Antoinette Pienaar skryf op Facebook:
Iemand vra nou die dag vir my: “Hoe kan jy sê jy voel ingeperk, jy bly dan op ’n plaas!” Ek het lank daaroor gedink en toe besef ek voel hierdie inperking in my oerwaters vibreer, dit raak iets in my wat my onseker laat voel in die wêreld waar ek my nou bevind. Met die verskillende vlakke van inperking met hulle eie reëls, voel ek soos die eerste keer wat ek Heath Ledger se Joker op film gesien het. Ek het gevoel soos ’n kind wat verskriklik gril as ek hom sien en tog kon ek nie wag om hom weer te sien nie. Hy het my hart deurmekaar laat voel, want ek het baie van hom gehou en tog het ek niks van hom gehou nie. En nou voel my hart weer deurmekaar.
Nou die dag toe in die veld stap, toe wonder ek waar ek my toevlug kan neem, op wie ek my kan beroep om sin te maak van hierdie “vreemdheid” wat ek beleef.
My stap het my gelei na die Ouwerf, waar die Moederhuis staan, die groot ou huis waar mense al in 1890 kom nesskop het. En toe ek die statige ou bloekombome sien wat haar omring, toe weet ek dadelik waar ek my toevlug sal neem. Ek sal gaan skuil in die weet saam van die eeue oue bloekombome. Dit voel of die bloekomboom nog van altyd af daar was en nog daar sal wees, al maak die mens nie meer voetspore op die aarde nie.

Hierdie ou, ou bome wat al oor die 100 jaar oud is, het al so baie gesien, so baie gevoel, en deur die eeue heen staan hulle wag en kyk ver oor die vlaktes. Hulle het die mense onder hulle dopgehou, hoe hulle skaap skeer, brood bak in die buite-oond, hoe die kindertjies oor die werf hardloop, hoe mense onbeskaamd huil by ’n oop graf.
Ek voel altyd of ek kan salueer as ek ou bloekombome sien wat bly staan en bly groei by verlate plaashuise, al trek die mense weg, hoe hulle soos skild-wagte staan by ou murasies en hoe hulle die herinneringe vashou in hulle wortels, van die mense wat saam met hulle geleef het op die ou werwe, mense mense wat nou al dood is.

Die getroue bloekomboom, onder wie se skaduwee mens kan rus, waar jy op die naat van jou rug kan lê en luister na die blare in die wind wat klink soos die see, die getroue ou vriend wat jou definitief gaan oorleef, die boom wat jou kan troos met sy wysheid van eeue, as jy wil luister.
As ek ’n simfonie kon skryf, sou dit oor die bloekomboom wees, as ek kom skilder, sou ek hulle elke dag verf en as ek ’n ballerina was, dan het ek heeltyd soos ’n bloekomboom gedans.
Die geduld waarmee hierdie bome, met hulle wortels wat diep onder die aarde, op een plek bly staan, is verbysterend. Hulle getrouheid maak my oë nat en hulle stille wysheid maak my hart vol hoop.
Als kan vergaan, maar die bloekomboom sal bly staan!


Kommentaar
Stem saam veral waar hulle oor lewe in die droë dele van die wêreld.