “The execution in Cape Colony”, is ’n vers van aanklag:

The gibbet and the grave gave life, and will
Give life to those that strive and strain
For freedom and its cause; nor strive in vain
Those whose desires need force and cords to kill.

Gedigte word dikwels van datums voorsien en plekname situeer die gedig histories.

Daar is die bekende vers oor Christiaan de Wet deur AP wat weer in gesprek tree met Shadwell se gedig. (In die refrein hoor ’n mens die moderne liedjie "De la Rey …".) Die gedig werk met dieselfde struktuur as die “Erlkönig”.

Daar is verse oor kinders en versugtinge dat die Empire ’n prys sal betaal vir die oorlog en ongeregtighede.

To the God of Battles

Never again, O Lord,
Let the young nations of the World – if small –
Rejoice in England’s might, or trust her word.
Prayer – and the Empire – will devour them all.
 

V

Dit is ’n verstommende boek met ’n uitgebreide bibliografie, goed nagevors en ’n moet vir elke leser van die Afrikaanse geskiedenis en digkuns. Hier kan jy lees oor hoe Emily Hobhouse gedeporteer is, maar tog met onverdrote ywer die skandalige toestande onthul het in haar boeke; hoe Cecil John Rhodes mevrou Maria Koopmans-De Wet se kritiek gevrees het: hy het haar die gevaarlikste persoon aan die Kaap genoem. En in welke mate die Haagse konvensie oortree is, word weer sterk na vore gebring (cxlii). Trouens, hierdie studie beklemtoon onder andere die rol van intelligente en vreeslose vroue in hierdie tyd en dit bewys nogmaals dat jy nooit ’n digter of gedig kan doodmaak nie. Die gedig sal terugkeer.

Aantekeninge

Die volgende gedigte het ek geskryf oor hierdie oorlog en meer spesifiek oor die figuur Emily Hobhouse.

Emily Hobhouse, ’n selfgesprek

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog ruik?
Mag ek u vertel, meedeel
van die ellendes daagliks uitgedeel
soos stinkende kospakkies? Hoe ’n vader sonder
steun sy kind se uitvaart moet aanskou?

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog klink?
Hoe ’n moeder vir dae sonder trane
’n lyk op haar skoot hou,
’n woordelose wiegelied?
Op Springfontein word ’n jong vrou
in ’n grys sak ter aarde beklink.

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog proe?
Die rens melk, die vleis vrot,
skifsels meel langs vlieë en luise,
luise en vlieë, en vlieë, en nogmaals vlieë,
digby grafte soos gapende wonde.

Heer Kitchener, Heer Milner,
vandag het ’n baba van drie maande gesterf.
En op hierdie dag, die hereweet,
nog twee ander …
Vir die vaders, vegtend tot die bitterend,
’n swart-en-wit kiekie
die enigste nalatenskap …

Heer Kitchener, Heer Milner,
ek sien die wit blom
in die hand
van ’n kind, stóm.

Heer Kitchener, Heer Milner,
hoor my, hoor my aan.

 

Emily Hobhouse in ’n ongeposte brief aan Tibbie Steyn:

Ek dank jou
vir jou warm brief
uit die Verre Vrystaat

met biltong,
ingelegde vrugte,
flertsies groen kweper,
’n klein karmenaadjie
my toegesend.

Ek proe my
aangenome land
in ’n toegetrekte keel:
sien vroue
wat weef en spin
in ’n verre Philippolis …

O Tibbie,
hier is ek ’n rebel,
’n leuenaar,
’n vyand van my mense …
 
Maar ek weet:
eendag sal my gees
weer sweef
oor die wye velde
van my Troue Land.

Hoe graag sou ek nie
by die monument 
wou klaag?
My dank vir die voordrag,
die lees van my brief:
vir die wonde wat jy, Tibbie,
só selfloos,
ón-stoets,
namens my dra.

 

Bronne

Binge, Herman. Scorched Earth.

Krog, Antjie. 1998. Country Of My Skull. Johannesburg: Random House.
 
Pakenham, Thomas. 1979. The Boer War. New York: Random House. 

Schoeman, Karel. Witnesses to War. Personal documents of the Anglo-Boer War (1899–1902) from the collections of the South African Library. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Reenen, Rykie. 1984. Emily Hobhouse. Boer War Letters. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Zyl, Wium. 2002. Hierdie land van leuens. Brieven uit de Kaap Kolonie van C Louis Leipoldt. Kaapstad: Africana Uitgewers. 2002.

http://en.wikipedia.org/wiki/Emily_Hobhouse, afgelaai 6 Junie 2008.

http://zar.co.za/hobhouse.htm 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Dawie Pansegrouw

    My ouma het 'n liedjie gesing uit die ABO met woorde soos: "daars geld genoeg vir brandewyn en twak, en dit kom als uit 'n man se sak ..." Ken iemand hierdie liedjie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top