Gerda le Roux skryf op Facebook:
Ons plattelanders voel wees. Weggegooi. Vroeër jare was daar elke tweede jaar ’n Leeskring-fees in Welkom met baie skrywers, skryfsters en digters van dwarsoor Suid-Afrika. Die sale en lokale was volgepak, duisende boeke is verkoop. Ons Goudvelders het ’n fees gehad. Dit was werklik ’n fees!
Kom nuwe dinge in 1994, die Goudveld word uitgeskop en dis nou die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. En ons huil. Petrol is duur, ons distrik verarm kultureel en letterkundig.
Ekself was nog nooit by ’n Bloemfonteinse kunstefees nie, gastehuise se pryse is bokant ons plattelandse gelde, maar ons trotse leeskringe veg en probeer alles om te bestaan (sonder enige ondersteuning of geldelike insette), want ons veg vir ons taal, boeke, kennis, geskiedenis, argeologie, poësie en alles wat mooi is in woorde. Selfs my kleinkinders weet: Lees is ’n fees en jy ontdek die wêreld deur boeke.
Ons Graad R’s het kom kuier en ken ook nou die leuse “Lees is ’n fees!”
Eenkeer per jaar probeer ons leeskring om ’n Suid-Afrikaanse skrywer of skryfster te nooi, afhangende van ons finansies. Ons ledegeld is slegs R40 per jaar, wat elkeen kan bekostig, dus gaan baie uit my eie sak, maar dis die moeite werd. Dan nooi ons die hele dorp en omgewing en vra slegs R30 per persoon om te help met onkostes, maar steeds las sekeres met vervoer, ensovoorts, en al ons lede laat die tafels kreun van eetgoed. Ons is so dankbaar as ons ’n Suid-Afrikaanse skrywer of skryfster op die rooi tapyt kan ontvang, ons dorp juig en blom.
My absolute passie is ons dorp se leeskring, ons taal en kultuur, asook wêreldwye beskawings en letterkunde.
Ek het ’n brandende vlam, ’n passie vir boeke, lees, kennis, geskiedenis en die argeologie, als vir die Goudveld!
As ek maar die fondse gehad het, of die eienaars van vrot geboue kon oorreed vir skenkings en via Lottoland dit kon restoureer... Daar is soveel kosbare letterkunde, kultuur, geskiedenis en artefakte vir die nageslag.
Ek is vrek jaloers op die VSA waar elke dorpie se museum ’n plek is waar hul die geskiedenis van families en geboue, geboortes, sterftes en die gebeure op eiendomme kan nagaan tot in die oorspronklike skrif, tot koerantknipsels van gebeure.
Tot en met ’n sekere jaartal is alle koerantuitknipsels van ’n dorp noukeurig geknip en geplak in albums vir die nageslag, daarna is dit “afgeskaf” en het ek verlede jaar sekere albums ontdek, hulle is weggegooi om te verrot. Ek gaan dit opeis en restoureer, net jammer jare der jare se nuus het verlore gegaan.
Dis my hartstorie. Ek wil bewaar. Maar niemand wil help nie, dus sal ek met ons Vader se genade en my liefde vir my taal, ensovoorts, dit aanpak.
Kommentaar
Bewaring is ongelukkig laag op die prioriteitslys in 'n land waar die infrastruktuur inmekaar tuimel. Mag dit nooit jou entosiasme blus nie. Jou ywer is aansteeklik en ek is seker jy maak 'n groot verskil daar waar jy geplant is. Ons het wel meer opsies hier in die betonoerwoud, maar julle lug is veel skoner.