"Ek voel anders as ander mense": inskrywings

  • 2

Hier verskyn die inskrywings wat vir die kompetisie "Ek voel anders as ander mense" ontvang is.

Inhoud

Emma van der Walt Ronelle Fleischmann
Marissa du Plessis Sonja Theron
Chrizelle Strydom Mariné van der Walt
Lunel Hanekom Jani van der Watt
Hugo Barendse Jean-Mari Engelbrecht
Dorette Bester Pedran Wessels
Inke Pretorius Annemi van der Colf
Marisha Hermann Carle van Zyl
Melindi du Plessis Theané Janse van Rensburg
Sean Brandt Jessica van Rensburg
Sue-Anja Bresler Bianca Bresler
Zandri Malan Desiré Pretorius
Marni Deacon Inge Keyser
Hannah Venter Friedrich W Schmidt
Rachelle du Preez Cilliers Diedericks

 

Emma van der Walt, graad 10

’n Fratsgolf vir Sebastian

Sê nou maar jy besluit op ’n sonnige Kaapse dag om die Rooi bus na Houtbaai te neem. Jy sal seker teen die rooi baksteenmuur van die kaartjiekantoor leun, die Waterkant en hawe ’n dowwe agtergrond. Vir ’n oomblik wonder jy of jou deelname aan so ’n drastiese toeriste-aanloklikheid jou Kaapsheid verdof. Na ’n fyn bepeinsing tog aan die staalpyp klou en jouself na die binnekant van die voertuig hys. In jou rugsak grawe vir die kanariegeel oorfone, dit inderhaas inprop, net om uit te vind dat jou ouditiewe Peninsula-toer sal in Frans geskied. Soek na die verstellings. Daar’s hy, nou om in te neem.

Wanneer Kirstenbosch se paleiswonings wit en rojaal verbyflits, sal jy vir jouself sê : “Niemand interessant kan tog hier woon nie.” Jy’s heel waarskynlik reg. Behalwe natuurlik vir Melkbosstraat 663. Want sien, hier bly ’n doodgewone ma, ’n doodgewone pa en Sebastian (nie so doodgewoon nie). ’n Ma wat bak en tuinmaak. ’n Pa wat baie geld maak, en op Saterdae golf speel. En dan natuurlik Sebastian. Mure beplak met artikels oor die 2001 tsunami in Margate, dokumentêre oor die bedreigde spesies van die inheemse Suid-Afrikaanse koraalrif, stories oor die see en Moederaarde se tektoniese wraak op die mens, die Latynse name van skaaldiere endemies tot Kaapstad. En natuurlik ook Hercules, op die Kiaat-boekrak in die hoek.

Mense sê Sebastian is anders.

Hy’t darem vir Hercules. Maar Hercules praat nie vreeslik baie nie, bly in ’n Consol-fles met soutwater gevul (sommer uit die kaai geskep) en het een te veel vin om die ideale vriend te wees. Hy’s dalk nie die ideale vriend nie, maar hy’s ’n uitstekende kelkievis.

Sebastian sou altyd in verwondering na die blou tenks by Two Oceans staar, so asof hy oortuig is daarvan dat mens fratsgolwe tussen die visse en seegrasse kon gewaar, indien mens dit met ’n fyn oog bespied. Sy hand uitgestrek na die stil water agter die verdonkerde glas. Hy kon ure in die gange ronddrentel en onhoorbare goed mompel oor die kosmos en die verlede en die toekoms.

 Sy doodgewone ma en pa sou ongeduldig buite wag, die liggies van die Waterkant en die hawe in die agtergrond. Wag. Kwaad word. Na die ingang marsjeer, verby die blou draaihekke beur en sy donker krulle tussen die skare probeer soek. Oplaas vind, nader stoom, hom aan sy vyandig gebalde vuisie gryp en na buite gesleep. Sy doodgewone pa sou inderhaas probeer verduidelik dat gewone mense met gewone probleme, soos hy wat Sebastian was, nie net elke dag langs die hawe kan lê en kyk hoe die kratte gelaai word nie. Haastig, ongeduldig.

 Buite sou hy die klapwiek van ’n blinde seevoël in die nag hoor, saggies na sy ouers draai en mompel dat hy nog besig was om na die kluisenaarkrappies te kyk. En die uitheemse seesponse. Sy doodgewone ma sou op haar knieë voor hom gaan sit, krampagtig met haar hande na sy bo-armpies gryp. “Jy kan ander dag na die sponse en die wiere kyk, Sebastian! Ander dag na die kluisenaarkrappies, en die krewe, en die robbe, en die grasse, en die kelkievisse!”

 Sebastian sou net sy kop in verwondering skud en die roesbedekte Consol-fles omhoog hou. “Hoekom sou ek na die kelkievisse kyk? Ek het mos vir Hercules ...”


 

Ronelle Fleischmann, graad 10

“Weirdo!”

“Jy lyk soos ’n 70's loser met daai haarstyl van jou!"

"Wanneer gaan jy weer terug na daai dump waar jy vandaan kom?" Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde van die dinge wat vir die skool se "outsiders" gesê word.

Van ’n baie vroeë ouderdom het ek gedink ek is ’n alien wat gekom het om planeet aarde te verwoes of een of ander "wannabe" van Frankenstein se onbeplande wetenskaplike ontploffing is! Mense kyk my nog altyd vreemd aan, maar daai tipe kyk wat jy vir jou hond gee wanneer hy vir die soveelste keer op jou gunsteling mat piepie.

Ek's daai meisie wat namens die hele klas vir ’n onderwyser sal sê as hy of sy nie die klas behoorlik aanbied nie of onregverdig teenoor ons optree. Ek sal ook alles in my vermoë doen om iemand te help wanneer hy of sy deur ’n moeilike tyd gaan. En waar almal rondom my eerder vir hulself die nuutste H&M-somersrokkie sal koop, sal ek eerder my aandete vir ’n honger straatkind gaan gee.

Boelies vind my uithouvermoë, goedhartigheid, vriendelikheid en lojaliteit intimiderend. Daarom is ek gewoonlik heel bo-aan hulle teikenlysie, alhoewel hulle my nooit plat op die grond sal kry nie! Soms maak ek asof ek ’n karakter uit ’n feëverhaal is wat ook eendag my eie gelukkige einde sal hê.

Omdat ek dinge anders doen as die ander kinders, staan ek bekend as die onbekende wese waarna almal verlang, maar nooit sal erken nie. Op ’n stadium het dit vir my gevoel asof ek nooit werklik ’n mens kon wees nie, want volgens my skoolmaats tree g’n mens só op nie!

Daagliks word ek herinner dat ek nie goed genoeg is om ooit iets in die lewe te bereik nie, al kry ek 90% vir wiskunde! Daar word onmoontlike prestasies van my verwag en gesê dat ek nie sukses werd is nie. Ek is ’n bedreiging vir al wat ’n populêre meisie is omdat ek kan sê hoe ek regtig oor sekere dinge voel en daarna die gevolge daarvan kan dra.

In die klas is ek die "witbroodjie" wat, volgens my klasmaats, alles kan regkry met die onderwyser. My werk is altyd op datum en netjies, ek leer vir al my toetse (of dit nou tel of nie) en my take word al weke voor die tyd ingehandig. Ek was nog altyd die "odd one out" in al my groepies en het nog nooit werklik by enige vriendekring ingepas nie. As ek nou daaraan dink dink ek nie ek wou regtig êrens "inpas" nie, ek wou eintlik net aanvaar word.

Om anders te wees is nie altyd vervelig nie en om normaal te wees is nie altyd lekker nie. Miskien kán "weird" die nuwe Charlize Theron, en "pliggie" die nuwe Thomas Edison word.


 

Marissa du Plessis, graad 12

Ontspoor

Sy mond was die sterre, want soms het hy my die geheime van die heelal vertel.

Sy hart was wild, ’n hele wêreld vasgevang in ’n kind, ’n anderste kind. Soos die wolke was hy, hoe nader ek gekom het, hoe meer het ek geweet ek sou nooit deel kon raak, deel kon raak van sy abstrakte liefde nie. Vanaand dieper en dieper onderwater. Tot jou gesig ’n duidelike beeld word.

Môre is jy somer.

Ek wil gewoond raak aan die môreson. Die somerson. Soms maak ons oorlog, oorlog met woorde, net woorde. Saam veg ons teen die wreed van die wêreld.

Ek het versuim om te sê, storieverteller luister na my. Laat my toe om jou te verewig, in my drome, gedagtes, gebede met pen.

Mag ons heelnag dans, mag die sterre ons geheime afluister, die maan vir ons lag en die wind vir ons sing, want vanaand steek jy vure aan diep, diep binne my.

Storieverteller, hoor jy wat ek sê? Jy laat my ontspoor van die hede en dwaal na die ver gedroomde toekoms.

Storieverteller, luister jy?

In die donkerste nag soek ek die helderste siel wat saam met my die skadu-monsters en ster-kersies aandurf op soek na ’n uitkoms.

’n Uitkoms sodat ons kan lief wees. Ons anderste lief te kan wees. Net wees.

Storieverteller luister jy nog?

Dis ek.

Jou lenteblom.


 

Sonja Theron, graad 7

Jy kan stap in ’n plek in en niemand sal eers besef dat jy ingestap het nie. Jy voel al klaar asof jy nie daar hoort nie.

Baie mense probeer harder praat of beter aantrek om net in te pas of om aandag te trek. Baie meisies dink hulle moet inpas om populêr te wees, maar ek het onlangs besef dat om populêr te wees, glad nie ’n teken is van waarnatoe jy in staat is nie.

Daar is ook baie mense wat glad nie inpas nie, want hulle het ’n persoonlikheid wat nie inpas by die perfekte poppies wat in die klas sit en wat dink hulle is beter as jy nie.

Dan kom ons by my. Ja, ek is bietjie vreemd, en anders, maar ek hou van wie ek is! ’n Mens kry net een kans in die lewe om te wees wie jy is en tevrede daarmee te wees.

My vreemdheid het my al baie hartseer berokken, want die kinders sal sleg praat oor my by die skool. Om dit te verander, het ek probeer verander. Ek wou aantrek en optree soos die ryk en populêre kinders, en dit is waar dit ’n probleem geword het.

Ja, my hele voorkoms het soos almal gelyk, en as almal gesê het “boo” het ek gesê “ba”. Dis hoe ek al meeste van my ware vriendinne verloor het.

Toe ek in graad 6 was, was dit die jaar van prefekte kies. Dit was die jaar wat ek besluit het om my persoonlikheid te verander, sodat ek uiteindelik saam met die populêre kinders in die leerderraand kon wees. Dié Oktobermaand het gekom en ek was toe nie gekies om deel van die leerderraad te wees nie. Dit het gevoel asof my hele lewe inmekaar geval het. In Graad 7 het ek nog vriende verloor, want net soos ek die vorige jaar wou, wou almal net met die leerderraad vriende wees en die mense wat ek gedink het was my vriende het my toe in die rug gesteek met ’n groot steak-mes! Ek het toe besef, dat al dra ’n aap ’n goue ring, hy is en bly ’n lelike ding!

Ek is ’n swemmer en ek oefen baie hard sodat my droom om eendag Olimpiese spele toe te gaan waar kan word. Maar my beste vriendin sê sonder om te blik of te bloos dat ek nie ’n goeie vriendin is nie, want ek kan nie kuier in die vakansies en naweke nie. Swemmers het nie ’n normale lewe soos ander mense nie, maar die feit dat sy so oor my dink is belaglik. Net omdat ek anders is as sy? Dan wonder ek wat sy nog oor my te sê het, aangesien al my ander vriendinne (of eerder, wat ek gedink het my vriendinne is) my nou weer skielik ignoreer.

