Reuk van die dood voldoen nie aan die verwagtinge nie

  • 0

Riana Mouton
ISBN:
9780799342406
Formaat:
Sagteband, 152 x 222 mm; 329 pp
Kategorie: Speurroman
Handelsprys:
R130,00

LAPA-Uitgewers beïndruk gereeld met publikasies van uitstaande gehalte, en die verwagting is groot wanneer ’n mens Reuk van die dood deur Riana Mouton oopslaan. Dié boek is besonder mooi uitgegee, met ’n treffende omslagontwerp deur Flame Design (die omslag beloof ook – in beskeie wit lettertjies – “’n opwindende naelbyt-debuut”), en is gedruk op papier van goeie gehalte. Van dié sterk, spierwit bladsye is daar altesaam 324: ’n lywige boek, soos dit hoort. Skrywers soos James Hadley Chase, wat skaars meer as 100 bladsye nodig het om die bloed onder lesers se vingernaels te laat uitsyfer, is dun gesaai: spanningsverhaalskrywers het ’n breë doek nodig. Dis ook hoe aanhangers van hierdie genre dit verkies: “blockbusters” wat hulle lánk aan die ril en raai sal hou.
         
Die vraag na Afrikaanse naelbytstories het oornag toegeneem en nog ’n stem in hierdie genre word verwelkom. En dit ’n vrouestem! Is hierdie ons eerste rasegte spanningsroman deur ’n vroueskrywer (met die uitsondering van enkele dunner boekies wat ’n kort raklewe gehad het, en Chanette Paul se “suspense”-rillers wat blykbaar ’n genre op sy eie is)? Het ons eie Patricia Cornwell eindelik van haar laat hoor: ’n vrou wat wéét hoe om die bloed in lesers se are te laat stol en die “staying power” van ’n Francois Bloemhof of Deon Meyer het?

Dis gou duidelik dat die skrywer die óú resep nadergesleep het: die held, ’n polisiespeurder, is groot en sterk met ’n plofbare humeur. Hy rook, al wil hy nie, en dwing homself om gereeld te gaan draf. Daar is ’n fout in sy draadwerk: in dié geval kan Junior Scheepers nie sy hande van getroude vroue afhou nie, al wroeg hy daaroor.
         
Sy missie is – hoe anders? – om ’n reeksmoordenaar op te spoor wat vroue martel en een van hul vingers afsny voor hy hulle doodmaak. Die moorde neem toe en so ook die druk op Junior en sy kollegas. Daar is verskeie verdagtes en kinkels en doodlooppaaie, presies soos genre-aanhangers daarvan hou.

Maar wat van lesers wat só ’n boek opneem met die hoop om iets vars en spesiaals op die lyf te loop? Selfs gereelde lesers van spanningsromans verwag dikwels iets nuuts en besonders bínne die voorspelbare resep; hulle smag na daardie één boek wat hulle ná ’n jaar steeds sal onthou, al het hulle intussen vyftig soortgelyke romans gelees.

Daar ís hier en daar ’n tikkie oorspronklikheid, soos dat dit wil lyk asof ons met twéé reeksmoordenaars te doen het wat dieselfde modus operandi volg. Maar eindelik is hierdie boek net nog ’n boeiende verhaal oor ’n uitgeslape reeksmoordenaar. Of twee.

Met misdaadrillers is die sielkundige aspek belangrik. ’n Skrywer moet weet hoe haar karakters se koppe werk en hóékom hulle só werk; daar moet geloofwaardige verklarings wees vir hoekom haar karakters op bepaalde maniere optree en bepaalde besluite neem. Dit geld veral die skurk, of skurke, wat uit die aard van die saak ’n stewige klap van die windmeul weg het: niemand sal glo iemand moor sommer uit verveeldheid nie. Dan is daar die speurder-held (wat self ’n hopie emosionele bagasie het) wat met die hulp van deskundiges moet probeer raai wat in die moordenaar se kop aangaan en wat die volgende skuif sal wees.

Met uitstaande misdaadrillers is dit juis die sielkundige spel tussen speurder en moordenaar, skrywer en leser wat die deurslag gee. Dié aspek moet bydra tot die spanning en inherent deel wees van die verhaalstruktuur eerder as om die pas te vertraag.

