
Verlede week het ek geskryf dat skrywers moet probeer om die fyn balans tussen afsondering en die buitewêreld te vind. Dat skrywers aan die een kant baie tyd in afsondering moet spandeer, en aan die ander kant so ver moet gaan om ander nuuskierig te agtervolg vir ’n storie. Vandag gaan soek ek raad by die voorbeeld van een digter wat dit blykbaar reggekry het: Charles Baudelaire.
Charles Baudelaire was die persoon wat die term moderniteit versin het, wat graag oor stede, skare en die skrywer se plek binne die maalkolk van mense geskryf het. En wat die skrywer van verlede week se kortverhaal, Edgar Allen Poe, se werk in Frans vertaal het. Wat dus ook inspirasie geput het uit Poe se nuuskierige vertellers en interessante karakters.
Kom ons kyk na een van Baudelaire se prosagedigte: “Crowds”, gepubliseer in sy boek Le Spleen de Paris (1869) (Paris Spleen). Om jou oor te gee aan die menigte is ’n kuns, sê Baudelaire, en is nie net énigiemand beskore nie:
It is not given to every man to take a bath of multitude; enjoying a crowd is
an art; and only he can relish a debauch of vitality at the expense of the
human species, on whom, in his cradle, a fairy has bestowed the love of
masks and masquerading, the hate of home, and the passion for roaming.
Baudelaire se mees vername manier van skryf was sy assosiasie met die verskillende figure en karakters van die 19de-eeuse Parys. Soos die verteller van die verhaal van Poe, het hy hom verlustig in (maar ook geïdentifiseer met) slagoffers – prostitute, dronkaards, straatskoonmakers en selfs misdadigers. En dan het hy homself ook verloor aan hierdie menigte en “die leegte” (want die Romantiese skrywers praat dikwels oor die pynlike leegte!) van hierdie figure binnegegaan. So skryf hy (ook in “Crowds”):
The poet enjoys the incomparable privilege of being able to be himself or
someone else, as he chooses. Like those wandering souls who go looking
for a body, he enters as he likes into each man's personality. For him alone
everything is vacant; and if certain places seem closed to him, it is only
because in his eyes they are not worth visiting.
Die menigte, skare, klomp of spul was dus glad nie ekstern aan Baudelaire nie – eerder sien hy déúr hulle Parys. Hy benodig die mense buite homself om te kan skryf oor Parys. Hy voed van die menigte en gee hulle die skok van moderniteit terug op ’n bord as ’n teks om te verslind. Die bekende leser en kritikus van Baudelaire, Walter Benjamin, sien Baudelaire se interaksie met die menigte as volg: “Baudelaire speaks of a man who plunges into the crowd as into a reservoir of electric energy.”
![]() |
|
'n Portret van Baudelaire van Gustave Courbet (1848-49) |
My enigste slotsom in hierdie kort rubriek betreffende die enigmatiese Baudelaire is dat hy die digter ’n nadruklike verantwoordelikheid gee om homself (en haarself) te verloor om die leegte van die menigte te betree. Maar hy of sy moet ook alleen kan wees. En daarom sê Baudelaire (in dieselfde gedig, “Crowds”):
Multitude, solitude: identical terms, and interchangeable by the active
and fertile poet. The man who is unable to people his solitude is equally
unable to be alone in a bustling crowd.
Dus moet jy as (aktiewe en vrugbare) skrywer alleen kan wees (jou gedagtes, woorde soos stemme in jou alleenheid) én jouself kan verloor aan ’n skare. En, natuurlik genoeg tyd in afsondering spandeer om die gapings wat jy in en om die wêreld rondom jou sien, as teks aan die leser te kan aanbied. Dan kan hulle (die lesers) jou teks as die leegte in hulleself verorber. HAP! En jou waarskynlik daarvan beskuldig dat hulle nie hulleself daarin raaklees soos hulle hulleself wil sien nie.
Dit verg dus moed. Waaghalsigheid. Nuuskierigheid. Die moed om oor ellende te skryf asof dit geurige blomme is. En oor blomme asof daar dorings daaragter skuil (aldus Baudelaire).
Beslis geen maklike taak nie!
Maar dis tog die moeite werd om aan te hou om te probeer. Stuur jou gedigte, kortverhale of prosagedigte (waarvan dié een 'n voorbeeld is) na: gedigte@litnet.co.za of na netfiksie@litnet.co.za


