
Foto: Canva
Ek ontmoet die dood
Dit is vrydagoggend, my vriend
Ek staan voor jou drumpel,
alleen, eenvoudig, lig van gees,
met yskoue hande vol vrae.
Ek wonder of jy my gaan ontvang
met oop arms of yskoue stilte.
Ek klop.
Ek klop weer.
Ek wil net praat, praat met iemand oor my seer.
Die deur skuif stadig oop
en wat my in die gesig staar,
is donker oë sonder einde,
’n glimlag wat geen warmte dra.
My idee van jou,
die beeld wat ek gedra het,
val in stukkies voor my voete.
Jou stem is ’n koue bose asem,
jou teenwoordigheid
’n gewig wat my laat ril van vrees
“Waarom klop jy aan my deur?”
fluister jy,
so sag,
so seker.
“Het jy die wêreld agter jou gesluit?”
Ek antwoord “ja” met geen skaamte
ek besef dat jy meer stil is, vol vrede
en onmiddellik is die vrees in my liggaam weg.
Is jou stilte dalk die rede?
Ek wou net weet hoe dit voel
om die einde te groet,
om vir ’n oomblik te verstaan
waar stilte begin
en asem ophou bestaan.
Ek is vas,
’n keuse moet ek maak,
bly en die stilte omarm,
of terugkeer na die lig
waar hulle my roep.


Kommentaar
Hi Fazel, tematies herinner jou gedig my aan Emily Dickonson se gedig "Because I could not stop for Death".
Indien jy dit nie reeds ken nie, gaan lees gerus: https://www.poetryfoundation.org/poems/47652/because-i-could-not-stop-for-death-479
Hi Eduan, ek ken ongelukkig nie die gedig nie, maar ek sal die gedig van Emily Dickinson gaan lees. Baie dankie.