Ja, ek voel anders en ja, ek het nou nie die beste vriende gehad nie, maar dit het my nooit gestop om te glo dat ek mooi en geseënd is, nes ek is!

As jy dink dat jy te vet of te vreemd is, dink net: “God het my so geskep!”

Wees trots op wie jy is, want jy weet nooit of al die poppies en mense wat jou so gekritiseer het op skool, eendag op die televisie vir jou gaan kyk en sê dat hulle die grootste fout van hulle lewe gemaak het nie.

Geniet die lewe terwyl jy nog daarin is.


 

Chrizelle Strydom, graad 9

Hoe voel dit?

Nog ’n groter vraag is: Hoe voel dit om deel te voel? Deel van die samelewing – dat mense jou nie snaaks aankyk nie, maar tog opreg in jou belangstel.

Ek hoor nou al ’n klomp bejaardes in die agtergrond kommentaar lewer oor hoe dit “net ’n fase is” en “sy is maar net op daai stadium” of die klassieke, “Vandag se jongmense. In ons dae …”

Ek hóú nie van die manier hoe alles groepeer word nie. Maar hoekom wil ék dinge anders doen?
Ek hou nie van die manier hoe almal groepeer word nie.

Wel, die kans dat daardie “tipe” op wie ek hierdie stelling mik, dit ooit sal verstaan is nie realisties nie. Sodra ons almal – wat nie in die boksie inpas nie – dan net sal probeer om die wat hulself beseer om in te klim en dan eintlik besef hulle pas nie, weer uit te help.

Ek onthou kleintyd goed. Ek onthou toe ek ’n haarkapster wou word en ander jong meisies se hare stylvol wou snip. Maar tog, dit het beteken ek moes die vaardigheid hê om met ’n skêr ’n reguit lyn te knip. Na vele jare en vele drome wat ook later vergeet was of in nagmerries verander het, het die samelewing, realiteit, my kom indoktrineer.

Dis moeilik om aan goed so “onrealisties” soos “wat as ons ag ure voor ’n bord sit, maar niks mag bevraagteken nie” dink. Dis veral moeilik as jy soos ek is, tydens die ag ure voor ’n bord eerder sit en dagdrome droom wat jy weet nie realisties genoeg is nie.

Wat as ek vir jou sê dat ek nog altyd ’n skrywer wou word? Boekrakke en boekrakke vol boeke wat ek sou skryf en met my gedagtes ander mense sou inlok na my wêreld. Maar die waarheid is dat nie alle boekuitgewers belangstel om ’n vyfjarige kroeskop-dromer se gedagtes te lees nie.

Wat as ek vir jou sê, dat ek nog altyd flieks wou maak en mense se aandag wou trek met behulp van ’n wit skerm. Maar die waarheid is dat min mense sou belangstel om ’n sewejarige puberteit-draadjie-gesig se flieks en animasies te sien.

Wat as ek vir jou sê dat ek eintlik nogal mooi kan skilder – al vandat ek ’n potlood kon vashou.
Dis al wat ek wou doen. Maar die waarheid is, wie sal nou ’n kindjie se “baie abstrakte” kunswerke teen hul huise se mure wil hang?

Wat as ek sê dat ek onlangs besluit het om eendag teater ’n stappie verder te vat, maar mens kan die onderlangse stemmetjies, gegrinnik en oogkontak raaksien. Want dis net die beste van die beste wat dit eintlik daar maak.

Die waarheid: my lewensdrome is nie realisties genoeg nie. Jy kry net een kans, een lewe … en een keuse kan alles opmors.

Eintlik weet ek ons gaan nooit verander nie.

Eintlik weet ek dat ons funksioneer volgens standaarde en reëls. Eintlik verstaan ek dat nie alle mense soos ek dinge kan verstaan nie. As ek vir almal in die mall glimlag en groet, hoekom loop almal net aan?

Hoekom is mense so bang vir anders wees? Ek het soveel gedagtes en idees wat ek wil deel, maar ek dink vir nou is een inskrywing, van een in-gedagte-dromer wat een sosiale aanvaarbare standaard moet volg en tog ook self bang is oor wat selfs net een persoon van haar kan dink.

Ek voel anders en ’n klomp ander mensies voel soos ek.

Eintlik is almal wat bang is vir anders, bang vir mense soos ons.


 

Mariné van der Walt, graad 12

My onderwysers, vriende en ouers het dikwels my been getrek. “Jy gaan eendag met ’n boer trou!” het hulle almal gesê.  Ek het altyd maar net goedig saam gelag en my nie veel aan hulle gesteur nie. Soms het ek egter tog gewens dat ek net ’n ou hanslammertjie of twee by die skool agter die tennisbane kon aanhou. Wanneer ek op warm somernagte net eenvoudig nie kon slaap nie, het ek myself toegelaat om te droom. Van my plasie en al my diertjies en dalk selfs ’n boer …

Nadat ek aan ’n Engelse meisieskool gematrikuleer het, was my romantiese hoërskooldrome vinnig vergete. Tydens my studies het ek één kêrel gehad, maar die arme siel kon net eenvoudig nie my liefde vir diere en die natuur verstaan nie. Dus moes hy maar die trekpas kry. Mettertyd het skoolvriende gekom en gegaan, maar my Kalahari-knaap, op daardie stadium my beste vriend, was altyd daar. Vinkel en koljander …

Ons het dikwels gepraat oor die toekoms en dan het ons ons droomhuise met boublokkies aanmekaar getower. Dit was nooit te warm of te koud vir ’n bakkie roomys met sjokoladesous nie. Hy het my geleer dat koffie met bokmelk, gedrink uit ’n blikbeker, die lekkerste lekker is. Daar was altyd ’n trooswoordjie of ’n grappie om die son van my gemoed ’n bietjie helderder te laat skyn.

Voor ek my oë kon uitvee, het ek my studies voltooi en was dit tyd om die nes te verlaat om my gemeenskapsjaar te doen. Vir my was dit glad nie moeilik om die besige stadslewe vir die stil Kalahari te verruil nie. Daar was ek naby aan die natuur waar ek in ’n woonstel op ’n kleinhoewe buite die dorp gebly het. My Kalahari-knaap het op daardie stadium nie te ver daarvandaan geboer nie. Na afloop van my besige jaar, as die dorp se arbeidsterapeut, het ek ’n permanente pos by die plaaslike kliniek aanvaar.

Ek was eendag op ’n drafstap op pad na my motor toe ek hard in iemand vasloop. My inkopiesakkies het oor die aarde getrek. Die persoon waarin ek vasgeloop het, trap toe boonop op die melkbottel dat die prop doer trek! Ek was vies besig om my inkopies op te tel toe ’n bekende stem, dik van die lag, vir my vra: “Meisiekind, van wanneer af drink jy beesmelk?” Dit was my Kalahari-knaap. Van daardie dag af het ons dikwels by die kafee op die hoek ’n roomys gekoop en dan sommer in die parkie op die swaaie gesit en kuier.

Kalwerliefde het later in vir-ewig-liefde verander. Skaars ’n jaar na ons “botsing” is ons getroud. My eendag het gekom en my trouman was ’n boer. My onderwysers, vriende en ouers het toe immers geweet waarvan hulle praat.

Ek voel anders as ander mense … Ek drink bokmelk in my koffie, eet roomys in die winter en bly op ’n plaas in die Kalahari. Ek voel anders as ander mense, maar ek sal hierdie ‘anders’-gevoel nie vir die wêreld verruil nie!


 

Lunel Hanekom, graad 8

Kamers van my hart …

Baie min mense verstaan my regtig. Mense het net ’n halwe idee van wie ek werklik is. Meeste mense, wel feitlik honderd persent van die mense wat my ken, sien net ’n halwe ekke …

Mense het geen idee hoe ek voel, waarvan ek hou, wat ek haat en wat deur my kop dwaal nie … Meeste mense sien en kry net die halwe ekke.

Hulle sien net die goue hare, die “oh so sweet average” klere en my “oh so sweet” persoonlikheid. Hulle sien net die meisie wat haar hart uit staan en sing op die verhoog of snot en trane skree in ’n toneelstuk. Hulle sien net die meisie opstap verhoog toe om iets te gaan haal. Dan klap hulle boonop nog so snobisties hande, maar niemand ken die ware ekke nie.

Diep, diep, diep onder, in die laagste, donkerste kamers van my hart is die regte ekke, die ek wat niks en niemand van weet nie.

Die ware ek is anders, baie, baie anders. Die ware ek is sag en fyntjies, maar tog ook nie bang om ’n bietjie engine grease onder haar vingernaels te kry nie.

Ja, ek is ’n rowwe sterk koekie. Ene met spesiale sjokoladestukkies in. Die ware ek hou van karre en motorfietse, die ware ekke is nie bang om in die skaapkraal in te gaan of op ’n trekker te klim nie.

Die werklike ekke, regte egte, sonder verbuigings of enige so iets ekke, is ’n plaasjapie. Ene wat dans in die reën, kaalvoet stap in die ou grondpad (met ’n leerbaadjie aan), koppies uitklim waar my verbeelding oor die oop vlaktes sprei. Ek voel tuis agter die stuur van ’n motorfiets en raak sussend aan die slaap deur die dreun van ’n jagende kar.

Die ware eke het ’n sagte plek in my hart vir teater en musiek. Oral waar ek gaan, gaan die ware ekke saam.

Ek steek myself net goed weg. Al my drome en gedagtes hou ek naby aan my hart, veilig waar niemand dit ooit sal kan kry nie, totdat ek eendag daar buite is, dalk sal ek dan my ware kleure wys, maar vir eers bly hulle nog tuis, net hier by my.

Vir nou sal ek maar my opgetofde, selfversekerde maskertjie aansit, my average tienerklere en persoonlikheid aantrek en laastens my glimlag aanplak. Om in my hart in te te kom is ’n baie lang proses. Jy moet baie spesiaal wees, maar wie weet, dalk sal jy eendag doer diep onder in daai donkerste, laagste kamer van my hart mag kom …


 

Jani van der Watt, graad 7

Verbeeldingsvlug

As jy my vra om my lewe in een woord te beskryf, sal my antwoord “anders” wees. Ek het ’n entjie kom stap in die vallei – ek was nog altyd mal oor die vars boomreuk en skadu’s in die bos. Dis ’n Saterdag en ek kan raai dat die meeste van my klasmaats saam met mekaar kuier of partytjies hou. Ek was nog nooit goed met vriende maak nie, maar wie se skuld is dit? Ek vertrou hulle nie meer na my aaklige graad 6-jaar nie. Nou geniet ek dit om alleen te wees, want dan is ek myself. Dan hoef ek nie voor te gee dat ek iemand anders is nie.  

“Eina!” roep ’n seunstem iewers.

Ek volg die stem tussen die bome deur en kom af op groot vlerke.

“Sjoe! Ek het gedroom van mense met vlerke!”

Die seun draai om en kyk my verskrik aan. Ek is seker veronderstel om bang te wees, maar is nie.

“Wie is jy?” vra hy.

Ek glimlag net en sê: “My naam is Alina.”

Sy vlerk sit vas aan ’n draad. Hy wou seker langs die rivier gaan verken, toe sy vlerk vasgehaak het. Ek loop versigtig nader en help hom om los te kom.

