Die lenige liefde
Herman de Coninck
Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo
Protea Boekhuis
132 pp
ISBN: 9781869193027
Daniel Hugo het in 1988 vorendag gekom met Liefde miskien, ’n voortreflike keur vertalings uit die Vlaamse gedigte van Herman de Coninck.
Nou is daar Die lenige liefde, ’n keur uit al De Coninck se bundels. Weer is die vertaling voortreflik: vindingryke alternatiewe word deurgaans gevind waar regstreekse vertaling nie moontlik is nie (en dis nogal heel dikwels), en Hugo is slim genoeg om amper altyd die onsigbare kraak te vind waarin ’n oplossing lê wat naby genoeg gaan wees aan die oorspronklike, dog verrassend nuut, amper asof hy ’n nuwe gedig daarvan maak én getrou bly aan die oorspronklike.
De Coninck is een van die gewildste Nederlandstalige digters. Hy is die skrywer van die grootste bestseller onder digbundels in Nederlands ooit (sy eerste bundel, in 1969, by name De lenige liefde). Dit beteken hy skop immer gewilde digters soos Gerrit Komrij stof in die oë.
Ek het De Coninck die eerste maal gelees nadat ek hom in 1995 in Suid-Afrika hoor voorlees het. Hy het met ’n groep Nederlandse en Belgiese digters hier getoer. Eddie van Vliet, Simon Vinkenoog (albei nou saliger, nes De Coninck op die té vroeë ouderdom van 53), asook Bernlef en die grote HC ten Berge, was onder hulle. Die room van die taalgebied, inderdaad.
De Coninck is ’n baie toeganklike digter. Hy gebruik byvoorbeeld meermale vergelykings (wat so of soos bevat) in sy werk. Die vergelyking is die toeganklikste van stylfigure, meer toeganklik as die metafoor, wat ’n geïmpliseerde vergelyking bevat (en dus, soos enigiets wat geïmpliseer is, gewoonlik minder toeganklik is).
De Coninck se vertaalde gedigte behoort in Suid-Afrika relatief goed te verkoop: dit gaan oor die liefde en die natuur, dinge wat veral jonger lesers sal bekoor. De Coninck is nie verniet oorspronklik ’n troebadoer-digter nie.
Toe ek die eerste bundel vertalings deur Hugo (Liefde, miskien) in die middel-negentigerjare gelees het, was ek aan die begin daarvan baie opgewonde. Ek het voor dit nog net een of twee gedigte van De Coninck gelees en dit was vir my van die mooiste gedigte wat ek nog gelees het. In albei gedigte werk hy met ’n vindingryke idee, die gelykstelling van die wêreld van die gedig, van die woord, met die werklikheid.
As ek ’n metafoor van my eie mag gebruik: hy beskryf die wêreld van die gedig soos wat mens ’n klein poppehuisie sou beskryf, met hom en sy beminde daarbinne as synde die regte egte wêreld, net baie kleiner – en dis besonder bekoorlik. En storms in ’n teekoppie daarnaas kan inderdaad lewensgevaarlik wees ...
Maar gou moes ek besef dat daardie idee van De Coninck, wat hy herhaaldelik in verskillende gedaantes gebruik, een van die min idees van hom is wat as groots beskryf kan word (deur my, altans). Die resonansie van die meeste van sy gedigte is beperk, soms selfs besonder beperk, ondanks ’n sjarmante kombinasie van wysheid en onskuld.
As mens die poësie van De Coninck met ewe toeganklike digters, soos Pablo Neruda of selfs Gerrit Komrij, vergelyk, verdof dit baie vinnig daarnaas. Dit deurstaan nie ’n vergelyking nie, om De Coninck se steunpilaar effens ongelukkig by te haal. Dit deurstaan ook baie selde ’n tweede lees. Ek besef dat my eie smaakvoorkeure hier ’n rol speel, maar in die huidige Nederland en België is daar ook vele wat hierdie mening met my sal deel.
Dis moontlik dat Hugo van die beste gedigte nie vertaal het nie, maar kom ons neem aan hy het wel. Punt is: vele van De Coninck se gedigte ontgin so vinnig soos advertensies, en as jy dit gesien het, het jy dit gesien.
Tegnies is hy ook herhalend en “maklik”. De Coninck plaas weliswaar nie die klem van sy aanbod op plastiese tegniek nie, maar dis nodig om te noem dat ryme en binneryme dikwels heel maklik en selfs fasiel is, klankpatrone nie juis dig of resonant nie, en metries is hy ook nie gewaagd nie. Natuurlik funksioneer alle gedigte nie met hierdie fasette nie, maar dan het hulle groot metafore of verreikende idees, of iets dergeliks, dinge wat dikwels genoeg by De Coninck kortkom.
Inderdaad is die vergelyking, waarop De Coninck so vryelik steun, van ’n fasieler orde as die metafoor en ander stylfigure. Wanneer hy wel metafoor gebruik, is dit meestal goed, moet mens bysê, veral in sy later gedigte. De Coninck het te vroeg gesterf.
Wat ek hier bo sê, is nie waar van al De Coninck se gedigte nie. Op grond van sy beste is hy weliswaar die beskrywing “groots” werd.
