
Foto: Canva.com
Ek stap na my hart
Ek stap deur strate van dronk herinneringe
waar skimme skouer aan skouer loop
om vloek en vleitaal te verenig
tot ’n gesprek met hulle gode
om ’n ode te bring aan die verlede
wat al die lesse in laaie rangskik het
dit gesluit het met slot en kettings
die sleutels op die swartmark verpand het
waar dit verbode is om te gaan
vir mense soos ons wat altyd soek
wat altyd skryf omdat ons wonder
oor die mossie en die vlinder
oor liefde wat ons net roekeloos weggee
vir die eerste boemelaar wat klop
wat hamer teen jou hart se deur
dan verbaas en te laat sien ons die fout
dan begin die soektog van jou lewe
tussen skimme in donker strate
om jou hart terug te vind
iewers versteek in ’n verlate stegie
waar die agterstraatrommel stink
daar kry jy hom terwyl hy nog klop
jy tel hom op en verbind hom met watte
jy bêre hom in ’n goue kassie vir later
maar nou weet jy
jou hart is een ding wat jy moet bewaak
wat jy moet bewaar bo alles
want dit is die oorsprong van jou lewe
die een waardeur jy so stap
om môre te red van gister
wat nooit ophou klop nie.


Kommentaar
Pragtige gedig hierdie, Johan
Wow dit voel amper nie asof ek dit geskryf het nie, kyk, dit is eerlik baie mooier op LitNet se platform, want dit is erkenning en motivering as ek moeg raak en dink my werk is nie goed genoeg nie. DANKIE LITNET