“Nou toe,” sê hy. “Sê vir my, is jy Die Anders?”

“Wel, ek is anders, maar ek verstaan nie wat jy bedoel met ‘Die Anders’ nie.”

“Die een wat dinge met haar verbeelding waar kan maak?”

“Om die waarheid te sê, ek weet nie.”

Die seun kyk my stip aan en sit sy hand op my voorkop. Ek raak ongemaklik. Lyk ek vir hom soos sy troeteldier of iets?

“Ja, dis jy. Jy is Die Anders.”

Hy gryp my hand en vlieg met my tussen die bome uit. Dis ’n vreemde gevoel. Ons vlieg tot bo die berg, maar ek voel so lig soos ’n veer en val nie.

“Hoe op aarde?” skree ek nog, maar hy land op ’n groot rots saam met my. Ons kyk uit oor die dorp waar ek woon, maar nie inpas nie. Dit lyk soos ’n speelgoeddorpie en die mense soos onskadelike miertjies.

“Jy het die krag om enigiets waaraan jy dink te laat verskyn. Jou verbeelding is só groot en sterk.”

Ek luister na sy vreemde woorde en skud my kop.

“Nou waar kom jy vandaan?”

“Onthou jy nie? Die droom?”

“Ja, ek onthou, maar waarom het jy my opgesoek?”

“Omdat jy my uitgedink het ... en om jou sterker te maak.”

“Is ek dan sterk?”

Ek dink weer aan die aaklige tyd in graad 6, en hoe ek die een dag van die gras af opgestaan en die grond van my gesig gaan afwas het. 

“Ek weet van al jou probleme,” sê die seun saggies. “Ek is eintlik net hier om jou te vertel dat alles jou sterker gemaak het. Jy alleen kan jou wêreld verander. Jy kan hulle oë oopmaak en hulle vertel van mense wat vasgevang is in donkerte.”

Ek besef skielik dat my hart nog altyd sensitief was, en dit kan ek nie verander nie. Die wêreld was ook nog altyd wreed, maar dis ook pragtig! En ek kan raaksien wat ander nie kan nie! Ek is sterk, sterker as sterk. En hoekom? Want ek is ek, ek is uniek, ek is spesiaal. Ek is anders.

Die seun vat weer my hand en ons vlieg terug ondertoe. Toe ons land, knipoog hy vir my en waai. Hy begin stadig verdwyn. Toe ek hom nie meer kan sien nie, lag ek net en hou aan stap.


 

Hugo Barendse, graad 10

Ek voel anders as ander mense. Ek het nie gedink ek sal ooit in my lewe so voel nie …

Op ’n tyd was ek baie bekommerd oor wat mense van my dink, oor hoeveel ek vir ander kan koop of gee. Later het ek besef ek het baie vriende, nie omdat hulle noodwendig van my hou nie, maar omdat hulle geweet het hulle sal elke dag iets by my kry. Of dit nou ’n goedkoop pakkie koekies is of my mobile hotspot.

Later het ek besef hoekom ek so baie vriende het en besluit dit werk nie vir my nie. Ek wil nie een van daardie mense wees wat my vriende koop of omkoop met allerhande dinge nie.

Ek het besluit ek gaan heel eerste eers na myself kyk en seker maak ek het alles wat ek nodig het en as ek dan nog iets oor het, sal ek vir iemand iets gee, as ek kan.

Dit was nie eens ’n week nadat ek dit begin doen het nie, waar ek ’n hele paar van my vriende verloor het. Maar dit wys jou net wie is regtig jou vriende en wie jy kan vertrou.

Ek het besluit, die mense wat nie meer met my wil vriende wees nie moet aangaan, ek sal hulle nog groet, maar dit is waar ek sal stop.

Ek het besef dit gaan nie oor hoeveel geld jy het of wat jy vir mense kan gee nie, maar vriendskap en geluk. Ek fokus nie meer op sukses nie, maar my lewe. En ek voel so goed oor myself, ek is weer lus vir die lewe.


 

Jean-Mari Engelbrecht, graad 9

Sê jy “anders”?

By kuiers was hy ’n verkleurmannetjie. Op ’n afstand, onbetrokke, geheimsinnig. Pikswart gekleed, hare lank, tjoepstil agter teen die muur wat skud van die luidspreker wat deurmekaar ritme probeer hou. Tussen mense, vreemdelinge sogenaamde vriende. Hy kyk net soos hulle in die bottel en trap ook op verleë, verlate sigaretstompies. Net soos die res, heeltemal normaal. Of is dit?

Hy ontsnap na buite, maak sy oë toe, haal diep asem in ... en blaas stadig uit. Sy gedagtes is op hol. Hy smag na stilte, want al skyn verdwaalde sterre paraat bo sy kop, is die stad nog steeds lewendig. Nog plekke om te wees, nog dinge om te doen, die gejaag, gedreun, gedruis, ver weg sirenes, karre en ambulanse wat verward noodkrete skree. Dis aande soos dié waar sy skouers onder die gewig van die wêreld breek dat hy wens hy was anders, hy het gewens hy was nes sy …

Sy was selfversekerd, standvastig, doodeenvoudig, deursigtig. Sy het geweet wat sy wil hê en sy het geweet sy gaan dit bereik en die res het geweet niks gaan haar stop nie. As jy mooi kyk kon jy die hemel sien dans in haar lewendige blou oë. Of die huppel in haar stap vergelyk met die van ’n dame wat in harmonie leef met haar kop, hart en siel. Sy was so gelukkig, dat sy vir die gewone mens verdwyn het. As sy snags op haar klavier gespeel het en die laaste note in die nag weggesterf het, het sy gewens ander sou haar ook raaksien. Sy het gewens sy was nes hy.

Hoekom heeldag speel as jy jou tas kan pak en finaal groot word? Hy was jonk, avontuurlustig, ernstig. Kinderlik maar nie kinderagtig nie. Die sandput ’n skoon vel papier waarin hy sy toekoms fyn beplan het. Op die klimraam het hy vasberade geoefen soos die mans in die gimnasium op televisie. Hy was sterker as die res, emosioneel en fisies, “speel-speel” was doodernstig. Hoe gaan mens dood en word weer lewendig? ’n Pa met ’n kind, dieselfde ouderdom? ’n Realis met die wêreld aan sy vingerpunte. Tydens storietyd het hy verdwaal in waterverfdimensies en homself verloor as die rower, die held, die grootmens. In die stories was die held altyd ’n grootmens. Daarom het hy jaarliks vir Kersvader gevra dat hy die grootmens kan wees, die held …

Sy bene was harig, sy stem vreemd en sy baard het die kind in hom vermom. Vermom in ’n belastingbetaler, karlose, verlore man. Sy pa dwing ingenieurswese op hom af en sy ma rekenmeester, en wat van homself? Verlore in ander se idees van wat sy lugkastele moet wees, bou hy sandkastele net soos toe hy werklik sorgeloos was. Elke keer wanneer hy ’n muntstuk in die fontein gooi kan hy nie help om te wens nie, werklik met hart en siel te wens dat hy verlos kan word van die verantwoordelikhede. Om onskuldig kind te wees.

Die seun wou die meisie wees en die meisie die seun, die kind die man en die man die kind. Wat beteken dit nou regtig om normaal te wees? Is ons almal nie anders nie?


 

Dorette Bester, graad 12

Ek voel anders as ander ...

Binne my kartonboks is die stiltes oorverdowend en gedagtes skreeuende nagmerries. Hier binne is die wêreld klein, eensaam, vervelig, tóg veilig. Dié blikmetaal Google verniet hoe die buitewêreld lyk. Want fynbos wil ek ruik, reëndruppels proe en die liefde voel. Soms voel ek anders as ander, asof ek nie behoort nie. Is dit waar?

Die lig van die buitewêreld soek-soek totdat die Ooste-son sy strale soos strelende vingers deur die gate steek. Die warmte is skielik en vlietend van aard. Ek drink elke oomblik in voor die donkerte en liggies, wat aan die hemel hang, die son se plek inneem. Wagtend lê ek tussen motgifballetjies in my vaal verpakking versteek. Voor ek my vervaldatum bereik, gooi ’n haastige vragmotor my rond en bont. Van die een uitverkoping na die volgende, totdat ek op ’n dag onder ’n denkbeeldige denneboom lê.

Vroeg een oggend gryp gretige hande my verpakking vas. Ek word beoordeel op grond van grootte en gewig, voor ’n skêr deur die kleefband, wat my vryheid toegeplak het, sny. Dit bloei, borrelverpakking bars en die Kersvader-geskenkpapier vorm deel van my eienaar se herinneringe. Ek was ’n begeerte, nou is ek eiendom. Soos my battery herlaai, asem ek die “buitewêreld” in. Voel ek nou soos hulle? Is ek uiteindelik vry?

My eienaar loop spoggend rond met my, min wetende van my werklike waarde. Hy soek aanvaarding by sy vriende, ou garde en spesifiek sy boelies. Ons is eenders, die twee van ons, albei verbrand ons battery – ons lewensduur – vir één kompliment, één meer Facebook-duimpie en één pouse saam met die in-groepie. Is ek nou een van hulle? Behoort ek hier? Alles word bepaal deur vriendskapsversoeke en aanhoudend flikkerende boodskappe.

Ek leef onder beheer van my eienaar se duim. Voer elke opdrag uit om sy tevredenheid te ervaar. In ruil word ek lewend. Toer ek die wêreld van gatsak tot rugsak. Ek word telkens saam met sleutels en beursies, onder motorsitplekke, vergeet. Wyl ek wonder oor my vryheid, bevestig hy dit deur beskermende metaal om my te plaas. Die vier mure vorm my nuwe tronk. En nou, aan watter kant van die tralies staan ek?

Ou speelgoed word môre se nuwe vullis. Ritselende herfsblare bring die koue front en Apple se nuutste uitvindsel kondig my koue verwerping aan. Van nuutste na oudste, beste na tweedehandse, in ’n oogwink. In die rotresies is ek die skilpad, wat nie die haas kan wen nie. Ek voel toe al die tyd soos hulle, die mensdom. Uitgebrand. Haastig. Rigtingloos.

Alles was pikgitdonker. Tot ’n lig my aan die einde van die donker tonnel, of liewer ’n gawe koper, met sente my afbetaal. Selfs die smous het die arme man bejammer. Maar volgens hom was my gehalte nie gekoppel aan handelsnaam of status nie, eerder aan karakter en ervaring.

Saam het ons vir sy kleindogters oorsee gebel en SMS’e gestuur aan die Here, indien Hy nie meer, in die 21ste eeu, gebede in sy inboks ontvang nie.

Ja, ek – ’n elektroniese blikmetaal – met weinige opsies kon behoort en identiteit vind. Tussen slimfone en multimedia-toestelle. Kon my laaste doel uitdien, met die oproep aan die dokter, net voor sy noodlottige hartaanval, wat ’n battery verhoed om ooit weer te reboot.

Ek voel anders as ander, want ek is saamgestel uit rekenaar-bugs, maar kon met ’n onvoorwaardelike liefdes-patch ’n unieke doel uitdien. Ek het nie één like nodig gehad nie, net één persoon wat in my geglo het!

