ek wil die weerlig soen
ek wil die weerlig soen
op ’n aand wat skitter
van die ruimtetuie
terwyl jy slaap in die metropool
in ’n historiese woonstelblok
bo-op ’n tektoniese plaat.
ek wil vuurvlieë spoeg
sodat elke vlerk wat in my mond gloei
om jou rose kan swerm.
uit die mik van ’n bladhoudende boom
hou ek die motors voor jou venster dop
’n deurwinterde speurder met kamera byderhand.
die bietjie reën wat ek beheer
kan ek eers oor ander strate stuur
’n nuwe pad beplan vir die koue fronte
sodat jy weer oor die drumpel kan trap.
as die dag breek
sal ek ’n laaste keer
aan jou donker venster krap –
intussen
gaan ek in stilte
voort met my nagtelike dade
wanneer jy slaap en niemand luister nie
onder ’n lug waaruit ruimtetuie val.
- Uit Die lewe tussen pikkewyne, 2011, Tafelberg.

