Elders gesien: Onder haar ma-wees "kombersie"

  • 4

Annemarie Smith skryf op Facebook:

Eendag, baie lank gelede het ek ook ’n Ma gehad. Sy was nogal ’n aantreklike ou girl. Sy het baie siek geraak toe ek in standerd een was, net na my pa se dood.

As ek vandag terug dink aan haar, sien ek ’n prentjie van haar in die hospitaal of ’n prentjie van haar in haar bed by die huis. ’n Baie siek vrou!

Ek het elke middag, as ek van die skool af kom, en sy nie in die hospitaal was nie, reguit na haar kamer toe gehardloop om te kyk of sy lewe, want so klein soos wat ek was, het ek geweet daar is groot fout. Partykeer het sy so diep geslaap en dan het ek my hand naby haar neus gehou om te voel of sy asem haal. Sy het altyd onder baie komberse gelê. Ek was te bang om in die middag te gaan speel, want ek was bang sy gaan dood. Ek was bang, want wat gaan dan van my word?

Ek is die laatlam en my broers is almal groter en ouer as ek. Die Kersfees wat ek standerd twee klaar gemaak het, was sy in die hospitaal. Sy het nie eers geweet dat dit Kersfees was nie. In die begin van my standerd drie jaar, het sy vinniger en vinniger agteruit gegaan.

My oudste broer was klaar met sy verpligte diensplig, my tweede oudste broer was besig met sy verpligte diensplig en my jongste broer was in standerd nege. Ek het dit nooit geweet nie, maar die dominee het vir die weermag laat weet dat my tweede oudste broer huis toe moet kom… My tweede oudste broer was skaars tuis, op “pas,” toe ons vier kinders die aand vir my ma by die hospitaal besoek.

Dit was ’n Sondagaand. Ek was bang, want toe ons in haar kamer kom, het sy ’n suurstof masker op haar gesig gehad. Sy het ’n appelkooskleur nagrokkie aangehad. Ek onthou dit nog goed. Sy het nie geweet ons was daar nie en nie een van ons vier het ’n woord gepraat nie. Elkeen het met sy eie gedagtes baklei.

Ons was die volle uur van besoektyd by haar en ek het geweet toe ek daar uitstap, was dit die laaste keer wat ek haar ooit gesien het. Die heel laaste keer in my lewe. Ek het by die huis gekom en op my bed in my kamer gaan lê. Ek was bang. Bang, want ek weet ons gaan vir haar verloor en bang omdat ek weet dat ek Kimberley toe sal moet gaan om by my oom en tannie te bly. Weg van Herschellstraat 110, Strand.

Ek het geweet dat ons vier kinders heeltemal uitmekaar gaan spat. My bietjie sekuriteit, my ma, my broers en my kat – alles hang aan ’n draadjie. Ek het die gordyn weggetrek en na die maan gelê en kyk en gesmeek dat die man op die maan vir my moet kom haal, want ek is bang. Dit het gevoel asof my lewe ook tot op ’n einde gekom het.

Die volgende dag het ek skool toe gegaan en toe ek die middag by die huis kom, het ek dadelik eers gekyk hoe my broers se gesigte lyk. Almal het ’n bekommerde trek op hulle gesigte gehad. My oudste broer het vir my ’n helikopter gekoop waarmee ek in die Ramhok (die seuns se kamer) op die mat gesit en speel het. Dit was net na halfdrie toe die onwelkome geluid van die telefoon die stilte in die huis breek.

Ek het geweet, toe daardie foon lui, wat die tyding van daardie oproep gaan wees. Ek het alleen in die kamer op die mat gesit. Ek kon nie die gesprek hoor nie. Dit was nie ’n lang gesprek nie en ek het gehoor toe my oudste broer die telefoon terug plaas op die mikkie. Doodse stilte het in die huis neergedaal.

Die volgende oomblik het ek gesien dat ’n buurtannie in die gang afgestap kom, reguit na my toe en ek het opgespring en gehardloop, by die sy-deur uit, want ek wou nie hoor wat sy vir my gaan sê nie. My oudste broer het by die ander deur uitgestorm en vir my gekeer en opgetel en gedra tot op ons stoep en op die bank gaan sit en vir my op sy skoot getel. Hy het vir my gesê: “Ma is nou by Pa. Sy is veilig by hom”. Van daardie oomblik af het my lewe onherroepelik verander. Vandag sit en dink ek terug na daardie dae en na al die verskillende seisoene van my lewe.

Ek sou so graag vandag onder haar ma-wees “kombersie” wou sit, want daar sou ek veilig voel en van alles vergeet.

  • 4

Kommentaar

  • Gerda Pitgieter

    As kind, klein dogtertjie is jou mens kombersie van jou weggeruk. Jy het kaalvoet en alleen die gruispad aangedurf. Kaalvoet met 'n verband om jou been op die trein na 'n bestemming onbekend. Die enigste glimlag ooiit was wanneer jy opgekyk het as dit volmaan was. Mag die maan saggies in die oor van Everest fluister... Annemarie Snith wil klim tot by jou kroon om beter te kan sien waar haar mammie woon.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top