Anders-voel is hoe verskille gemaak word. Ek wil anders wees as ander, maar ek kon dit net gaan vind buite my veilige verpakking …


 

Pedran Wessels, graad 8

Waardeloos

07:00. Kopseer. Jean-Pierre voel hoe sy kop klop van die pyn. Stadig sit hy regop, sy oë half verblind deur die môreson, maar helderblou en reg vir die dag. Met sy voete verstrengel in die mat, sloer hy voort na sy hangkas. Daar maak hy sy keuse van drag. ’n Metro-keuse: stywe swart broek, trui, gemaak van dik, grys wol, wit leerskoene wat gaan tot by sy enkels en die regeringsvereiste: masker! Die masker word deur die regering verskaf om seker te maak dat die nasie nie onsekerheid, ongelukkigheid en depressie, die grootste oorsaak van sterftes, toon nie. Voor hy sy ontbyt met ’n groot "glimlag" eet, neem Jean-Pierre eers ’n foto van sy bord. Onderaan tik hy ”#geseënd” met die wete dat min mense nog die ervaring met hom kan deel en laai dit op die Werf.

11:00. Onseker. Jean-Pierre dwaal na die monitor, nie seker hoekom hy daar is en hoekom hy dit doen nie. Sy oë dwaal oor foto’s wat op die Werf se sosiale blad geplaas is. – “Die Werf is ’n regeringsinisiatief. Deur die middel van kommunikasie word die nasie blootgestel aan staatsgeborgde inligting en nuus. Dit is ook ’n medium waardeur die volk gemonitor word om hulle veiligheid te verseker.” – Sy taak vir die dag is om foto’s te identifiseer wat sonder ’n masker op die gesig is, nie genoeg grafies gemanipuleer is nie, nie aan skoonheidsvereistes voldoen nie en nie ’n vertroostende teksbeskrywing onderaan het nie wat as skynheilig geëtiketteer kan word. Op grond van dié misdade het die staat die volle reg om jou waardigheid as mens te vernietig en ’n publieke bespotting van jou te maak. Die advertensiefooie van dié uitsending is tog ’n hoofinkomste van die Staat en dus is Jean-Pierre se beroep van hoë belang. Die misdadigers val ook onder die ‘gesogte’ – verwysing: Handboek van Binnelandse Kwessies en Rampbestuur, Artikel 6 – statistiek van mense wie hulself as ’n las van die Staat beëindig.

16:00. Desperaat. Jean bevind homself in ’n apteek. Sy werksdag het hom ontstel, maar hy sukkel om agter die rede te kom. Dit het hom nog nooit vantevore gepla nie, en is daar nou ’n rede dat dit moet? Hy groet die apteker met ek-moet-mos-glimlag en bieg dat hy iets vir sielsontrus nodig het. Die apteker verskaf ’n helder, potblou pilletjie aan hom met die letters “BS” opgeskryf. (“BS” is ’n afkorting vir breinspoel. Gebruik deur die Staat om iemand van twyfel in die sisteem en instansie te bevry.) Daar word aan hom gesê om dit voor slapenstyd te neem.

21:00. Min wetend. JP lê onder sy lakens. Sy masker is gebêre en al wat oorbly is ’n gebroke siel wat spreek deur sy oë. Die dade wat hy dag na dag pleeg, roer sy hart, wat eens rein was. Hy voel hoe ’n stuk van sy menswees, sy naam en sy waardigheid verteer word deur elke sekonde deur sy versteurde gewete. Hy het sy pil geneem, maar vind dit moeilik om te slaap. Hy hoop en glo dat die dag wat gaan volg, beter sal wees. Sy lewelose oë val toe. Min wetend dat die Staat al lankal die idee van hoop verban het …

07:00. Kopseer. Jean-Pierre voel hoe sy kop klop van die pyn. Stadig sit hy regop, sy oë half verblind deur die môreson, maar helderblou en reg vir die dag. Met sy voete verstrengel in die mat, sloer hy voort na sy hangkas ...


 

Inke Pretorius, graad 7

Gesondheid voor verhoudings

Baie mense sê dat ek eendag met ’n boom sal trou omdat ek eerder na my gesondheid kyk as na ouens maar ek gee nie om wat hulle dink nie, want ek het al lankal daarmee vrede gemaak.

Die meisies val oor hulle voete as ’n ou vir hulle ’n bos blomme by die skool gee, maar my oë sien heeltemal ’n ander prentjie raak. In drie dae sal die arme goed verlep, dan beland dit op die komposhoop waar die vlieë en muskiete mal is om partytjie te hou. Dan moet jy permanent met ’n blikkie Doom in die huis rondloop wat ook nie goed vir jou longe is nie.

Nog ’n virus wat jou gesondheid kan tart is sjokolade. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is ’n groot sjokolade “lover”, maar om elke week ’n blok daarvan van jou kêrel te ontvang sal natuurlik beteken dat jy met jou vriendinne moet deel wat by jou kom bedel vir ’n stukkie, die moeite doen om jou tekkies aan te trek en te gaan draf totdat jy soos ’n hond uitgesweet is of maar van daai mooi bikini-lyfie vir die Desembervakansie te vergeet.

Nog ’n ding wat kan gebeur as jy verlief is, is dat jou wiskundepunte soos ’n klip in die water val. Die rede hiervoor is dat jy besig was om romantiese films te kyk of dat jy en jou kêrel heerlik vir mekaar liefdesboodskappe gekoer het in die tyd wat jy moes geleer het.

En soos altyd vat my kop ’n draai té ver! As jou wiskundepunte geval het beteken dit dat jy nie aan ’n universiteit aanvaar sal word nie en as jy nie aanvaar word nie sal jy nie werk kry nie en as jy nie werk kry nie dan moet jy verewig onder jou ouers se dak lewe! Wat ’n ongemaklike situasie, nè?  

Het jy al ooit ’n film gekyk waar die man hulle huwelik se herdenkingsdatum vergeet het? Ja, moenie dat dit jy is wat daar op die skerm staan met ’n mond vol tande nie.

“Melissa!”

Ek skrik wakker toe Shaney se gesig net sentimeters van myne af weg is.

“Wat maak jy hier? En hoe het jy ooit in gekom?” Verskrik staar ek na my wekker. Dis twee uur in die oggend!

“Ek kon nie slaap nie,” begin Shaney, “Môre of oor ’n paar ure gaan ek Wikus se ouers ontmoet en ek weet nie wat om aan te trek nie.”

Wikus is Shaney se kêrel wat mal is om grotman te speel by die sokkies. Hy sal enige iemand aan die kraag gryp en hulle voeter as hulle net vir haar kyk – nog ’n rede wat onder my lysie sorteer.

“Trek net ’n denim en ’n swart top by jou sneakers aan. Dis altyd in die mode,” sê ek deur ’n lang gaap en vee oor my moeë oë.

Shaney gooi haar arms dramaties in die lug. ”Dis nie genoeg vir ’n eerste voorkoms nie!”

Ek kan myself net daar vererg. ”Maggies Shaney! Dis nie asof julle gaan trou nie.”

Sy vee oor haar hare, wat duidelik sê dat sy net uit die bed gespring het, en kyk dan op na my.

”Dink jy ek kan darem iets met my hare doen as ek aantrek wat jy gesê het?”

“Natuurlik.”

Sy gee vir my ’n drukkie en klim deur die venster.

Ek gaan staan by die venster en kyk hoe sy by die straat af hardloop. Dalk kyk ek anders na verhoudings maar ek sal altyd vir Shaney ondersteun.


 

Annemi van der Colf, graad 10

Ek is anders as ander mense

Ek het nog altyd geweet ek is anders. Iets van my was anders. My ma het altyd met my gespot: “Ammie, jy’s doodgoed en ook goed dood.” Min het enigeen van ons geweet hoe vinnig sou ek goed dood wees. Hier volg my storie.

Ek wil altyd sê my lewensverhaal, maar sodra jy die aaklige woorde “jy het kanker” hoor, dan word kanker jou lewe. Jou lewe draai daarom. Jy lees daaroor, jy verlaat net die huis daarvoor, jy eet net gesond – asof dit jou siekte gaan genees – die lys hou nie op nie.

Ek was sewentien toe my wêreld geëindig het. Dit het begin met ’n skerp pyn in my regterarm wat nooit weggegaan het nie. Ons het toetse laat doen en toe het die grys, bles dokter met koue oë na my gestaar en die hartverskeurende nuus aan my gebreek. Ek het met chemo begin, maar dit het nie gewerk nie. ’n Vinnig groeiende osteosarkoom-kolonie in my arm het my liggaam oorgeneem. Kort daarna was ek fisiek anders, my arm is nou ’n stompie. Afgekap deur dr Steriel om die kolonie te beveg.

Ek was GTK (geen teken van kanker) vir vier maande, so vry soos enigiemand kon wees wat net een en ’n halwe arm gehad het. Die kolonie het daarna die res van my in besit geneem. My liggaam wat my uitgemaak het, was nou gemaak van kanker. Ek was kanker. My wêreld het weer van voor af geëindig. Dr Steriel het gesê daar is niks wat hulle meer vir my kan doen nie. Ek was kwaad. Hoe kan ander mense gesond wees en negentig jaar oud word? Ek gaan nie eers een en twintig haal nie en my laaste paar jare was aaklig.

Ek het net uit die huis gekom om hospitaal toe te gaan. Die res van my laaste weke het ek in my bed, voor die TV, met ’n boek of saam met my gesin spandeer. Ek het net gesond geëet buiten vir die roomys wat ’n vriendin ’n paar keer skelm vir my gebring het. My ma sou die horriepiep kry as sy sou weet.

My laaste paar dae was rustig. Mens weet nooit wanneer dit jou tyd is nie. Nooit of vandag jou laaste dag is nie. Ons het gister van die dokter afgekom. Ek het ’n week oor voor ek stompie in die dak steek. Dis hoekom ek hierdie skryf …

So, hierdie was my storie. Ek het altyd geweet ek is anders as ander mense.


 

Marisha Hermann, graad 9

Dis die blok aan ’n dromer se been

Dis die swewende spookasem in die lug en die soet karamelspringmielies aan die stam van die boom vasgeplak. Ek sien die klein epic karakters wat op die voëls ry.

Dis Rapunzel se hare wat van ons derde verdieping by die skool afhang en Belle wat deur die lang gras saam met meneer Beast dans. Wonder Woman beëindig die Tweede Wêreldoorlog en dis die Slapende Skoonheid na haar eksamen.

In my tuin is dit die marshmallow-rose en die vriendelike zoemende hommelbytjie. Dis die ridders op die N1 en Batman wat die nagvoëls wakker maak. Die Gummy Bear-maatjies en die Simba Chips-skoenlappers, en die gesiggies in die tuin loer vir my. Daar is die goue blare van die boom langs die koeldrankrivier en Spiderman wat my vrees vir spinnekoppe vererger. Captain America hou vir president Donald Trump in toom en die Minion-onderwysers werk vir Gru, die hoof.

Dis 11:11, die kort wenstydjie.

Kreatiewe digters se posts is elke dag op Instagram en Applous word gewen deur die engele se soet stemme. Daar is note in die wind en blomblare wat beter stories as Deon Meyer vertel, en die gras skryf beter liedjies as Kurt Darren.

Ek sien die menslike hart in ’n hartjievorm ...

Maar nee, dit is nie ons wêreld nie!

Ek kyk na die rekenaar wat ek en jy gebruik en die lessenaar waarop ek nou druk. Ek kyk na my foon waardeur my boodskappe gestuur word. Ook die deur waardeur ek moes loop om in hierdie blokvormige vertrek te kom. Die vensterruit langs my bed waarop ek in die aand slaap.

