Ek mis dit, jy weet ...
Die dae toe wegkruipertjie die beste speletjie was om te speel.
Wat ons grootste bekommernisse was met watter kleur potlood om in te kleur.
Maar nou?
Nou is ons verslaafdes aan drink en rook, want dis die enigste ding wat ons "oukei" laat voel. Niks maak meer sin en niks maak meer saak nie; ons is gebroke en stukkend in ’n wêreld vol seer. Die lewe is hard; watter pad om te volg weet ons nie meer nie. Almal wil jou veroordeel, maar ons almal sit met seer.
Ons hoop is weg. Die donker nagte wat jy in jou bed lê en jouself aan die slaap huil, dis dit wat ons laaste bietjie hoop gesteel het, hoop vir vrede, hoop vir geluk. Nou kom vou die donker om ons en hou ons vas. Ons dink dis hier om ons warm en veilig te hou, maar dit kom maak die monsters wakker in ons, die monsters waarvoor jy bang was onder jou bed toe jy klein was.
Mamma se hand is nie meer daar om jou oor die pad te lei nie en Pappa is nie meer daar om vir jou stories te lees nie. Jy moet self jou monsters beveg, al is die monster binne jou. Ons harte is in stukke en ons koppe opgefoeter. Ons idee van goed en reg is onduidelik, want ons probeer net onsself vind en ons maak foute en verwyt onsself daaroor.
Maar dalk in hierdie wêreld van hartseer en pyn moet ons hoop by mekaar vind, mekaar help om ons monsters te beveg, want agter die monsters is daar dalk nog hoop.
Kommentaar
Net wow! Geen woorde...