Reuk van die dood is in dié opsig ’n belowende boek … maar dis beloftes wat nie nagekom word nie. Die gevolg is ’n “lugleegte” in die verhaalgegewe. Almal weet reeksmoordenaars se optrede volg gewoonlik op ’n traumatiese kindertyd. Aan die einde van hierdie boek verklaar ’n karakter hy voel geen jammerte vir reeksmoordenaars nie: al het so iemand ’n moeilike lewe gehad, het hy steeds beslúit om hom op onskuldige slagoffers te wreek, ’n besluit waarvoor hy verantwoording moet doen.

Is dit wérklik so, of moor reeksmoordenaars soms omdat hulle nie anders kan nie, soos in die fabel van die padda en die skerpioen? Indien daar wel ’n bewustelike besluit is, hóékom sal so iemand besluit om onskuldiges grusaam te vermoor pleks daarvan om “hulp” te gaan soek” (bl 323)? Al word die skurk(e) (onthou: miskien is daar meer as een!) in Reuk van die dood se traumatiese kinderjare geïllustreer, bly die motivering vir die reeksmoorde halfgebak. Die implikasie is: as iemand sekere dinge as kind deurmaak, sál hy in ’n reeksmoordenaar ontaard en is geen verdere verklaring nodig nie. Maar wat van die bewering dat moord altyd ’n keuse is?

Die skrywer trap dus in dieselfde slaggat as vele gemiddelde spanningsromanskrywers: sy impliseer sommige mense is “boos” en ander “goed”, en klaar – asof dit werklik so eenvoudig kan wees.

“Dis genrewerk!” hoor ek sommige lesers sê. “Spanningsromans wérk maar soos hierdie een.”

Die verskil is: hierdie boek smeek om werklik uitstáánde genrewerk te wees, maar voldoen nie aan die verwagtinge nie.

Die leser hou van die speurder-held, het selfs deernis met hom, maar word weer gekul deur ’n gebrek aan sielkundige motivering. Junior se losbandigheid word aan sy ma se bedenklike gedrag toegeskryf, maar wat van daardie “doelbewuste besluit” wat ongewenste optrede voorafgaan?

Wanneer Junior een van sy kollegas te lyf gaan, kry ’n mens die indruk dat die skrywer dié brutaliteit regverdig, maar waaraan het hierdie kollega hom skuldig gemaak waaraan Junior nie óók skuldig is nie? As hy later berou sou hê oor sy optrede, sou Junior meer “gerond” wees, maar ook dié karakter bly so plat soos ’n pannekoek.

Dis asof die skrywer bang was haar speurder is nie “macho” genoeg om as held in ’n speurverhaal te kwalifiseer nie. Die algemene indruk is dat sy die potensiaal vir iets groots geskep het, maar gekortwiek is deur haar vrees om die oeroue genre-grense te oorskry en iets spesiaals bínne hierdie grense te probeer doen.

Algemene slordighede is die finale spyker in Reuk van die dood se doodskis. Hoekom sou een van die verdagtes homself byvoorbeeld doelbewus inkrimineer deur ’n gesprek met ’n ánder verdagte op band op te neem?

Die oormaat taal- en stylfoute is aanvaarbaar as die perspektief waaruit die verhaal vertel word, in aanmerking gebring word, maar net tot op ’n punt. “Sy hart galop soos ’n resiesperd in sy bors” (265) en “met alle redelike sekerheid” (dieselfde bladsy) is die taalgebruik van ’n lui skrywer. Of wat van “Junior gooi ’n laaste ernstige blik in die man se rigting” (214)? Cappucino word op bl 208 twéé keer verkeerd gespel. “Nou kom vang jy vis in ’n pispot” (223) is nie ’n erkende idioom óf ’n nuutskepping nie – dié uitdrukking kom uit Dalene Matthee se Fiela se kind. Daar is baie ander voorbeelde, ook van setfoute wat misgekyk is, soos die dubbele “die” op bl 273.

Hier faal die uitgewer sy skrywer op die mees basiese vlak: slordige teksversorging. Maar LAPA verdien veral ’n oorveeg omdat hulle óf nie die moed gehad het om te probeer om die skrywer die beste uit haar storie te laat haal nie, óf haar nie kon oortuig dat sy dit moet doen nie. Dis asof die uitgewer té haastig was om die boek op die rakke te kry.

Dat ’n mens nogtans voel jy het ’n lekker leeservaring agter die rug, bevestig Mouton se potensiaal. Reuk van die dood bewys dat ’n skrywer met moord kan wegkom as sy vlot en boeiend kan skryf. Maar wie wil nou ’n moord op jou gewete hê?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top