Leoni Smit skryf op Facebook:
Daar was ’n tyd wat al wat mens was, ’n lazyboy wou hê of een gehad het of iemand geken het wat een besit. Veral oues van dae.
’n Lazyboy is daardie stuk pantserwa wat lyk soos ’n swakgestopte tandartstoel, oorgetrek met gomtorbruin-vinyl, waaraan jou boude somers vasplak as jy te lank tievie kyk.
En waar jy tweeuur op ’n wintersmôre yskoud wakker skrik as jy huismense jou net mooi daar gelos het met ’n stuk chewing gum in jou hare of jou valstande op jou skouer.
’n Lazyboy is ’n stoelgevaarte met ’n uitskoprak waar jy en jou bene morsdoodbevrore en gefossileerd in jou Stokey-pantoffels van handoekmateriaal ontwaak en strompelend kamer toe aanskarnier.
Nie dat ek sou weet nie – dis wat ek my in my agtergedagte voorstel. Want ek verpes praktiese dinge – en ’n Lazyboy is so lelik soos daardie Velcro sandals wat rots vistermanne dra … amper so lelik. Amper so lelik soos daardie deegskoene met die gate in wat soos Hollandse Lego klompe lyk.
’n Lazyboy is Le Corbusier se angsaanval, se obituary.
’n Kortkop tweede is die praktiese sweetpak in perspire-textile met jou laaiseps en jou koebaaiseps intact. Derde is sporty wit brille wat lyk soos omgekeerde Alice Bands wat Dr Spock in sy space movies gedra het op pad na sy interplanetêre reise.
Niemand sal my oortuig dat ’n mens beter voel in daardie praktiese gewade as in ’n collar en tie of ’n stukkie heel soos in hakke of ’n lekseltjie swart nie. ’n Uniform kan nog sexy wees, as sy pylnate effe ingetrek word en nommerpas en dimensioneel reg sit soos in Crime Investigations in Miami, maar as jy ’n sweetpak as jou daaglikse mondering dra, het jy, soos Karl Lagerfeld tereg opgemerk het, “given up on life”.
Maar hierdie storie gaan eintlik oor my arme kinders en die pryse wat hulle lewenslank moes betaal vir my haat jeens dinge met praktiese labels. Opmerkings soos: “Ma, mens kan nie vleis met hierdie messe sny nie.”
Waarop ek sou antwoord, nogal geïrriteerd: “Maar jy hoef dit nie te sný nie, skeur dit net!”
Dis nou seermaak woorde daardie – gemik op my beautiful ivory-and-bone-vertoonmesse wat ek in Riebeeck uit ’n boggerolwinkeltjie gegrawe het… So stomp soos môre die heeldag, dit weet ek so terloops.
Opmerkings oor my oorgroot ringe en bangles – wat my suster se man hondebene noem, dié kry ek. Ek dra dit met trots en ’n dismissive waai van my belaaide arm. Die gereelde vrae van all and sundry oor die gewig van my adornments, lag ek af met ’n “whatever”. Ek het duidelik nie tactile hyperesthesia nie. Grand woord vir tas-sensitief. Grand woord vir die goed krap my.
Net bietjie-oggend met die Crown-opsluit en Chronic isolation, kom staan my oudste seun vierkant voor my. “Ma, Ma! Jy is ongoddelik onprakties. Wat soek die verspotte stoeltjie in die middel van die kombuisvloer?”
Ek voel in my eer gekrenk, maar doen my bes om kripties te verduidelik dat my 1940s hairdresser stoeltjie wat hoog op sy bene wankel in swart yster, stunning lyk van die voorhuis se kant af as jy deurkyk wasbak toe.
“Maar Ma,” hef hy aan, “die asblik staan buite wat ons nodig het, en die stoel wat geen doel nie, staan hier in almal se pad reg voor die yskas.”
“Ja,” kom ek met vol artillerie terug, “jy is net te lui om die stoeltjie effe te skuif wanneer jy die yskas oopmaak.” En ek rol my oë. “En hou op so baie yskas toe gaan. Jy stel ons lewens in gevaar as ons so baie groceries moet gaan koop in hierdie dicey tye. Eet minder.”
Ek is ononderhandelbaar as dit by esoteriese paraphernalia kom. Ek is ’n kliniese interieur chirurg. Ek verset my teen die aanslag met gevoude arms. My finale nekslag op die gesprek is dus opsommerderwys: “Die asblik is lelik en hy bly buite. Ek is die ma,” voeg ek outoritêr en flou ... onoortuigend by. “Kyk maar na die Italianers – hulle ma’s is die baas. Dis my huis dié.”
