Eksodus 'n ontroerende en meesleurende ervaring

  • 0

Eksodus deur Barend Vos
Uitgegee deur Lux Verbi.BM, Wellington
Slapband, 269 pp
ISBN 978 07963 0670 8
Prys nie vermeld

Die Bybelse roman, oftewel die fiktiewe uitbeelding van 'n stuk Bybelgeskiedenis, is 'n genre op sy eie. Francine Rivers en Beth Moore se boeke word gereeld in Afrikaans vertaal. Jare gelede was daar FA Venter se Nabot se wingerd. Daar het meer onlangs heelwat oorspronklike Afrikaanse titels in hierdie genre verskyn, wat dikwels groot ondersteuning onder behoudende Christene geniet omdat dit die Bybelse werklikheid bevestig en bydra tot die verspreiding van die evangelie.

Maar skrywers van Bybelse romans kan ongewild raak indien hul vertolking van 'n Bybelgreep nie ooreenstem met gevestigde sienings nie.

Eksodus deur Barend Vos (bekroon met die CBSA-prys vir fiksie en onlangs heruitgegee deur Lux Verbi.BM) het as tema die oorbekende verhaal van Moses, die uitgewekene wat terugkeer na Egipte om sy mede-Hebreërs na die "beloofde land" te lei. Die styl is effens dralend en swaar, maar die roman is nogtans vlot en boeiend geskryf en herinner sterk aan Karel Schoeman se Die uur van die Engel. Eksodus kan ook as 'n soort reisverhaal beskryf word. Om die flapteks aan te haal: "Soos die uiterlike reis na die beloofde land ontvou, word ook Moses se innerlike reis blootgelê." Inderdaad: die protagonis se geestelike en sielkundige binnelewe word besonder oortuigend uitgebeeld. Die verhaal word verder versterk deurdat Moses self deur die skrywer aan die woord gestel word.

Vos het meer op sy agenda gehad as om die Kinderbybel-weergawe van die Hebreërs se "Groot Trek" in romanvorm te herhaal. Moses is lank voorgehou as 'n streng leier wat nie geduld met "afdwaalskape" gehad het nie en na wie daar nie self 'n vinger gewys kon word nie, 'n vuurvreter wat die magtige Farao in sy eie paleis aangedurf het, 'n selfversekerde vaderfiguur met 'n onwrikbare geloof deur wie God wonderwerke verrig het. Die Moses in Vos se roman is egter 'n onwillige leier vol twyfel en met 'n lae selfbeeld. Hy verstaan nie hoekom God hom gekies het om die Hebreërs uit Egipte te lei nie; 'n mens kry die gevoel dat hy sou verkies dat God dié taak op iemand anders se skouers moes lê. Daarby het sy vrou en kinders hom verlaat, en 'n eensame man is dikwels weerloos teen versoekinge. Moses se sterkman-beeld word stelselmatig afgetakel: lesers word die tradisionele heldeverering vir Moses ontneem en leer hom ken as 'n méns, met al die swakhede wat daarmee saamgaan.

Dan is daar Moses se suster wat sy lewe gered het toe hy 'n baba was. Die Mirjam wat ons in Vos se roman leer ken, hang Egiptiese afgode aan, en wanneer sy (heel uitdagend) wil weet hoekom God sy eie mense 'n grusame dood laat sterf bloot omdat hulle nie die uitmergelende reis wil voortsit nie, praat sy namens vele moderne Christene wat dit moeilik vind om die Nuwe Testamentiese God met die God van die Ou Testament te vereenselwig.

Daar sal dalk 'n paar wenkbroue lig oor die ontluistering van een van die grootste Bybelfigure, maar die belangrikheid van hierdie roman is dat dit Bybellesers wil laat verstaan dat daar soveel is wat nié in die Bybel vertel word nie, en om hulle iets van die volledige verhaal van Moses en ander Bybelfigure te laat begryp. (Hoewel Vos se weergawe van die Moses-verhaal fiktief is, is dit waarskynlik veel akkurater as die prentjie wat gereeld vir Sondagskoolgangers geskilder word.) Net soos met sekulêre letterkunde, skuil daar soveel waarheid en wysheid in dit wat nié in die Bybel gesê word nie. Om André Brink aan te haal: 'n stuk letterkunde is 'n "halwe sirkel" wat deur die leser voltooi moet word.

Die boek slaag ook as 'n "gewone" roman en kan gelees en gewaardeer word deur lesers wat nie noodwendig aangetrokke voel tot literatuur met 'n geestelike inslag nie. Dit sal verder plesier gee aan dié wat van diepsinnige letterkunde hou, sowel as lesers wat bloot op soek is na 'n genotvolle leeservaring.

Die lees van Eksodus is 'n ontroerende en meesleurende ervaring, en 'n welkome stekie in die rigting van fundamentaliste wat nie wil toegee dat veral die Ou Testament, soos geskiedenis in die algemeen, oop is vir vertolking nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top