Mooiloop | LitNet-skrywersdorp: Sutterland, my hartland

  • 1

In haar kortverhaalbundel Om te vlerk het Nanette van Rooyen saam met voëls gevlieg en in haar roman Chinchilla het sy pelsdiere getroetel. Maar wanneer haar hart pad vat, is dit na ’n dorp in die Noord-Kaap.

Minstens eenkeer per jaar, in die winter, wanneer die veld hard is van die koue, wil ek terug. Na daar waar die vaalkorhaan laatmiddag “pyp-en-tabaksak! pyp-en-tabaksak!” roep. Snags die dikkop of ’n langasem-uiltjie. Dis wanneer die sneeu nie wit lê nie, want dan is dit tjoepstil. Net so stil soos op ’n snikhete middag in Januarie wanneer die horison dans van hittegolwe, en my oom Gustav sou sê: “Kyk daar hoe galop die bo’jane!”

Op Sutherland, in 1962, is ek gebore in die hospitaal wat aan dieselfde kant van die dorp as die begraafplaas lê. Mieliekop se rigting. Oupa Carel Symington is eienaar van die hotel, en ons bly in kamer ses. Ma noem my Nanette tot Alie op ’n dag op Ma afstorm en sê: “Nee, jinne, Miss Albie, Oumies huil al heeldag in die spens oor die kind se naam.” Ek kry nog twee name by en Ouma kom uit die spens uit en maak melkkos.

My ma is een van die 10 Symingtonkinders van Hentie en Carel. In hul lyfhitte word ek groot. Oupa Carel steek sy pyp vir my weg en tel hoe vinnig ek dit kan opspoor. En saans voor slaap kom sit ouma Hentie by my op die bed en haal haar bril af sodat ek Oil of Olay aan haar sagte wange kan smeer. Vroeër jare, toe hulle nog op Ou Van der Waltskraal gebly het, het Oupa gesorg dat hy ’n perd het, en altyd die beneukste een onder die spul. Nou nog is ons nie seker of dit was oor hy altyd wou kragte meet, en of hy hulle net goedkoper gekry het nie. Hulle vertel dat Oupa in die soet van ’n goeie seisoen teen Lesant se breë bors sou tik en as dit dril, hy ’n tevrede man van die perd weggestap het.

Nou onlangs gaan wys my ma vir my op Van Der Waltskraal (waar haar neef Nelis woon), waar oupa Carel se pa, Cornelius Symington, teen die rivierwal onder ’n oorhang vir die Engelse weggekruip het. Hy was doodsiek aan die masels en daar is hy deur sy vrou versorg totdat dit veilig was om uit te kom. Dis ook op Van der Waltskraal waar ek op die kraalmuur gaan sit om te kyk hoe die skape geswael word teen vrotpens, want dis skaaptrektyd. Die skaap trek van wintersplaas na somersplaas om te oorleef. Saans maak Loraine “smelt-in- die-mond” boudskywe met ’n lang sous.

En nou van die Esterhuyses, van pa Tokkie se kant af. Ook Sutherlanders. Van hulle weet ek min omdat almal vroeg oorlede is. Al die manne in die lyn af heet Daniël Christiaan Esterhuyse. My oupa, Daantjie Blouboontjie, en sy pa, Swart Danie. ’n Moeilike man wat perd gery het met ’n gestyfde boordjie en ’n hoed op. Soms ’n sambreel in die hand as die son te fel was. En die oer-oupagrootjie, digter van die eerste Afrikaanse digbundel in 1861. Van hom weet ek dat sy seuntjie dood is aan die gif van ’n kraaitulp, en die boekie het ons aangegee na die Boekehuis in Calvinia.

Van my heimat het ek mense met lae stemme wat met stil oë reguit na jou kyk. Hulle praat van skaap in die meervoud, en wanneer die kapok wit lê, vryf hulle oor hul kneukels om die koud uit die been te haal. Jy is ’n Sutherlander of jy is ’n Inkommer. My gedagte aan Sutherland is meer as geografie en natuur. Dis die mense wat ek ken, en dié wat ek net die stories van ken.

Dis van Rooikat en Mordechai, Pluiskuil en die Uile. Oom Willie Pos wat met sy poskar langs die Visrivier afkom, oor Rooiwal en dan met Renosterrivier langs terug Sutherland toe. Oom Willie Wilson, die togryer, van wie Ouma jaartse paisleylap gekoop het, en vir wie Oupa in ruil ’n vars skaapvel gegee het. Van Rooi Rose wat sementbeelde in haar tuin gehad het, self gemaak, wat sy saens in goiingsak moes toemaak sodat die kinders dit nie met klippe stukkend gooi nie. Van haar het ek ’n potjie roosblaarkonfyt gehad (wat ek van ’n joernalisvriend van my gekry het) wat tydens die skryf van Chinchilla soos ’n talisman by my rekenaar gestaan het.

Al die Symingtons is goeie storievertellers. Hulle is mense met harte, sag genoeg om te breek van die verdriet. Of van die cholesterol, tot my spyt. Sit jy hulle om ’n etenstafel of langs ’n vuur praat almal gelyk en oormekaar. Dan huil hulle, en dan lag hulle. ’n Inkommer moet dit swaar hê met so ’n geraas!

