
Fito: PIRO | Pixabay
Natie Engelbrecht skryf op Facebook
Ek lees ’n stuk oor Stellenbosch en onthou weer die parkeerterrein.
Lank terug, in ’n vorige lewe, in ’n parkeerterrein in Stellenbosch, het ek my vasgeloop teen stukkies onteiende mens. Sy het vooroor gebuk teen die muur gestaan.
“Is jy oukei?” vra ek.
Sy kom orent en ek sien die winkeltrollie vol besittings.
“O, ek’s jammer,” sê ek.
Daar is ’n opgerolde slaapsak, winkelsakke vol straatdinge en ’n skelpienk plastiek vanity case in die trollie. Bo-op die vanity case lê Leon van Nierop met gekrulde blaaie.
Ek staar te lank.
Sy wys, onverwags grasieus, na haarself en die trollie en vra my vraag: “Hoekom?” En sy antwoord self. Met ’n intelligente en mooi stem. “Waansinnige besluite en verkeerde mense.”
Die parkeerterrein voor die gym is nog stil.
“Ek moet gaan,” kom dit moeg van haar. “Sekuriteit laat my soms hier slaap as dit reën.”
Haar glimlag is deur pyn en te min genade gebotox tot ’n sluier. Maar die niks skyn plek-plek reeds deur.
“Oukei,” sê ek, want daar is niks anders nie.
Ek sien aan haar skouers dat sy weet hoe min die tyd geword het. Want, dis winter in die Kaap.