Alles vierkantig en reghoekig. Ek woon in ’n blok met roomkleurige mure en in ’n groot, bedrukte klaskamerblok druk ek my kreatiwiteit uit. Selfs die opstel wat ek vir die Engelse eksamen moes skryf, was in blokvorm.

Ek hoor die woorde: “Moenie te veel TV kyk nie! Jou oë gaan vierkantig word!”

Hoe lank is daar nie geglo dat die aarde plat en vierkantig is nie? Die boek wat ek lees. Die boek, wat moet help met kreatief wees, selfs dít is in ’n blokvorm. Ek lees dat selfs waatlemoene nou in ’n vierkantige boks moet groei. “Om makliker te vervoer,” sê hulle ...

En dan besef ek: Dis die blok aan my been wat my van drome ontneem.


 

Carle van Zyl, graad 7

Is die lewe werklik ’n lied …

’n Gevaarlike wêreld ...

’n Wêreld vol slange wat hul in ons lewens inwurm om dit te vernietig …

’n Wêreld vol monsters in die donker en ’n handjie vol helde wat ons kan bevry van die duisternis ...

Leeus op soek na prooi om hulle te verslind …

Ons lewe in ’n wêreld waar ons elke dag te doen kry met slange, monsters, leeus en nog baie ander uitdagings.

Verseker ’n gevaarlike wêreld!

Soms sê mense dat die lewe ’n lied is en dat ons voluit moet lewe. Hoe kan ons voluit lewe as die lewe nie altyd ’n lied is nie? Met slange, leeus en monsters op die uitkyk om ons lewens te verwoes is dit moeilik om te sê dat die lewe ’n lied is.

Al is dit dalk net iemand by die skool wat agter ons rûe van ons skinder omdat ons dalk te vet of te “nerdy” is. Al is dit dalk ’n kuberboelie wat ’n onaangename opmerking maak oor ’n foto wat ons op sosiale media gestuur het. Óf dalk iemand wat jou met opset benadeel om ’n prys te wen om die top presteerder te wees.

Mense is vreeslike wesens wat die lewe vir mekaar onaangenaam maak sonder dat ons dit besef, of dalk doen ons dit met opset. Ons ontneem mense van hul menswaardigheid en benadeel iemand anders om onsself te bevoordeel. Ons breek mekaar af, sê slegte dinge van mekaar en gebruik mekaar om die lewe makliker te maak vir onsself.

Sonder om te besef wat ons eintlik aan mekaar doen, gaan ons net aan met die lewe asof niks gebeur het nie en sê dat die lewe ’n lied is. Die dag wat ons werklik besef wat ons aan mekaar doen, vra ons onsself af óf die lewe ’n lied van vreugde en blydskap is óf ’n treurige lied vol hartseer en vrees dat ons nog ’n dag moet aanpak waar iemand ons boelie of emosioneel seermaak.

Dalk as ons mekaar waardeer, respekteer, omgee en lief is vir mekaar. Mekaar dalk beter leer ken voordat ons negatiewe opmerkings maak en ander mense aanvaar vir wie en wat hulle is. So kan ons die wêreld ’n beter plek maak vir onsself en ander mense.

Eers dan sal ons kan sê dat die lewe ’n lied van vreugde en blydskap is!


 

Melindi du Plessis, graad 9

Ek voel anders as ander mense. Hoekom sê ek so? Wel, ek sal my storie sommer vertel.

Once upon a time, a long time ago, maybe five or six hundred years ago ... Nee, wag. Nou oordryf ek sommer. Dit het alles in Graad 3 begin. My twee beste vriendinne, Nieke en Lilly, was in my klas. Nieke is die tipiese rooikop met die blouste oë en Lilly is ’n donkerkop met bruin oë en hare soos gesmelte sjokolade. Nieke is die soort persoon wat jou heeltyd gelukkig wil hou en Lilly is die, hoe moet ek sê, oorbeskermende, besitlike vriendin.

Ek weet sy was nog altyd jaloers op my en Nieke se vriendskap. Ons twee kom al van Graad R af saam. Ons is vasgebind aanmekaar, figuurlik natuurlik. Maar ongelukkig was ons vriendskap besig om uitmekaar te val. Lilly het al hoeveel keer probeer om Nieke van my weg te steel, slegte goed van my versprei en gereeld laat sleg voel. Ek is op 15 Junie 2001 met Groot Motoriese Breinskade gebore en was ook later met spraakprobleme gediagnoseer. Ek is ’n jaar ouer as my klasmaats aangesien my ouers my in Graad R teruggehou het omdat ek nie emosioneel gereed was vir skool nie.

Op 24 September 2011 het ek amper my ma, die een wat my vir nege maande in haar baarmoeder gedra het, verloor. My ma was in ’n koma en die onderwysers het ekstra aandag aan my gegee. Lilly was jaloers op hierdie aandag wat ek gekry het en sy het dit haar missie gemaak om my seer te maak. Sy wou nie meer vriende wees met my nie en het my begin boelie. Ek kon vir myself opstaan, maar ek was bang omdat ek geen selfvertroue gehad het nie.

Nieke het nooit geweet van Lilly wat my geboelie het nie. In graad 5 het Lilly my met haar vuis op die neus geslaan. My neus het gebloei en ek het gehuil. Nieke het dit gesien. Ek dink sy wou my help, maar Lilly het haar oorreed om dit nie te doen nie. Ek was seergemaak en het verwerp gevoel. Dwarsdeur my laerskoolloopbaan was daar klein gevegte gewees en hier en daar ’n gestryery oor Nieke. Ek het aanhou vasklou aan daai stukkie hoop dat Nieke my bo Lilly sou kies. Lilly het my geboelie tot die einde van Graad 7. Seuns het my lelike en snaakse name genoem. Ek was in my eie, "ek-kry-myself-jammer-borrel".

Twee jaar later:

En toe begin my hoërskoolloopbaan. Ek was só bly want dit was my kans om weg te kom van Lilly af aangesien sy na ’n ander hoërskool gegaan het as ek. Nieke is wel saam met my na Hoërskool Durbanville toe, maar nou het ’n nuwe ding sy kop uitgesteek. Aan die begin van Graad 8 het sy vir my vertel dat sy "Borderline Personality Disorder" (BPD) het en dat dit my skuld is omdat ek vriende was met ander maats. Sy het gedink dat ek haar sou los maar ek het haar bygestaan. Ek het probeer positief bly, maar haar negatiwiteit het my depressief gemaak. Ek was ongelukkig en het telkens die lus vir die lewe verloor. Deur daardie tydperk van my lewe het ek geskryf. Deur gedigte te skryf, het ek my gevoelens in woorde uitgedruk. Dit het my lewe gered.

En nou, twee jaar later, is ek en Nieke nog steeds vriende ... ’n pakkie van twee, al stem ons nie altyd saam nie.

Elkeen van ons is uniek. Ek is anders. Ek is Melindi du Plessis.


 

Theané Janse van Rensburg, graad 7

Soos die sonlig my wang warm maak, groet ek my huis waar ek 16 jaar lank gebly het. Ek hoor my ma skree: “Erik, kom, ons gaan sonder jou ry!” Soos ons wegry, kyk ek terug en wonder of ek ooit weer dieselfde sal wees. “Erik, jy gaan mal wees oor jou nuwe skool in Durban, ek belowe jou,” sê my ma. Ek is skepties, want om in ’n nuwe skool en nuwe stad aan te pas gaan baie moeilik wees, dan praat ek nie eers van die feit dat ek nie eers ’n woord Engels kan praat nie …

Toe ons in Durban by ons nuwe huis aankom, het my ma my gewys waar my kamer is. Dit was ’n groot kamer met ’n inloopkas en badkamer. Ek het oral in my nuwe kamer prente en foto’s opgesit sodat dit my soveel as moontlik aan die Kaap, waar ek groot geword het, kon herinner. Ek het hartseer geraak toe ek die foto van my en my broer teen die muur opgehang het – dit is nou al ’n jaar vandat hy aan breinkanker dood is. Dit bly erg en moeilik om sterk te bly.  

Ek het dadelik met ekstra Engelse klasse begin. Dit gaan baie moeilik wees om Engels te leer, en dit voor die nuwe jaar! Ten minste sal ek nie verveeld wees tydens die vakansie nie. By die ekstra klasse het ek baie nuwe mense ontmoet. Hulle het vir my oor my sterk Kaapse aksent, afro-hare en snaakse manier van dinge doen, gelag. Dit was moeilik en ek het myself maar net eenkant gehou. Dit was net die begin van my eensame pad alleen.

Een aand toe ek by die huis kom, het my pa en ma vir my op die stoep gewag. Hulle het my laat sit en vir my gesê dat hulle my vir ’n paar dae na my ouma toe wou stuur. Voor ek kon vra waarom, het my ma gesê: “Jy moet leer om met ander te sosialiseer. Ek weet jy mis jou broer, ons ook, maar vandat hy dood is, was jy nog nooit weer dieselfde nie.” As my ma maar net kon verstaan dat ek anders is en nie regtig in Durban sou inpas nie. Hier is nie regtig plek vir mense wat nie Engels kan praat en snaakse aksente het nie. Hulle stoot my uit en lag vir my. Ek bly hartseer en sukkel om oor my broer se dood te kom, maar hoe sal iemand dit verstaan? My vriend en sielsgenoot is nie meer daar nie.

Ek is na my ouma toe en het eers maar net in die huis gebly. My ouma het my gereeld uitgevat. Een dag by die parkie waar ons altyd gaan sit het, het my ouma ’n meisie gesien wat ook eenkant alleen gesit het. Sy het my gedwing om met haar te gaan praat. Ek het langs die meisie gaan sit en myself aan haar voorgestel. Na ’n rukkie het ek en sy baie lekker begin gesels.

Haar naam is Leila en gou het ek gehoor dat sy haar suster in ’n motorongeluk verloor het, maar Leila was baie klein. Ek en Leila het baie tyd saam spandeer en sy het my verstaan. Sy het nie gelag en my snaaks aangekyk nie. Sy kon tot in my hart kyk en toe ek haar gegroet het, het ek geweet als sal reg wees – ek moet net myself wees – al voel ek anders as ander mense.


 

Sean Brandt, graad 9

Mense word daagliks wakker met hul selfone in die hand. Hulle sal eerder op hul foon kyk of hulle ’n “tweet” ontvang het as om hul gesin te groet. Terwyl talle kinders in arm gebiede sterf van hongerte, bekommer die persoon met die selfoon hom- /haarself met hoeveel “likes” hulle het. Jou selfoon is ’n swart spieël en laat jou net op jouself fokus.

Besoedeling het ’n hewige effek op aardverwarming en teen die tempo wat aardverwarming vermeerder, is dit oor ’n paar jaar neusie verby. Kinders wat wag vir hul skoolbus sal eerder ’n toepassing op hul foon speel as om die papiertjie by hul voete op te tel. Een papiertjie sal nou nie juis ’n verskil maak nie, maar as ’n miljoen skoolkinders elkeen ’n papiertjie optel en herwin sal daar die volgende dag ekstra papier vir hulle wees om op te skryf.

Baie keer sal ’n  ouer of grootouer spog met hul jong kindjie se hantering van elektroniese toerusting soos selfone en tablette, maar besef hulle werklik wat die langtermyn implikasies daarvan is? Die sig van die kinders word belemmer. Daar is ook in die afgelope paar jaar baie meer insidente van kinders met aandagafleibaarheid en dit kan moontlik deur die gebruik van selfone op ’n jong ouderdom veroorsaak word. Kinders speel nie meer buite nie en hul fisiese ontwikkeling ly daaronder.