Maar ja, De Coninck probeer meestal in die eerste en laaste plek om te sjarmeer. En dit kry hy skitterend reg. (Nes sommige advertensies. Of sepies.) En bravo aan hom, sowel as Hugo, vir ’n bekoorlike leeservaring, al sal die een oog by sommige lesers vroeg reeds toeval, want dis eenvoudig oorbodig.
Geen van my bogenoemde voorbehoude jeens die werk van De Coninck verminder die vertaalprestasie van Daniel Hugo (ondanks voorbehoude hier en daar, of iets wat ek anders sou gedoen het, maar nie noodwendig beter nie), of doen afbreuk aan die wonderlike voorreg wat die vertaling vir baie lesers bring om ’n blik te kry op die werk van een van Vlaandere se beroemdste digters nie.
Op sy beste is De Coninck heerlik. Kyk byvoorbeeld na die volgende gedig:
"Slaap maar," sê ek
vir ’n dogtertjie wat lankal slaap
en daarvan wakker word.Dis onweer buite. Dalk wil ek tog hê
sy moet daarvoor skrik, dan kan ek ’n pa wees.
Maar ek kan niks anders doen as om saam met haar
niks te doen nie.Soos met woorde. Die dinge gebeur.
Sonder woorde sou dit ook gebeur.
Maar dan sonder woorde.Die volgende vertaling van ’n gedig oor berge, sowel as sy oorspronklike, is kostelik (bl 75):
Ek weet goed dat hulle daar agter lê,
die rûe wat dit alles oor hulle heen
laat gaan, berge van onverskilligheid.Hoë bome vang die meeste wind,
berge nie.
Wind getuig van weggaan. Berge blyen werk vannag aan steenkool,
soos ook my drome werk aan pikswart
ink, waarmee ek môre skryf.Of in metafore soos die volgende:
Die penpunt van ’n kerktoring
skryf geen enkele sin
op die blou lugposbrief van die lug.
Dis nie maklik om ’n intrigerende beeld te kry binne die nou kader wat De Coninck homself oplê nie, en wanneer dit goed werk, is dit skouspelagtig mooi.
Of ’n ingewing soos die volgende, werklik slim:
Doodwees is nie so erg nie, ek was dit, voor ek
gebore is, al ’n paar miljoen jaar.
Hugo is veral goed in hoe hy nuwe taalbindings in sy vertaling vind. Hiervan is die vertaling “Ek verbeter drukproewe, soek in die woordeboek op of dit” (bl 129) ’n goeie voorbeeld. Kyk hoe werk hy met nuwe binneryme en hoe benut hy die meer verkapte ritme van Afrikaans ten beste.
Ek wil graag een vertaling in meer besonderhede bespreek, wat ’n kykie gee op die uitdagings waarvoor die vertaler te staan kom en hoe Hugo dit hanteer. Maar kyk eers na die oorspronklike gedig:
Zolang er sneeuw ligt
Winter. Elke boom, herleid
tot zijn skelet, staat helemaal los,
total loss.Slechts sneeuw doet wat verloren
is, weer bij elkaar horen,
weer bij elkaar luisteren,
maakt bomen weer tot bos.
Die vertaling:
Solank daar sneeu lê
Winter. Elke boom, herlei
tot sy skelet, staan heeltemal los,
total loss.Slegs sneeu laat wat geskei
is, weer bymekaar hoort,
gee aan wat gedoof is luister,
maak bome weer ’n bos.
Hier het die vertaler op nuwe bindingsmiddele gefokus (“herlei"/"geskei”). Dis vindingryk, maar ek voel hy voeg bindingsmiddele in wat onnodig sou gewees het as hy by die navrantheid gebly het van die woord “verlore”, waaraan die Nederlands sy melankolie te danke het. “Verlore” is meer voldonge, meer hartseer, as bloot “geskei”. Maar ’n ander leser mag sê aikôna, geskei is erger. Na my gevoel sou ek “herleid” met “gestroop” vertaal het, wat dan ’n halfrym sou vorm met “verlore”.
Maar ek is glad nie seker of my oplossings beter sou gewerk het as Hugo s’n nie. Boonop is sy reël “gee aan wat gedoof is luister” haas onverbeterlik. Die gedig toon De Coninck op sy navrantste, en Hugo ook op sy beste.
’n Voorbeeld in Hugo se vertaling wat ek wel dink verbeterbaar is, is die volgende: “Zij zwijgt als een vuis/ niet meer open kan.” Hugo noem in sy voorwoord hierdie reël as moeilik vertaalbaar weens die dubbele nie in Afrikaans, wat gaan uitloop op “Sy swyg soos ’n vuis/ wat nie meer kan oopmaak nie.” Die vertaler se oplossing? “Bleek soos ’n gebalde vuis/ swyg sy.”
Ek het twee probleme daarmee. Die klankherhaling van “vuis/ swyg” is erg verminderd. En die betekenis, ondanks die uitstekende omdigting, hoef nie so ver af te wyk nie. Waarom nie net: “Sy swyg soos ’n vuis/ wat geslote bly.” nie?
So kan mens kibbel tot die perde horings kry.
Hugo verdien hoë eer vir sy vertaalwerk uit Nederlands tot op hede. Dit het ons letterkunde aansienlik verryk.