Maar daar is te veel stories vir een asem. En dis eintlik van Adoons wat ek wil vertel. Later toe ons al weg is Groot- Karoo toe, het ons steeds eenkeer per jaar in Sutherland gaan kuier. Wanneer my ouers nie kon nie het ek myself daarheen geneul sodat dit later ’n instelling geword het. Dis die tyd wat Ouma-hulle die hotel verkoop en Primrosestraat toe getrek het. Dieselfde kant van die straat as die Ark (wat vroeër jare ’n kerk was). Adoons was hul werker, nutsman, trooster, vertroueling en het uiteindelik die Krisjan-karakter in my boek geword. Dit was die tyd van die chinchillas, as ek my datums reg het. Agter die houtsparre, wat die huis en buitekamer van die lusern en sonneblomme geskei het, was die chinchilla-skuur.

Van Adoons het ek geleer om dolosse in ’n stroopblik te kook, met ’n skraapsel klipblom en ’n bietjie water, om roesbruin afrikanerosse te kry. Soms het hy ’n bok se kakebeen gebruik as die wa. Hy het vir my gewys dat bokhorinkie ook ’n vetplant is. Hy kon vinkels en baroe uitgraaf en het my aan suringstingels laat kou. Wanneer die lusern blou was, het ons die blommetjies geproe. Soms het hy my bang gepraat oor die geelslang wat jou kan injaag, want hy byt sy stert vas en rol soos ’n fietswiel agter jou aan. Wat weet ek tog? Ook, dat ’n mens ’n skaapram nooit te vinnig kan aanjaag nie, anders ruk sy stertpunt af.

Saam met hom het ek geloop om die koei by die meentgrond te gaan haal. Soms het die straatlampe al gebrand. Dan het ons onder elke lamppaal gestop en gefluit. As die lamp geflikker het (dit het selfs eendag gedoof), was dit ’n teken van Bo. Nou nog is ek in die gewoonte om ’n lamp se teologie te beproef, en wanneer dit flikker, weet ek Adoons hou hom nog steeds engel.

In Sutherland het ek woorde geleer. Gustav, my ma se oudste broer, sou sê hy het “sy maag nou bitter geskrik” vir die vlakvoëltjie wat skielik onder sy voete uitgevlie het. Of, “hy het soos ’n korhaankuiken tussen die bossies en klip neergeval”.

Daar het ek ook geleer van velle. Ma vertel hoe ouma Bettie (my oumagrootjie) ’n boerbok se vel gebrei het: die vel is afgestroop van sy agterlyf tot by die nek; die nek en pote is toegewerk en kon dan koring hou. Kleiner knapsakkies is van steenbokkies gemaak en daarin is geld gehou. Van ’n meerkat het sy ’n sakkie vir haar knope gehad.

’n Winter in Sutherland ruik anders as die somer, en al die ander seisoene. Daar is minerale op die lug en wanneer die wind waai en die fyn reëntjie in die lug vries, dan prik dit soos spelde oral waar dit jou tref. Jou vingers word krom en dom, en nie ’n voël se fluit is hoorbaar nie. Dan is daar nie vermoedens van die Turknael wat enkelhoog blou kan staan nie. Of die gansgras geel in blom nie. Dan sien jy nie die ploegskaar-skilpad met die punt waarop sy nek lê nie. O nee, Sutherland se winters is onbarmhartig en stil.

Nie soos die lente, waarin ouma Hentie haar sesmaande oue dogtertjie verloor het nie. Sy het die ouer kinders veld ingestuur om blomme te pluk vir Lourenza. Botterblomme, gousblomme, pienk kalossies, wit spekbos, gansgras en tjienkerientjees. En ’n enkele rivierlelie.

Dit was vir haar verkeerd dat ’n kind in die lente doodgegaan het. September is mos die tyd vir lewe. Wanneer selfs die knoppiesdop-skilpad se dop geler en rooier gestreep is. En die kolgans en bleshoender langs die kuile in die rivier kom kuier. Dan soek jy vir veldmuisneste onder die groot kriedoringbosse, en in die maande wat ’n “r” in het, kan jy buite slaap. Dan kyk jy uit vir die Drie Konings, die Sewester, en die esel se rolplek (newelvlek).

Geen wonder dat ek en Ma tydens die skryf van Chinchilla heel gewillig “navorsing” gaan doen het in Sutherland nie. In Verlatenkloof, met die rye wasige boomskelette, begin die hart al skop, en wanneer “Sutherland” in wit kalkklip teen Rebelskop opwys, dan volg die reuk: renosterbos, gannabos, oumansoutbos, die stof van skalieklip en sterre.

Met die laaste besoek is ons hotel toe en het ons die twee sementleeus meer as ooit voorheen gemis. Ek het weer gaan meet hoe Herinnering teen die Hede lê. Oplaas het ons in oupa Kalla se kroeg gaan kniel, en ’n paar sentimentele sinne op die muur geskryf. Toe het ons opgestaan en vir ons ’n pimpeltjie port bestel vir die troos.

Die katstert en die angelier
Verlede jaar was die kind nog hier
Die swart rapuis en die besembos
Hoe’t jy my dan nou gelos

(Uit: Klipwerk van NP van Wyk Louw.)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top