Nog ’n voorbeeld van ’n kritiese lewensvaardigheid wat afgeskeep word as gevolg van selfone is kommunikasie. Daar word gesê dat selfone kommunikasie verbeter, dit is immers waarvoor dit gemaak is, maar hoekom gebruik kinders hul selfone om musiek te luister terwyl daar verskeie ander kinders van hul portuurgroep reg langs hul sit.

Sosiale media het ook ’n geweldige impak op ’n individu se selfbeeld. Mense bekommer hulle byvoorbeeld oor hoeveel followers hulle het, hoe gelukkig die ander mense op hul foto’s lyk en al die plekke wat die ander mense al besoek het. Mense bekommer hulself oor ander se doen en late terwyl al wat regtig in die lewe saak maak is jou verhouding met die mense rondom jou.

Selfone moet gebruik word vir sy oorspronklike doel: om in noodsaaklike situasies met ander te kommunikeer. Nie om jou besig te hou nie, dis waarvoor jou vriende daar is. Met vriende bedoel ek nie jou friends op Facebook nie, maar jou vriende saam met wie jy in die parkie kan gaan speel en kattekwaad aanvang.

Regoor die wêreld leef mense hulself al hoe meer in ’n virtuele wêreld in waar alles wat jy nodig het op ’n skerm voorsien word. Ons moet so vinnig as moontlik van hierdie siening wegbeweeg en ons selfone wegbêre vir noodgevalle.

Ek daag almal van julle wat hierdie opstel lees uit om jou foon vir een week sonder al sy toepassings en sosiale media te gebruik. Dit wil sê dat daar net een moontlike ding vir die foon gaan wees om te doen en dis om te bel. Kyk of julle vir ’n week kan uithou sonder jul toepassings en sosiale media. Indien nie: is jy klaar verslaaf.


 

Jessica van Rensburg, graad 12

Ek voel anders as ander mense …

Ek dink nie ek wil dié plek nou al verlaat nie.
Nelstehuis,
by jou kon ek my voete vind en weet ek is tuis.

Ek pik ’n traan soos ek die nostalgie ervaar van die eerste keer toe ek deur jou gange stap.

Onbekend met die stories wat jy het om te vertel … stories wat ek vir die res van my lewe gaan oorvertel.

Vervreemd met die waardes wat jy my gaan leer … jou eienskappe wat my gaan vorm in die dame wat enige meisie wil wees.

Immers is dit te danke aan jou, wie ek vandag is – ’n sielsterke meisie met selfvertroue wat geanker is in haar geloof.

Nadat jy jou gevoel van liefde in elkeen van ons geplant het, begin ons self bloeisels van passie en trots vorm.

Ek noem jou my hartshuis, maar wat is in dié hart van jou wat dit ’n hartshuis maak?

Die mense.

Wat is ’n huis sonder sy mense?

Ons tweede ma – Juffrou Anna-Marie – ’n dame van formaat. Die definisie van ’n vrou met finesse. Iemand wat altyd sal bly omgee en steeds lief vir jou sal bly al weet sy presies watter kattekwaad jy in die koshuis aanvang.

Die beste deel van hierdie unieke towerkuns-koshuis is dat daar enige tyd van die dag ’n vriendin daar vir jou is wanneer die lewe jou effens onderkry.

Vroeg-oggend pajama-ontbyt onder jou lowergroen droomboom waar ons stiltetyd hou en opgewonde raak oor wat die nuwe dag vir ons inhou. Saam die bult opstap en saam as sussies sing skool toe. Laataande se gang-sing, koffie drink en sêrries. Hoe kan mens moeg raak daarvoor?

Trots is ons geanker en geroepe.

Ek koester elke oomblik hier by jou, sodat wanneer ek jou deure vir die laaste keer na vyf jaar uitstap ek ’n tassie vol herinneringe van jou in die hand en hart het.

Vir ’n laaste keur gaan ons soos ou vriende kuier. Vir ’n laaste keer ons harte in stilte met mekaar deel. Vir ’n laaste keer ons streepbaadjies aantrek. Vir ’n laaste keer gaan ek my hart by jou neerlê.

Jou huis is waar jou hart is …
En my hart lê hier by jou.
Nelstehuis, jy is meer as net ’n blyplek.
By jou is ek tuis!


 

Sue-Anja Bresler, graad 12

“Ma, ek kan nie vandag skool toe gaan nie.” In enige aardse huis, sou jy ’n verskoning hoor soos “Ek het maagpyn”. Maar nie in hierdie huis nie. “Ek het nou net my elektriese tandeborsel laat ontplof.” My ma, wat eintlik besig was om ontbyt te maak, skrik so groot dat sy die pan in haar hand laat val. “Wat presies bedoel jy met ontplof?” Ek sluk stadig. “Daar het ’n blou straal uit my oog tot by die tandeborsel geskyn … toe sien ek ’n klomp simbole en getalle en toe ontplof dit.” Ek en my ma weet presies wat dit beteken. My vermoëns begin te sterk raak om te onderdruk. Dis nogal vreemd, want gewoonlik gebeur dit in Sidkaniete tussen die ouderdomme van 20 en 25 aardse jare … ek is nou eers 18.

“Emma, jy skryf eksamen. Jy weet jy sal moet gaan.” My ma se foon lui en outomaties trek die ekstra arms en stert terug in haar lyf in (asof iemand haar kan sien) toe sy vriendelik antwoord. “Cynthia’s Daycare Service, Cynthia speaking. How can I help you?” Dis waar wat hulle sê: om ’n paar ekstra arms te hê maak kleintjies oppas baie makliker. Terwyl my ma praat, beduie sy na die horlosie bo my. “Jy gaan laat wees,” sê haar sagte stem in my gedagtes. Nog iets wat volwasse Sidkaniete kan doen. Ek loer na die horlosie. Ek gryp my skooltas en mik vir die deur. “En Emma?” Ek kyk om. “Wees versigtig, asseblief.”

Een voordeel daarvan om ’n Sidkanietiese tiener te wees is ek hoef nie skool toe te loop of die bus te vat of ’n Uber te reël nie. Ek knyp my oë toe en sien die boom ’n halwe blok van die skool af waar ek altyd vir Katie October, my beste en enigste vriendin ontmoet, voor my geestesoog. Die wêreld om my raak swart, en ’n minuut later staan ek onder die einste boom.

Na die gewone groet, loop ons saam die halwe blok tot by die skool. Katie gesels oor musiek en ouens … die tipiese tiener-onderwerpe. Ek knik so nou en dan, maar oor die algemeen verg haar geselskap nie veel terugvoer nie.

“Em, hou gou my foon vas. Ek soek net gou my pen.” Sy vang my onkant, en voor ek aan ’n verskoning kan dink, druk sy die peperduur iPhone in my hand en draai om om haar tas oop te kry. Amper onmiddellik is daar ’n blou ligstraal van my oog tot by die foon. Simbole en syfers. ’n Dowwe plofgeluid wat Katie gelukkig nie hoor nie. En dan raak die skerm dof.

Na ek versigtig aan Katie verduidelik dat haar foon af was toe sy hom vir my gegee het, maak ek vinnig ’n verskoning. Katie hoor my skaars en knik net, ’n frons op haar voorkop terwyl sy na haar lewelose foon staar. Ek gaan staan agter die muur naby die seuns se badkamers waar niemand my kan hoor nie. Ek sal my ma moet bel om my te kom haal, anders is vandag die dag wat die wêreld uitvind die Blouws is eintlik aliens.

Ek is nog besig om my ma se nommer te tik met my oë half toe (vir my selfoon se gesondheid), toe ek ’n dowwe slag voel en die wêreld swart word.

Ek word in ’n newel wakker. Dis donker om my, en ek kan nie beweeg nie. “Emma Blouw van die planeet Sidka, ek is Markos Green.” ’n Man met vier arms kom voor my te voorskyn. “En vandag gaan jy my help om huis toe te gaan.”


 

Bianca Bresler, graad 9

Ek voel anders … baie anders

Ek voel anders as ander mense. Dit het ek besef die dag op oupa Gertjie se begrafnis toe ek hom tussen die mense sien staan het. Die hele stoet was in rep en roer toe ek uitroep: “Maar Mamma, daar is Oupa. Hy waai vir my.” My ma het ’n hele paar “siestog-jou-vyfjarige-is-al-klaar-mal-kyke” gekry en ek dink sy was verlig toe die begrafnis verby was.

Ek het toe al agter gekom ek is anders, maar ek het maar stil gebly om die vrede te bewaar. Dis nou tot oom Abrie, ons buurman, ’n jaar terug oorlede is en ek oral in hom vasgeloop het. My senuwees was so klaar dat ek nie kon slaap in die nag nie. Ma wou weet wat fout is en sy was soos ’n hond wat ’n been beetgekry het totdat ek met die hele sak patats vorendag gekom het.

Dis hoe ek dokter Botha ontmoet het. Ek was in dokter René, my nuwe sielkundige, se eenmens-wagkamer toe hy daar opgedaag het. Hy het eers net langs my kom sit en ons het oor algemene goed gepraat. Hy het my gou op my gemak laat voel en ek het hom vertel oor my “probleem”. Hy het na my geluister en my nie aangekyk of ek mal is nie. So het dit aangegaan. Ek en hy het elke keer voor my sessie eers gepraat. Hy het my nie behandel asof ek koekoes is nie, maar hy het net rustig gesit en luister. Dit was dalk deel van my terapie, hierdie ander sielkundige wat vooraf met my kom praat het. Nou en dan het hy selfs iets persoonlik laat val, wat my laat besef het dat ek nie die enigste mens met probleme is nie. Hy voel ook soms dat hy nie meer kan deurdring na mense nie. Net een mens met sy eie probleme wat ’n ander mens wil help …

Dit was tot gister. Ek het spesiaal vroeg gegaan om met hom te praat. Ek het hom vertel van ’n gees wat ek vir die tweede keer by die skool gesien het. Hy het geluister na wat ek te sê het, maar dié keer was iets anders aan hom. Nadat ek klaar gepraat het, het hy na my gekyk en ongeduldig gesê: “Ons praat nou al lank, maar dit voel nie of jy vordering maak nie. Jy moet verstaan. Daar is nie so iets soos lewe na die dood en geeste nie.” Ek het ontsteld uitgeloop voor my sessie begin het, my ma gebel en gevra dat sy my dadelik moet kom haal.

***

Nou marsjeer ek saam met my ma die spreekkamer binne. Sy is behoorlik op die oorlogspad. Ek wou eers niks sê nie, maar Ma het ’n manier om dinge uit jou te trek, veral as jy hartseer of ontsteld is. Kyk, sy glo ook nie in geeste en snaakse goed nie, maar sy is glad nie gelukkig met die toedrag van sake op die oomblik nie. Ek dink dis die laaste keer wat die twee dokters my gaan sien. Die ontvangsdame kyk verbaas op in my ma se bleek, gespanne gesig. ”Kan ek help, Me…?” My ma val haar sommer in die rede. “Ja, julle kan asseblief vir my verduidelik hoekom dokter Botha ook deel moes wees van my kind se behandeling as hy nie ’n sielkundige se voet is nie! Hy was uiters ongeskik met my kind gister.” Die ontvangsdame se mond val oop. Haar gesig is wasbleek. “Mevrou, hier is nie meer ’n dokter Botha nie. Hy het drie maande gelede verongeluk. Hy is op slag dood …”


 

Zandri Malan, graad 7

Daar is rugby in my are

Ek is ’n 13-jarige meisie en ek voel anders as ander mense oor rugby. Ja, ek weet ’n 13-jarige meisie wat versot is op rugby, is skaars. Maar my siening oor dié sport verskil hemelsbreed van ander mense s’n. Vir baie mense is rugby net nóg ’n verskoning om Saterdae te braai. Vir my is dit baie meer.

