Elders gesien: Die hardste winter

  • 2

Leoni Smit skryf op Facebook:

Ek dink vandag aan my ma se ruim hart. Aan haar easy manner. Haar vrygewigheid. Dat sy nimmer kla nie. Dat ek haar trotse privaatheid skend met my vertelling ...

In hierdie dae het sy ’n vreemd’ling vir my geword. Die bekende vleesklok waarmee sy my naam geroep het, het versteen. Haar kaart-en-transport-oge agter haar dik lense, is nou agterdogtig stil en navigeer nie meer nie. Sy sit nie meer vasgenael oor ’n stuk borduurlap onder die fel leeslamp nie. Nimmer weer nie...

My ma is ’n boorling uit ’n Gauguin-eiland. As ek haar lammer was, sou ek haar stem nie kon uitken nie en sy nie vir my nie. Sy praat in ’n dialek vanuit haar buik en die ingevalle wande van haar keelholte ego soos ’n gebreekte transistor. Sy maak woorde in haar bankrotfabriek se reject-masjien. Sy verdwaal in strate en in avenues van vervalle buurdorpe van die verlede.

My ma se liggaam is ’n skamperskelet met vleis wat verbete klou aan gebeente. My ma is ’n drukseer en ’n etensklokkie. My ma kan nog aanhou beweeg en geraas maak soos ingenieur Jacobs ... in haar verbeelde. Waar sinaps en oordrag afvuur na willekeur.

My ma se bene is twee styfgespande pilare bloed en are en weefseleilande. Die oksels van haar arms sweet nie meer nie. Haar urine en haar eskrete hardloop in ’n plastiektrog na benede. Na die onjuiste opvanggebied onder haar traliebed.

Sy reageer op roetines waarvan sy die tyd nie weet nie. Sy hoor die trollie en registreer dis etenstyd. Sy fisinteer daagliks haar habitat vir tekens van verhuising.

My ma is Dinsdag glashelder soos bergwater, Donderdag troebel in herwinning ...

My ma is ’n vlesige dwaalster wat orbit van perron tot perron. Iewers het ’n rooi spoorweghuis in haar kopholtes nes gemaak en sy is op haar konstante soeke na sy politoerrooi stoep. Op treine. Fluitende treine en ontvoerlorries.

Wanneer sy tereggewys word op haar vergissings, kyk sy afwysend ver en maak die kampe van haar oge leeg en word gekwets.

“Shit, dit lyk my my kop is besig om my te verlaat. Dit lyk my so,” meen sy nadenkend. Dan lag ons twee ’n box tissues leeg...

My ma leef op stasies, in trokke en kompartemente.

My ma samel veertjies en wolletjies saam met die heuningsingertjies in die Matopbome. My ma redigeer film, ry perd, fire dokters en word daagliks gehijack. My ma is ’n ironiese LSD trip wat nooit einders het nie. Haar padvinder is die borduurwerke teen haar muur. Links die reuse gompoue en Florenteinse steek, regs die painting wat Sieg vir haar gemaak het in die 80s … wanneer ek haar daaraan herinner dat die uitstalgoed staties op dieselfde plek hang, aanvaar sy die feit vir ’n wyle. Dan kom die nuwe verklaring.

“My gesonde verstand weet hulle kan dit nie so vinnig in die treintrok ophang nie, maar hulle kry dit tog reg,” oorweeg sy die onjuiste reise wat sy snags onderneem boots and all na die treintrok toe waar sy blykbaar somtyds woon. En daarmee is dit basta – dat daar mense is wat dwarsdeur lockdown en nagdeur met haar trek, haar prente in kompartemente ophang en elke dag die krag het om dit te verskuif.

“Jou logiese verstand sê vir jou dis nie moontlik nie,” redeneer my ma, “maar ek sê jou dit word so gedoen.” Ek wil by haar weet wat sou die rede wees vir die verhuisings en die baie moeite wat “hulle” met haar doen om so te trek. Sy meen ek ken hulle nie – hulle is maar so. Ek lag stilweg vir die ironie van haar stelling rondom “logiese verstand” en voel dadelik skuldig soos my emosies toutrek met my banale sin vir humor.

Haar nuutste ontevredenheid is rondom haar aftreeoord. Sy is uiters vindingryk met woorde. Huis Herfblaar is uit. Huis Spoorwegblaartjie is in. En daarheen wil sy gaan ... my ma die sporie. Sy het op treine gery weliswaar, maar sy was nooit betrokkke by treine andersyds nie. Dit is die wonder van die inteplanetêre reise van die verbeelde en die vertakkings van die skedel se ruimtelike afsetgebied. Ek sal waarskynlik ook eendag treinry... dis geneties ...

Ek vat my langpad vanmiddag huistoe. Oor die radio kwispel die omroepers rondom moordenpandemie. My siel is moeg. Ek leef die diepse droefenis – my ma is stapelgek. Ek ervaar die diepste opstand – My ma is stapelgek. Ek ervaar die diepste irritasie – My ma is stapelgek. Ek ervaar die diepste afskeid van dit wat was… ek lag my soms ’n mess vir die gedagtes wat sy kwytraak ... ’n mess ...

En ek wonder die weirdste dinge ...

Weet sy dat sy leef of is sy net op automatic?

Kry jy meer dystopian?

Die strate raak dammende, dawerende polaroids …

Dit voel of ’n moerse tor my oog raakgevlieg het …

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Hannetjie Ernyes

    Ek het ook nou ‘n boks tissues nodig. So treffend, veral as mens self amper ook daar is om trein te ry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top