
Bron: time.com
Op die Turkse kus
rus die antieke dorp Assos,
waar die gestroopte pilare van ‘n tempel
en die ruïnes van ‘n teater
uitkyk op die see.
Hier waar Aristoteles se akademie gestaan het,
hier waar Paulus eeue later verby gereis het,
hierlangs strompel die dowwe skadu's
met kwalik iets
behalwe die pleitende lig
wat brand in hulle oë.
Hier staan hulle op die strand
op die laaste van die land
en daar is geen Moses met ‘n staf
wat die see
tot ‘n deurgang kan bestraf nie.
Hulle beklim die boot
en gaan op hulle dobberende, dobbelende reis
klouend aanmekaar
oë genael
op ‘n yl strooisel sterre
en die maan, ‘n knipsel vingernael
elkeen klemmend in die hand
‘n kleinood: ‘n ring, ‘n halssnoer
wat in die palm byt
en ‘n herinnering moet roer
in daardie verre, vae anderkant,
hulle nuwe land.
Sommige
sal in die vlugwater sterf,
sommige
'n nuwe lewe verwerf
en sommige
sal eindeloos bly swerf.
(Bron van inspirasie: TIME, 19 Oktober 2015)