In 1994 is Apartheid beëindig, maar het mense direk daarna in harmonie geleef? Nee, hulle het nie. Mense het mekaar kwalik geneem vir al die jare se pyn en lyding. Toe in 1995, is die Rugby Wêreldbeker in Suid-Afrika gehou. Alhoewel ek nog nie gebore was om dit self te beleef nie, klink die stories wat ek hoor of dit een van die mees legendariese Wêreldbekers ooit was. Op 24 Junie 1995, het die Springbok-kaptein, Francois Pienaar, die Webb Ellis Trofee op Ellispark van oud-president Nelson Mandela ontvang.

Dit was die oomblik toe die Nuwe Suid-Afrika “gebore” is. Mense regoor die land, van verskillende ras- en kultuurgroepe, het saam feesgevier. Suid-Afrikaners het mekaar omhels, ongeag die kleur van hul vel. Elke Suid-Afrikaner was oorstelp van vreugde oor die Bokke se oorwinning. Ons was nie meer swart of wit nie, ons was almal Suid-Afrikaners.

Oor die jare het rugby vir nog baie soortgelyke oomblikke gesorg. Nie net in Suid-Afrika nie, maar in lande regoor die wêreld. Dit is die rede hoekom ek anders as ander mense oor dié sport voel. Rugby het ons hele nasie verenig en so ook die wêreld geïnspireer. “In South Africa rugby is so much more than just a sport, it’s a way of life.” Rugby pomp in my are!


 

Desiré Pretorius, graad 11

Suid-Afrika is ’n land wat ’n deeglike metamorfose ondergaan het. Hierdie verandering het veroorsaak dat my velkleur nie meer ’n faktor is nie, dat my geslag nie my vermoë weerspieël nie en iewers tydens hierdie metamorfose, het die reg om te wees wie ons wil wees, die pad byster geraak.

“Die lewe is ’n slagveld en jy is verantwoordelik vir jou eie welvaart.” So het my ouma altyd vir my gesê. Dit is alles goed en wel, maar my welvaart moet nie ten koste van my geluk wees nie, of hoe? Vir die tieners rondom my is die lewe maar moeilik. Hulle kla oor hul aanlyn-mediaprofiele wat nie op standaard is nie. Oor hul verhoudings wat nie uitwerk nie. Maar verstaan hulle werklik hoe dit voel om ’n innerlike oorlog te veg wat ek en my “unieke gemeenskap” elke dag van ons lewe moet veg?

Die skool is ’n tydelike tronk waar my geheime gevoelens rondwandel. Verskuil agter my wit masker met sy aangeplakte glimlag, sodat ek soos die res kan lyk … sodat ek kan inpas. Want as jy verskil van die meerderheid, is jy onmiddellik die “prooi” in die middel van hierdie slagveld. Ek moet “ja en amen”, sodat my naaste my nie verstoot nie. Om saam te stem oor die rugbyseuns se wonderlike spiere is die maklike deel, maar die ware geveg tree in wanneer ek agter toe deure inmekaarsak en my trane my enigste vertroosting is vir die hel wat ek elke dag beleef.

Al wat ek sien, is die beeldskone meisie wat in Wiskunde agter my sit. Haar sagte stem kikker my dag op en dit gee my hoop vir ’n tyd waar alles beter sal gaan.

My gemoed verkrummel in my ma se verwagtinge, wanneer daar gepraat word oor die dag wanneer ek in ’n wit trourok voor ’n boerseun gaan staan. Hoe verduidelik ek aan haar dat sy haarself moet regmaak vir ’n skoondogter en nie ’n skoonseun nie? Hoe staan ek langs my familie in die kerk wanneer ek blykbaar “sonde pleeg”? Hoe verduidelik ek aan my naaste dat ek eintlik net soos hulle is?

Die enigste faktor wat my anders maak is die feit dat my siel net aangetrokke is tot dié wat my fisiese gelyke is. Liefde is liefde, en ek kán nie verander word nie.

My hart breek wanneer ek hoor dat dit net ’n fase is. Dat dit ’n keuse is, wanneer daar verwys word na mense soos ek as losbandig en gretig. Wanneer ek met leë tree oor die stukke van my hart loop, weergalm dit deur die stoepe van die skool en net ek en my unieke gemeenskap sal die pyn verstaan.

Ek moet om hoekies skuil om die vyand te vermy. Hulle kyk vir my, want my verlede van alleen-wees, verklap my geheim. Hulle weet ek is anders en ek voel verskeur, want die wat dit waag om te verskil, word verwoes, op getrap, sleggesê en geleenthede geweier. Onmiddellik vlieg my welvaart by die venster uit.

Al wat ek vra … al wat óns vra is aanvaarding. Dat ek mag liefhê wie ek wil, net soos wat hulle mag. Dat ek mag wees wie ek wil wees sonder om veroordeel te word, want ek is moeg daarvoor om al ewig anders as die ander te voel.

Die metamorfose is nog lank nie verby nie. Die fundamentele gedeelte van die silwer kokon word steeds vermis. Dit moet opgebou en beskerm word, sodat dié vlinder wat op die ou einde gaan vlieg, ook al die kleure van die reënboog kan dra.


 

Marni Deacon, graad 11

Die kind in my

Ek onthou haar nog soos gister. Die blondekop dogtertjie wat nooit wou skoene dra nie. Sy het snags in my drome kom kuier, my kom vertel oor kindwees. Die sterre in haar oë het geskitter wanneer sy praat oor al die dinge wat haar gelukkig maak. Haar ouma het haar "Afrika se kind" genoem, omdat sy vir ure lank kon wegsweef in haar eie droomwêreld. Vir ’n sewejarige was sy klein gewees, maar haar drome was groot. Sy was besonders mooi, afgesonderd in haar eie wêreld.

Op die vroeë ouderdom van vier het sy leer lees. Haar eerste boek was die Bybel, en vir dae lank het sy uit Psalm 91 vir haar gesin gepreek. ’n Week later het sy trots by haar ouers gespog dat sy eendag soos Pastoor Tienie gaan wees. Van poppe wou sy níks weet nie. Sy wil stories soos haar oupa skryf, het sy een aand skamerig aan my erken. Daardie aand het ek besef dat sy nie ’n alledaagse sewejarige is nie.

Nag na nag het sy kaalvoet deur my drome kom dans. Iets aan haar was verslawend, ek kon nie genoeg kry nie. Ek het aan elke woord van haar stories gehang, haar kinderlike onskuld het die kind in my wakker gemaak. Ek het daarna gesmag om weer so sorgeloos en vry soos sy te kan wees.

Toe kom die stilte.

Vir maande lank het die dogtertjie my nie in my drome kom ontmoet nie. Ek het eenvoudig ophou droom. Die kind in my het ’n stil dood gesterf. Die tyd het met swaar voete aangeskuif. My dae was lank en leeg. Op een stormagtige aand het sy weer haar verskyning gemaak, maar iets was anders. Die glinster in haar oë was weg, het ek besef. Ek wou haar nog vra waar sy was en hoekom sy my verlaat het, maar haar woorde het my gedagtes onderbreek: "Skrik wakker voor jy jouself finaal verloor!" en weg is sy.

Nat gesweet en uitasem ruk ek wakker, haar woorde weergalm nog in my ore. Met ’n gevaarlike sprong spring ek uit die bed uit en kom voor die spieël te lande, en daar staan sy voor my. Twee glaserige groen oë staar my stip aan. Die woorde in my ore maak sin. Die blondekop dogtertjie glimlag verleë vir my, behalwe dat sy nie meer ’n dogtertjie is nie. Aangesig tot aangesig staan ek na myself en kyk, en ek weet, hierdie is die oomblik waar ek terugkeer na myself toe.

Die Afrika-kind wat wil stories skryf en pastoor word, sy is nog hier. Die kaalvoet dogtertjie wie se drome nog altyd te groot was vir hierdie klein dorpie, sy leef nog hier binne my. Die kind binne my is nie dood nie, en sy smag daarna om weer hardop te kan droom.

Iewers tussen grootword en die druk om aan die wêreld se standaarde te voldoen, het ek myself langs die pad verloor. Ek het vergeet wie ek is, maar die kind in my het my huis toe gelei. Sy het my herinner dat wie die wêreld van my gemaak het, en wie ek is werklik is, twee verskillende persone is. Ek is ’n digter, ’n dromer, ’n denker, ’n skrywer, ’n storieverteller, en hopelik binnekort, ’n pastoor. Ek is nie ’n alledaagse sewentienjarige nie, ek is besonders mooi afgesonderd in my eie wêreld.


 

Inge Keyser, graad 7

Ek wil ’n rabbedoe wees

Ek het ’n storie geskryf. ’n Mooi storie oor ’n rabbedoe. Die idee was om myself te beskryf, hoe ek is en wil wees ... maar toe verloor ek die storie. Nou gaan ek net vertel hoe ek is en wil wees en hoe ek oor party goed voel.

My naam is Inge, ek bly in ’n voorstad, maar wil eintlik op ’n plaas bly omdat daar baie ooptes is en bome wat mens kan klim. My vriendinne sê ek is ’n rabbedoe en ek is trots daarop. Ek probeer altyd beter doen as seuns, of dit nou in ’n resies of in armdruk is, hou ek daarvan om hulle te wen. En hulle moet ook nie met my of my vriende mors nie, want ek sál hulle vermoor. Eintlik sal ek hulle boks of klap, nie letterlik vermoor nie; partykeer is ek nogal gevaarlik.

Om ’n skaatsplank te hê is een van my secret wense, maar shh moet vir niemand sê nie. Nog ’n secret is die rede hoekom ek nie rokke dra nie. Die grootste rede is omdat rokke altyd in die pad is (los hare is ook in die pad, ek dra altyd my hare in ’n poniestert) maar hier kom die secret, ’n klein rede hoekom ek nie rokke dra nie is omdat ek bang is mense sal my as “girly” sien.

Ek het my storie geskryf oor ’n rabbedoe, ’n seun vra haar dan dans toe. Sy sê toe vir hom sy sal gaan as sy nie ’n rok hoef te dra nie en kaalvoet kan gaan (ek hou ook nie van skoene nie). Ek sou die storie aan my vriendin Kirrie opgedra het ... as ek nie die storie verloor het nie. Die rede daarvoor is omdat sy my rabbedoe-maatjie is.

Met al hierdie dinge wil ek nog steeds ’n mooi meisie wees, ek hou ook van party “girly” goed soos pienk (duh), lang hare en saam met vriendinne oor meisiegoed praat. Ek voel anders as ander mense, hoop ek bly vir ewig ’n rabbedoe en is verseker mal oor boomklim. Liefde vir Kirrie, my rabbedoe-maatjie.


 

Hannah Venter, graad 7

Die wêreld is so groot maar eintlik so klein in kleur. Hulle sê dit is swart as ons die wêreld binne kom en dan word jy in ’n boks geplaas. Daar is baie mense maar almal word in dieselfde boks geplaas en ook nie noodwendig altyd in die regte boks nie. Word ons … Party keer wens ek dat mense soos troeteldiere is wat net liefde wys.

