
Foto: Skrywer
elegie vir Pájaro
“Time, space,
neither life nor death is the answer”
(Ezra Pound – from Canto 115)
“Escribir sobre los que perdieron, una de las misiones esenciales
del arte, porque perder nos hace radicalmente humanos.
¡Ay de quienes no conocen la derrota!” (Santiago Gamboa)
’n Elegie moet die klaagsang
in lang klankreëls vleg
om op die wind te sweef
en ek kan om my lewe te red
geen sin maak van die patroon
geweef in die lyn
tussen jou dood
en myne
medewese, myne is jou stilte
aan my bemaak
maar het jy ooit gesing?
mis jy nou ook die veerintimiteit
van ’n nagboom vir jou drome?
het jy toe die lig te skel was
jouself verpletter teen eie beweging in die glas
om die stilte?
hoe voorbarig moet mens wees
om die ander in jou dood te wil dink?
drie dae
het jy op die bo-stoep gelê
met die dood onder jou tingerige vlerke
geneem en beskerm –
geen mier of kat sou aan jou kom vreet
miskien omdat ons weet
ons gekerm en verorbering
knaag aan perke
wat net onsself genoem kan word –
sonder om tot stink te vergaan
Pájaro – vergewe my
dat ek my eiertjie wil lê hier
in jou nes van die dood
se krummelaarde en verteringvuur –
miskien sal daar weer seisoene wees
om te vergeet van jou algehele nie-syn
maar al is daar ook geen opstanding
of reïnkarkasnasie ooit
moet my mensdomheid dit vir jou bring
as soenoffer:
jy was te vinnig en te sku
om ’n skadu te kon fladder
in die geslote kring van my soeke
maar miskien, kleinbaas van die plaas,
behou jy nou saam met jou in stilte
’n afwesigheid van vlug
op die wind onder jou troupant vleuels
terwyl ek net hierdie belofte
wat nooit méér ’n sinwurm sal verteer
op die woordbrandstapel van papier
het om te gee –
’n ander hart hét ek nie:
gun my die maan om jou saam
stil in my op te hang – om te glo
ek kan die onthou van jou vlug vang
en laat sing voor dit tot stank
verrot in lank
lank gelede
se oorlewe oorlede
(neweskrif)
Pájaro : is jy nog daar?
ek is nog nie klaar
gerou om die stilte
die hart wil nie bedaar
die voëltjie bly
klou snawelkou
om uit die fuik
van hierdie gedig te kom
moet my nie vertrou
met die stilte van jou kou nie
die na-klank bly my by
dat iets oor sal bly
in die brand van papier
om trou aan jou te sweer
hier
nou –


Kommentaar
Die klank en sin- so mooi.
Ai. Soveel mooi woorde en ontboeseming in die weefwerk van idees hier. En die keer teen die verleidelike poging om te probeer besweer.
In hierdie verlengde herfs vol son in Johannesburg, val die blare en die vriende en geliefdes steeds om ons heen. En kom doen die gedig by my aan en doen wat 'n gedig moet doen, met die se^ wat klink in Breyten Breytenbach se stem. Dankie.
"het jy toe die lig te skel was
jouself verpletter teen eie beweging in die glas
om die stilte?
hoe voorbarig moet mens wees
om die ander in jou dood te wil dink?"
Asseblief, mnr. Breytenbach, dis tyd vir 'n nuwe bundel! "In die fragmentarium" wat reeds op LitNet is moet asseblief deel daarvan wees. Ons kan nie meer wag nie.
Kyk hierdie is ongelooflik en ek merk 'n soort ongemaklikheid of woede wat wil uit en sukkel om uit te kom en pad te gee, kry ons almal nie daardie ongemaklikheid wat so stry en baklei om rus te vind nie? Sjoe meesterlik gedoen en ek begeer, al is dit sonde, om so te wandel met 'n gesprek.
Die melodie en ritme van u reël skep tog wind, fnuik die stilte
Inderdaad!
ॐ
Ōṁ