Ek is ’n Afrikaner – ’n ode aan die Kaapse aalwyn

  • 0

Foto: Izak de Vries

Ek is ’n wit Afrikaner en Boer. 

Ek staan wortelvas in Afrika.

My herkoms is Europese saad en die ryk, gemengde grond van die Kaap.

My stammoeder, Christina van der Kaap, dra slawe-, Khoi- en Indonesiese bloed. Ek eer haar as deel van my volle, geweefde verhaal. 

Nes oom Paul sy gemengde Kaapse wortels gehad het, leef ek my identiteit met oop oë, respek en trots.

Afrikaans is my moedertaal. Dit het nie as ’n volgroeide Europese taal hier aangekom nie – dit het hier ontstaan, in die stof en reën van die Kaap, in wisselwerking met Khoekhoe, San en die plaaslike werklikheid. 

Afrikaans is een van die oudste tale wat aan die suidpunt van Afrika gebore is en volwasse geword het. Dit is inheems in die diepste sin: Dit hoort hier nes die wind, die aalwyn en die berge.

Daar bestaan vandag verskillende trotse Afrikaanssprekende gemeenskappe. Die Rehoboth Basters is ’n eie volk met ’n gemengde herkoms, hul “Vaderlike Wette” en ’n unieke geskiedenis van oorlewing.

Die Griekwas, Kaapse Maleiers en ander het elkeen hul eie waardige nalatenskap.

Almal is nie Afrikaners in die historiese sin nie, en hulle hoef nie te wees nie. Ek respekteer hul afsonderlike identiteit en reg op selforganisasie.

Tog staan een beginsel vir my onwrikbaar vas: Gemeenskappe wat sterk identiteit, innerlike trots en die vermoë tot selforganisasie handhaaf, vaar beter – ongeag omstandighede. 

Orania het dit in drie dekades bewys.

Rehoboth het dit oor 150 jaar bewys.

Strydenburg en te veel ander plekke wys wat gebeur wanneer daardie kragte verwaarloos word.

Artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet bestaan nie verniet nie. Dit bied ruimte vir gemeenskappe om hul kultuur, taal en lewenswyse in vrede te bewaar. Dit is nie afskeiding nie – dit is volwasse diversiteit in ’n komplekse land.

My droom is nie ’n gedwonge eenheid (assimilasie) nie.

My droom is ’n wortelvaste Afrikaanssprekende kultuurgemeenskap, ’n familie van verskillende lote wat onder dieselfde taal en dieselfde son groei (integrasie). Elkeen op sy eie manier, maar met wedersydse respek. 

Elkeen wat Afrikaans met oortuiging praat, die land eerbiedig en bereid is om saam met ander te bou, het plek.

Soos die Kaapse aalwyn groei ek
tussen klippe in stof en reën.

Ek blom
vlamme oranje-rooi teen die wind.

Ek saai my saad
wyd oor dor en groen.

Om my is daar plek
vir almal wat kom.

My wortels drink diep,
my stam staan regop,
my dorings waak.

Ek groei.
Ek blom.
Ek bly.

Ek is ’n Afrikaner.

Boeregroete

Cornelius Henn 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top