“Ma, ek kan nie op my hospitaalbed slaap nie. Dit spook op daardie bed,” kom my dogter eendag by my kla. My hart mis ’n beat – nou begin die style gevegte al wéér – hierdie keer oor daardie swart bed met sy metaalskortjies wat so treffend, eenvoudig en peasant lyk, afkomstig uit een of ander oorlog of kamphospitaal, sy springs en sy wiele en al.
Ek LOVE goed met wiele aan – metaal trollies, retro-kantoorstoele op wieletjies, die works. Nie omdat dit prakties is nie, maar omdat jy kan party hou met daardie stoele soos in ’n movie van Dawid Lynch of Quentin Tarantino. So – dié aankondiging en my 16-jarige dogter wat elke aand in my kamer kom slaap om te vlug van die kermende spook se dark presence, tref my met diepe droefenis. So gaan die bed vort na ’n vriendin toe. Wheels and all. En ek betreur die verlies aan daardie bed nou nog in stille oomblikke.
Soos die mediumslag swart- en wit sirkustent van Stanford wat ek eenvoudig moes hê. Die gedoente kon teen wil en dank nooit behoorlik staan nie. Maar sy shape en sy vlag was beeldskoon. Onopgeslaan, impotent en dormant bly my streepmuis-tent nou in die garage.
Tydens my shootjare, slaap my kinders voor produksies op matjies vloerlangs, want hulle krap die mooi linne om en kreukel die beddens. Ek skaam my nou nog vir my militante verset, maar die foto’s was darem maar gestryk, omstrede en vaartbelyn. Hulle sê my vandag die vloerslapery het hulle nie geknak en gekneus nie, so ons is okay. Hulle het darem hulle sponsmatrassies gehad.
Hulle word aldus groot met rakke vol mooiboeke plaas van Tupper wat jy nie moet lees nie anders val die goed van die gestapelde toring af, tafels vol snuisterye en stillewes waarop geen mens kan studeer, werk of by kan lunch nie (“Skuif dit net eenkant toe en moenie breek nie,” vermaan ek ’n kind wat tussen die keramiek, beelde, kanariekoue en krone en uittand-tiaras van Romenië probeer roereiers eet en leer vir matriek).
Retro-stoele met die klem op breekbaar en mankoliekig, spieëls wat so dof-oud is dat jy jouself nie daarin kan sien nie en tafels vol mooi kos wat die crew mag verorber maar die kinders van die huis nie aan mag ráák nie.
Hul kamers is so koud soos ’n madame se hart, want matte is lelik. Ons gaan nie daar nie. Matte laat die ma van die huis aan Sterland, Pretoria se wall-to-wall Ozite en ou toilette by die ice skating ring dink. Ons gaan nie daar nie!
Sit-lê die kinders eendag in die “sitkamer” met bykans vyf verskillende sets wit, roomwit, clotted créme beige, onpaar onsitbare banke – filmstel gereed.
“Ma,” sê hulle in kerkraadsvergadering-stemme, “ons wil jou spreek. Mens kan nêrens sit nie. Dié bank breek mens se rug, die lang banke het nie kantleunings nie en die ander stoele is te regop. Kan ma nie net vir ons by Russels of Coricraft ’n gewone-mens-lekker-bank gaan koop nie? This is not the movies, ons WOON hier.”
Ek draai met vuurspuwende veglus om want kan hulle nie dimensie, lyne en balans sien nie… verstaan hulle nie dat beauty offers vra nie...
Ek kyk hulle waterpas in die oog: “Ag man, sê ek, die huis is nie vir sit nie. As julle wil sit, gaan sit in die kar by MacDonald se drive-through en bestel waffles of gaan lê in daardie groot, rooi, Zeph seats van die Wimpy!”
En toe maak hulle net mooi so!



Kommentaar
Hierdie is al vir oor die veertig jaar 'n vriendin van my. Haar skryftalent in verskillende genres is ongetwyfeld uitstaande. Hierdie Fb-stukkies van haar is ALTYD 'n experience van genot. Dit sal 'n aanwins vir al ons lesers wees om meer van haar skryftalent te ervaar.
Aaah fantasties geskryf!!!
Briljant. Soos altyd. Ek geniet haar skrywes geweldig.
Talentvolle skepper van kuns op verskeie gebiede. Leoni het 'n besonderse gawe om met woorde te skilder.
Love it! So mooi geskryf x
Ek weet nie of myne 'n lazyboy is nie. Hy lyk of hy in my Mercedes sal inpas. Jy druk net 'n knoppie, dan sak jy weg in droomland. Dan druk jy net weer 'n knoppie en sit regop gereed vir die ontbyt wat vir die ontbyt wat vroulief jou voorsit. (Of natuurlik omgekeerd; dit hang af wie die eerste kan sit.)
En as jy haar vriendin is kry jy hierdie klas kommentaar heeltyd! Hoe lekker!!