Waarom almal in bokse plaas as ons almal so anders en individueel is?

Daar is ’n lang, verlore lyn van mense wie hulself soek. Daar is die mense wat so hard probeer om in te pas, maar waarom? Sal jy so hard probeer om die regte jy te vernietig? Net om vals te wees … en in te pas?

Hoekom jou kans verspeel om naam te maak in die wêreld? Jy kan die verskil wees tussen ’n wit doek of die reënboog vol kleur. Ek kies om anders te wees soos die reënboog.

Mense is ’n vreemde spesie, hulle probeer so hard om soos die res te wees. Hulle is soos skape. Hulle volg mekaar sonder om te dink. Dit is asof die wêreld ons brein aantas, asof almal se breine gekoppel is met Bluetooth. Dan is daar die “vreemde” mense wat uitstaan en “snaaks” voorkom omdat hulle vir hulself dink en nie omgee wat ander sê of dink nie. Mense is vinnig om almal met ’n etiket te merk.

Die Bluetooth-mense wil nog steeds voor staan, wil nie links of regs kyk nie. As jy nie soos hulle dink nie is jy nie een van hulle nie. Waarom sal ek soos die res van die mense wil wees?

Dit is nie hoe ons geskape is nie. Ons is gemaak om uit te staan. Ons is gemaak om te straal. Kom terug aarde toe, laat vaar die pretensie en wees jou eie tipe!

Die helfte van die tyd is ek in my eie wêreld omdat almal in die boks dink. Wie gee om as mense nie dink dat jy die slimste is nie, omdat jy op jou eie manier die lewe anders sien?  En wie gee om of jy ryk is? Geld kan nie ’n positiewe houding, liefde, of ’n glimlag koop nie, dit kan slegs vals denke en pretensie skep. Dit katrol vals mense in. Dit maak nie saak of jy kan dans, sing, teken of optree nie. Doen dit as dit jou gelukkig maak, doen dit asof die wêreld nie kyk nie. Sodra jy uitstaan sal almal jou raaksien. Moet nie in mense glo wat nie in jou glo en nie jou waarde sien nie.

Indien jy sukkel om uit die boks te kom omdat jy bang is dat mense jou gaan oordeel en nie die ware jy gaan sien nie, wys hulle jou ware kleure. Jy sal dan besef dat baie mense uit hulle bokse uitklim.

Ek het lankal die boks waarin die samelewing my geplaas het, verlaat. Dink groter, die wêreld het baie meer om aan te bied as wat jy aan kan dink. Stop en kyk om jou en besef ons is almal anders, jou lewe verskil van myne.

Ek staan uit en dit pla my glad nie.  Ek glo in myself en maak nie staat op ander om my gelukkig te maak nie.

Ek het my pad na geluk en sukses gevind omdat ek anders is en ek glo in myself.

So los die twyfelaars, jy het hulle nie nodig nie. Klim uit die boks en loop langs die boks. Sodoende sal jy ook geluk en sukses vind.


 

Friedrich W Schmidt, graad 12

Ek voel nie net anders as ander mense nie; ek is anders. Dit is die storie van my lewe.

So ver as wat ek terug kan onthou het hierdie gedagte my lewe regeer. Dit was die spil waarom alles gedraai het. Ek is gebrandmerk as “anders”.

Wie is jy? Dis die woorde wat my graad 1-juffrou gevra het die dag toe ek by die klas instap. Die antwoord was maklik, ek was klein Danie van Deventer. Sy het niks gesê nie, maar ek kon sien sy het dadelik geweet presies wie ek is: Daan van Deventer se seun. Daan wat homself elke naweek in ’n koma in gesuip het en eerder in die kroeg rondgelê het tot in die vroeë oggendure as om ’n man vir sy vrou en ’n pa vir sy kind te gewees het. Dit is wie ek was. Dit het my anders gemaak.

Met tyd het min verander en ek het niemand anders as Daan en Elsa van Deventer se seun gebly nie en op ’n klein dorpie soos ons s’n het almal dit geweet. Dit het my anders gemaak.

Orals waar ek gegaan het, was dit altyd dieselfde ou storie: In die Sondagskool en by die rugbyklub en selfs by oom Koos se slaghuis waar ek ’n vakansiewerkie probeer losslaan het. Ek is anders behandel, want ek was anders. Ek was vir niemand goed genoeg nie, maar ek het myself daaraan getroos, ek was darem anders, uniek, nie soos die res van die mense op die dorp nie.

Dit was nie my skuld ek is Daniël van Deventer junior nie, ek het nie gevra om hier te wees nie. Ek kon ook niks daaraan doen dat my pa ’n alkoholis was of dat my ma so onnosel was om by ’n man te bly wat haar erger as ’n slaaf behandel het nie. Ek was net daar, aan die verkeerde kant van die treinspoor, maar tog ... ek was anders. Noem dit maar ’n bonus.

Vandag, jare later, is ek spyt ek het my so baie aan ’n naam gesteur en ek weet nou niemand gaan hulle meer aan my naam steur nie, absoluut niemand ... want ek is nie anders nie. Ek is nie spesiaal nie. Ek is nie uniek nie. Ek is net soos almal anders. ’n Statistiek.

Wie is ek? Nou is my antwoord anders. Ek is gevangene 17579 en ek kom in aanmerking vir parool in 2027, 27 April 2027 om presies te wees. 27 April 2027 – wat ’n bevrydende datum.

Ek is nie anders nie ... ek is gevangene 17579.


 

Rachelle du Preez, graad 9

Suid-Afrika: ’n land wat vra dat jy anders sal voel!

Dis die plek waar drome waar word. Sukses en geld is om elke hoek en draai beskikbaar. Dis die plek waar jy ’n beter weergawe van jouself kan wees. Die gras in dié weiveld is ... wel, dis grasgroen. Net jammer dis aan die ander kant van die draad.

Ons land, Suid-Afrika, is vir baie nie meer die land waar hulle ’n tuiste wil skep nie, nie meer die plek van vryheid en skoonheid wat dit eens was nie. Mense gee één kyk na die ekonomie, die leierskap en die misdaad en begin om planne te maak vir hul emigrasie.

Ék voel anders. Ek dink dat ’n land met so ’n besonderse erfenis en soveel om nog te ontdek, die moeite werd is om aan vas te klou.

Suid-Afrika is ’n land van kontras. Hier is geplooide valleie waarin lappies wingerde wegkruip en verlate vlaktes met Karooskape wat die verte intuur. Hier is berge wat bedek is met plantegroei en vol is van die wildernis van “Donker Afrika”. En hier is ’n kuslyn met druisende branders wat op die stroke van goue sand breek. Hier is sonnige dae met fyn briesies, en hier is stormagtige dae wanneer jy die dreuning van die donderweer nie net hoor nie, maar ook vóél. Hier is iets vir elkeen; elkeen se verskillende idee van paradys.

By ’n loopbaanuitstalling wat ek hierdie jaar bygewoon het, is daar vir my gesê: “Jy moet weet waarvandaan jy kom om te weet waarheen jy op pad is.” As ek na Suid-Afrika se geskiedenis kyk: Die eerste setlaars wat na Suid-Afrika gekom het vir uitkoms, die Anglo-Boereoorlog wat Suid-Afrikaners geveg het, Apartheid wat Suid-Afrikaners oorkom het, voel ek dat ons voorouers té ver gekom het, té hard gewerk het, té hard baklei het vir ’n toekoms in hierdie land vir nuwe generasies om na ’n denkbeeldige pot van goud aan die anderkant van die reënboog te soek.

CJ Langenhoven het die volgende aangrypende woorde van Suid-Afrika gesê in sy lied, Die Stem: “In die merg van ons gebeente/ in ons hart en siel en gees/ in ons roem op ons verlede/ in ons hoop op wat sal wees/ in ons wil en werk en wandel/ van ons wieg tot in ons graf/ deel geen ander land ons liefde/ trek geen ander trou ons af.”

Ek sal graag eendag wil rondreis, die wêreld sien en nuwe gebeurtenisse ervaar. Ek sal dit doen met die wete dat ’n mens net één geboorteland, één tuiste het ... En myne is Suid-Afrika.

Dis die plek waar drome waar word, indien jy die dapperheid het om die eerste tree te neem. Sukses word nie gemeet in geld nie, maar in wat ons uitrig. Dis die plek waar jy, met genoeg moeite, ’n beter weergawe van jouself kan wees. Die gras aan hierdie kant van die draad is ... wel, dis grasgroen.


 

Cilliers Diedericks, graad 8

Net gekke en dwase skryf hul name op mure en … of hoe, my brah? Ek voel anders as ander mense oor graffiti. As ek in die donkerte van die nag met my leë kannetjie turkoois en orange agter die brug se pilaar koes-koes en die adrenalien sit in my keel, is ek nie ’n common criminal nie, maar ’n kunstenaar, ’n artist. My boodskap is méér as net die drie vet letters teen die highway. Jy maak ’n fout as jy hiérdie Amerikaanse windbreaker en agterstevoor keps vlak kyk …

Eerstens voel ek dat graffitiane (ja, dis wat ons onsself noem en nee, daar’s nie so ’n woord in die woordeboek nie) op ’n anderster manier sosiale kommentaar lewer, sonder om te baklei en sonder om hengse drama te pomp … behalwe as hulle jou sou uitvang, maar daarvoor is ek te slim! Ons wil almal gehoor word. Ons wil sê wat ons pla maar wie sal luister as jy nog nie eens ’n  karlisensie het nie? Dan spuit ek woorde wat almal kan sien … die vaak gesigte in die vroeë taxi, die kliekende kameras in die Chinese toerbus en die netjiese Queenspark-tannie wat voor werk gym toe ry … Hulle hoor my stem al ken hulle nie my naam nie.

Die sementmuur by die ou pakhuis het geen ander doel as om die skelms uit te hou en die rotte in nie, maar wanneer ons graffitiane daarop skilder, word dit vir ’n groter doel gebruik. Dit word ’n doek …’n properse canvass … Dit laat jou sien hoe vaal en lelik die fabrieke eintlik is en hoe mooi dit sou lyk as mense moeite doen om die omgewing te versier met plante en kleure. Ons kikker op. Ons verfraai en daarby laat ons mense met mekaar gesels oor wat daar geskryf of geteken staan. Al dink jy dis vertraag, ten minste praat jy daaroor.

Die Cape Flats is nie in een dag gebou nie … Daai rooikop wat sy eie oor af gesny het, het ook nie met sy eerste probeer die sipresse en die koring en die kraaie reggekry nie. Hulle was sekerlik eers krom en skeef … o wel, eintlik was dit áltyd krom en skeef. Maar wat ek wil sê is dat ons graffitiane maar begin met tekens, woorde en eenvoudige dik krulle, maar dat meesterstukke hieruit groei… Hoe méér ons spuit, hoe beter raak ons, hoe meer kom styl en talent na vore. En eendag check jy nog jou foon terwyl jy so lekker ry en dan skielik is die hele kant van die highway een pragtige natuurtoneel, ’n reuse gesig, ’n bos met diere … dan weet jy: ’n graffitiaan het ryp geword.

EK voel anders as ander mense oor graffiti. Dis die manier hoe ék met jóú praat al ken ek jou nie, hoe ek jóú laat praat en hoe ek kuns uit die gallery tot vóór jou oë bring.

Koes-koes-kunstenaars se kleure pryk op afdak en deure ...

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top