Elders gesien: Koors in Kuruman

  • 0

Albert du Plessis skryf of Facebook:

Desember. Covid in die Kalahari.

Nanette sê sy is doodmoeg. Sy is nie iemand wat sommer kla nie. Hoofpyn. Eerste rooi liggie gaan aan. Koors. Teen twaalfuur die nag daal haar bloedsuurstoftelling na 79. Ons is in Kuruman. Ek laai haar in die motor. Beurtkrag. Stikdonker strate vol gate. Leach Toyota help ons met brandstof. (Dankie Pa Leach in die hemel). Naaste min of meer funksionele hospitaal is in Kathu. Ons ry.

“Ek voel niks lekker nie ...”

Dit reën en dis donker en die pad is vol mangaantrokke.

Lenmed in Kathu. “We don’t have beds. Only one doctor at emergency and I cannot tell you when he will be available ...”

“She needs oxygen now!”

“Sorry sir, you can wait but I can’t tell for how long.”

Naaste hospitaal van daar af is Mediclinic in Upington. Terug in die motor meet ek weer haar bloedsuurstof. 82. Ons moet deurdruk Upington toe, tweeuur in die nag. Dit drupreën.

Sagte kloppie aan motor se venster. Jong meisie in swart rok. “Oom ek is Marizaan, radiografis.”

Sy was op pad huis toe en het die petalje by ontvangs aanskou.

“Oom-hulle kan nie nou Upington toe ry nie. Dis te gevaarlik. Kom ons begin by die begin, ek sal die tannie inboek vir long-x-straalplate.”

Sy vat vir Nanette in en reël vinnig vir suurstof.

Ek wag in motor. Uur later ’n oproep. “Please come in.”

By ontvangs: “We are admitting her. Just follow the corridor to emergency department.”

Nanette lê met ’n suurstofmasker en met ’n binneaarse drup.

Dr Dada: “She is Covid positive, we are following the protocol treatment.”

Hulle haal die suurstofmasker af en laai haar in ’n rystoel na die mediese saal. Die nagpersoneel sit vas en slaap. Hulle rig ’n bed in en sit die druppe op – antibiotika, kortisoon, steroïdes, pynstiller. Veertig minute later het hulle nog steeds nie vir haar suurstof opgesit nie.

Ek maak oorlog.

Loop vir dr Dada raak in die gange. “I’m from Durban,” sê hy skouerophalend. Hy stap na die saalsuster en vra: “What is the normal blood oxygen saturation?” Sy weet nie. “This is unacceptable.”

Hy wys bietjie emosie en sorg dat Nanette dadelik suurstof kry.

Ek slaap een uur in die motor en bel die mediese fonds. Dié hospitaal is nie op die lys van goedgekeurde hospitale nie. “You don’t have to worry sir. The doctors will arrange for an ambulance transfer to Bloemfontein. There are no approved listed hospitals in the entire Northern Cape.”

“This is cruel and inhuman,” smeek ek die konsultant.

“Wait sir, I will consult my bosses.”

’n Halfuur later: “We are waiving the penalty of R 9000. She can stay in Kathu.”

Drie dae later is sy gestabiliseer, bloedsuurstof normaal, en word ontslaan. Terug Kuruman toe. Ons is hier om haar suster te versorg na ’n knievervanging, maar Nanette moet nou isoleer en self aansterk.

Daar begin ek ook kug. Koors. Hoofpyn uit die hel. Dis Kalahari-warm en load shedding. My bloedsuurstof bly darem aanvaarbaar. Ek gebruik die pakkie selfsorgmeds wat ek aanvanklik vir Nanette by Dis-Chem gekry het.

Ons verlang na die Kaap. So sê die zen: Hoe langer jy lê, hoe gouer kan jy opstaan.

Dis nou drie dae later en ons begin so bietjie surface.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top