Elders gesien: Peter Veldsman, die sjef, die Karookind

  • 0

Elmari Rautenbach skryf op Facebook:

Ai, ou Peter Veldsman, dat dit nou só moes eindig. Weg van jou pers huis en jou Maltesies, Miriam en die rose, Sondagoggendopera en Sondagmiddagnoenmaal, die geure van vroegoggend al in die lug.

Ons buurman sedert ons in 1996 in Summerleyweg ingetrek het. Van Peter se eerste woorde was: “Ek’s bly julle verf die huis minstens ’n kleur en nie die vervelige grys of wit nie.” Self was syne in donderpers, ligpienk, suurlemoen en bosgroen getooi. Die tweede opmerking was gemik op ons Engelse voorganger: “Waar het jy nou gehoor ’n mens bou ’n motorhuis voor ’n Victoriaanse komvenster?” Net so: “Victogiaanse komvensteg.”

Hy was ’n man vir tradisie.

Een naweekmiddag word ons vir ’n glas wyn by sy huis genooi en stap sommer oor in tekkies en sweaters. Daar gekom, wag Peter ons in in ’n pienk-gestreepte langmou-katoenhemp, vars geskeer en welriekend in ’n broek met nate, gordel en leerskoene. Op die tafel ’n silwer skinkbord met ’n kristalfles rooiwyn, bottels rooi en wit, en bakkies olywe, kase in elke vorm en van elke nasionaliteit, soutbeskuitjies, lapservette en ’n ousilwer-kaasmes met ’n beenhandvatsel. Omtrent drie ure later en verskeie glase en staaltjies sterk, is ons terug, dankbaar dat niemand die tog oor die straat gesien het nie.

Miriam Moss-Onewang, vir meer as drie dekades Peter se stok en sy staf, net voordat sy finaal terug is na Douglas (Foto: Marinda Engelbrech)

Sy honde was Peter se hart se punt. Ek sien hom so staan, hande in die sye van sy wit oopknoophemp, waar hy in die tuin kyk hoe Miriam rose snoei (hy het haar opgelei todat sy ’n meestertuinier was in eie reg), die bondeltjies wit met name soos Pinotage, Chardonnay en Cabernet al om sy voete. Toe Miriam se lieflike optelhond, so ’n boerboelkruising vier keer groter as die Maltesies, deur ’n nydige leegloper vergiftig is, het hy saam met haar gehuil.

Ek het sy biografie geskryf en dit was wonderbaarlik hoe ek later sy stem met daai kenmerkende Bolandse aksent in my kop kon hoor vertel. Want vertel, dié kon hy. Van die Silwood Kitchen-dae tot die ministersonthale met Avokado Ritze en drillende aspiekvorms op die tafel, die ontdekking van ’n wye wêreld, Sarie en Emily’s. Twee kostaallesse het hy my geleer: Jy plaas iets op ’n rak, of skakel die oond aan, sit is vir ’n stoel, en jy skink iets in ’n glas, of giet dit oor ’n gereg, maar gooi is met ’n bal.

Peter, die sjef, die Karookind en enigste seuntjie tussen ’n klomp grootmense. Wat vir die eerste keer ’n avokado sien wanneer sy geliefde Laeveldtannie dit in haar “koskys” saambring en glo hy’t pas die hemel in ’n teelepel geproe…

Hy was ’n kospionier, ’n pou so kleurryk soos sy huis, ’n mensch wat die helfte van sy antieke huisraad vir Miriam geskenk het, asook sy kosbare twee Maltesies.

Ons, Miriam en die straat is armer sonder jou.

Lees ook:

Lesersindruk: Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman met Elmari Rautenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top