Dit was in die vroeë tagtigs. Miskien in die Nissan-skild. Was daar driedag toetse gespeel in daardie dae? Dit kon sy eerste amptelike honderdtal op provinsiale vlak gewees het. Dalk vir Transvaal. ’n Hoogs talentvolle jongeling. Het hy nie met ’n County kolf gespeel nie?
Die rede hoekom die fragmente daarvan iewers vassteek is omdat ek dit nie kon kyk nie. Ek het met ’n tuinvurk in die middel van ’n groot bedding langs die oprit gestaan en skoffel. Julle sien, op Saterdagoggende vroeg as ek en my broer nog daaraan gedink het om te lê en poep ruik in die bed het ons pa al die gras gesny. En behoed jou siel as jy nie gouer eerder as later inval nie. Ek het tuinmaak verpes. So tussen die bossies en klonte deur, as ons die skare gehoor raas het op die kassie, kon ons darem gou-gou die kykweer van nog ’n grenshou gaan kyk.
Maar my tingerige skaduwee is nie veronderstel om die groter vraagstuk van hierdie brief te ontsier nie. As ek aan Darryl dink kom twee woorde by my op: What if? Hoekom sulke swaar woorde? Want Darryl was op die regte plek op die verkeerde tyd ... Ja, daar was geen golf wat Darryl kon ry nie. Hy moes die fleur van sy talent in die skandgrond begrawe.
’n Dekade of wat later het hy wel ons land internasionaal verteenwoordig. En Shane Warne het dikwels sy paaltjie laat kantel. Maar in my boeke sal Darryl altyd ’n meesterskap wees deur geskiedenis geredigeer.
Adriaan

