Elders gesien: Die uitslag het gekom

  • 0

Foto: Canva.com

Erna Jo skryf op Facebook:

Toe Liefie se foon vanoggend lui, sink my hart dadelik af maag toe. Mens weet mos daar kom slegte nuus as jou huisdokter jou bel. En hierdie keer is dit toe weer so: COVID-positief, jammer julle. Die uitslag het gekom.

My hart slaat bollemakiesies van skrik. Liefie se oë is stokstyf, sy mond ’n groot O. Ek wil giggel, maar die oomblik is te ernstig. Ek is oortuig hulle het ’n fout gemaak, niemand kry hulle uitslae so vinnig nie. Of dis seker white privilege.

Met die foon op luidspreker vra ons gou ’n paar vrae. Hoe nou, wat maak mens, hoe lank, wanneer, hoe, waar, wat... en hy sê ek moet maar inkom spreekkamer toe oor die ander sakie.

Die pynlike eier wat besig is om tussen my bors en my ribbes uit te groei. Taken by alien forces, dis nou ek daai. Die ding is so seer, dit voel af die alien tussen my ribbes kleintjies kry.

Nietemin, ons moet net die spreekkamer bel as ons daar is, dan kom hy sommer gou uit buitentoe, en kom loer wat is fout. BWAHAHAHAHAHA!!! Moet ek my klere in die parking lot uittrek?

Ek dog hy maak ’n grap. Ewe gehoorsaam en niksvermoedend volg ons al die instruksies. ’n Blok van die spreekkamer af bel ek om te sê ons ry nou by die parkeerplek in. Die vriendelike ontvangsdame beduie baie mooi waar ons moet parkeer. Ek probeer so tussen die instruksies deur vir Liefie beduie waar hy moet stop, maar hy lees al my handseine verkeerd en trek langs ons dokter se kar in. Lekker in die koelte.

Ek wil weet waarheen nou, toe deel sy my plegtig mee dat ek net daar in die kar moet bly sit. Dokter gaan nou uitkom.

“Seriejaas?” vra ek. “So by my kooltjies, ’n drive-thru dokter. HAHAHA!”

Sy dink nie ek is snaaks nie.

“Moet ek in my kar vir dokter wag?”

“Ja,” antwoord sy.

Ek dink so in my enigheid dis seker hoe apartheid gevoel het. Al is die net ’n flou afskynsel daarvan.

“Hulle is wraggies ernstig,” sê ek vir Liefie, met groot oë en ’n droë mond.

Dis skaars 10 minute, toe stap die spektakel die spreekkamer se trappe af. Twee humanoid bodies. En hulle kom pylreguit na ons toe aangestap. Ek vergeet ek sit aan die passasierskant, en trap-trap die koppelaar en petrol om weg te jaag. No can do. Snaaks wat bietjie skrik en baie verbeelding of koors aan mens kan doen.

Die twee is so gesuit, geboot en gemasker, hulle arms staan soos gewigoptellers s’n skoon van hulle bolywe af weg, en hulle waggel omdat daar nie plek tussen hulle bobene van al die materiaal is nie.

“Hoe gaan dit, Erna? Wat is fout?” wil die langer alien by my weet.

Ek voel ’n ligte histerie in my opstoot net voor ek ons dokter se stem herken.

Hy wil my sommer net daar in die kar ondersoek, maar agv die min spasie tussen die twee karre en al die safety gear wat hulle aanhet, kan nie die dokter of verpleegster by my uitkom nie. Ek gooi my voete by die kardeur uit en gaan lê met my kop op Liefie se skoot. Dit werk ook nie, want nou moet dokter wydsbeen oor my buk, een voet buite die kar tussen myne, die ander voet langs my sitplek. Liefie kyk die storie met ’n stywe nek, maar spraak geen sprook nie.

Ek is later uit die kar uit, gedrapeer oor dokter se eie kar.

“Wag eers,” gil ek benoud toe die dokter my top begin oplig. Met die dat die knop op so ’n eienaardige plek sit, is dit te seer om die nodige onderklere te dra. “Ek het nie ’n bra aan nie! En waar is die karwagte? Ekismorsdood. Enekstripwragtagniehierinjouparkeerruimtenie.” Als in een asem.

Sy verpleegster giggel. Dokter se oë kreukel agter sy drie maskers en kopligte en die vaderweetalleen wat se goed hy nog aanhet. Liefie klem die stuurwiel was en staar net reguit voor hom uit.

Nou moet jy mooi verstaan, as mens kort, oorgewig en oor vyftig is, is mooi anatomie iets wat jy laas voor jou eerste kind gesien het. Waar is die dae toe my borsies kleiner as my skapulas was? Nou sit ek met uiers. Udders. En ek het nie ’n bra aan nie.

Ek het twee hande nodig om een bors mooi stigtelik toe te hou terwyl ek halflyf oor die kar lê, dokter oor my buk en oral druk,voel en peuter, en die ander bors lui-lui begin afswing na die naaste ruitveër toe. Waar hy te hard vat, kreun ek hardop. Dis seer, okay. Maar dit klink weird. Die hele situasie is absurd en bizar. Iemand wat nie weet hier is ’n mediese ondersoek onderweg nie, sal dink ons repeteer vir ’n porn show.

Uiteindelik is als verby. Ek lê met ’n briefie vir ’n sonar en nog een vir medikasie soos slappap oor my sitplek. Seer en gekneus en te moeg om befoeterd te wees. Galblaas se moer, ek DINK die ding gesond. Maar voor ek daarby kom, gaan ek my op my bed uitstrek en my verbeel iemand gooi ’n hele boks Lindt sjokoladeballetjies in my posbus. En biltong vir Liefie en Sarel. Ons verdien ’n trosie. Mos.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top