... en daarom voel ek vir hulle, het nog altyd. Hulle het die ventilasie gat ge-"recce" en ontdek dat die sifdraad aan die binnekant van die opening, reg onderkant die vensterbank, makeer. Lekker beskutte plek hier onder die 1950's se 'American Pine' plankvloer.
En hulle trek toe in. Die welige fynbosstruik teenaan het gekeer dat 'haar majesteit' en haar vele onderdane se plakkery aan wederhelf rugbaar word. Ek het 'wederregtelik' hul teenwoordigheid verdoesel deur nie 'n woord te rep nie.
'n Jaar lank gereken op die moerse heuningkoek wat daagliks besig was om te groei. Ek kon glad nie onthou wanneer laas ek 'n regte egte heuningkoek gesien het nie, wat nog te sê van aan een te proe, en vasgebyt met die wete dat die dag sal kom wanneer ek met 'n teelepel 'n stuk van die byewas met … ag wat.
Soos met baie van my vooruitsigte, het hierdie een ook mank gegaan aan vêrsiendheid.
Die gehuurde "domestic cleaners " het ek gepaai met die vredeliewende geaardheid van my bye en soms noodgedwonge gehelp met die vensters se was slag. Net sodat hulle kan stil bly.
Maar die struik het geil gegroei en moes ek dit op aandrang van vroulief meermale "trim", ... sy nie hou van sulke boskasies voor haar vensters nie. En aan die anderkant weer, was my blombestuiwers, waterdraers, houthakkers en heuningkoekbouers glad nie gediend met 'n steurnis rondom hul "korf" nie.
Fyn trap was die aangewese toe vroulief begin wonder oor die groeiende aantal bye lykies in die vensterbank. Lykies van dié wat nou, wanneer die venster oopgemaak word, tussen die gordyne en die glas weens onnoselheid verdwaal en nie die weg na vryheid kan vind nie.
Ek "trim" nog so ewe rustig aan die struik toe 'n donner die vredespakt verbreek en my bykom, die lug boonop bestuif met sy aanvalsferonoom en my dwing om te hardloop, en vroulief sien vir die eerste keer als.
Dis apteek toe maar dié is Saterdagmiddae gesluit, met my linkerhand opgepoffer, 'n karbonkel aan my regterwang en 'n branderigheid agterin my nek, is die enigste uitweg die aangewese hospitaal waar die toelatingsbeampte in "emergency" allerhande stront oor anti-histamien tablette het.
Maandag bel vroulief al die by-kundiges in die omgewing. Almal "quote" hul "onkostes" vir die "guns" om die "korf" te verwyder.
R1000 - R1500!
Wat behels dit? Wel dis (1) die uitlok van die bye na 'n naby geleë korf wat dalk weke kan duur, (2) uitrook van die bye as hulle kan vas stel waar en hoe ver die nes onder die vloer is en laastens (3) die oopkap van die ventilasiegat wanneer bovermelde twee nie haalbaar is nie, en natuurlik die verwydering van die 'vuil' heuning.
Vuil heuning? Dis nou wanneer die bye nie ordentlike korwe het om die netjiese heuningkoek te produseer nie en hulle heuningkoeke bou soos wat hulle in die ope natuur sou doen, seg hulle.
Na herhaalde oproepe deur wederhelf kom twee manne dae later onverwags hier aan. Stel hulself voor en sê hulle is hier op Mevrou se versoek en vra om die nes te sien.
"Sal moet oop kap," is die diagnose.
Hulle is terug bakkie toe en kom met hul by-mondering volledig aangetrek, te voorskyn. Wie sou my arme twee medium groot beste vriendinne van 10 jaar kon verkwalik toe hulle die verskynsels in 'n rookwaas, al pompende met die rookpompe sien nader kom.
Dit was 'n riem onder die hart om te aanskou hoe hulle hul oubaas se veiligheid met groot lawaai en aggressie voorop stel. Een tree vorentoe en twee terug met deernis wat in my opwal.
Soveel so dat die bure by die deure en vensters uitloer.
Die verskynsels het met hamer en klipbeitel aan die kap gegaan, rook gepomp, gekap en rook gepomp en die bye en my beskermers ( lg nou in die huis ) daardeur tot raserny gedryf.
Na vyftien minute draai-sit die een hurkende verskynsel skuins teen die muur aan en steek 'n verinneweerde spieël deur die opening. Lig met sy flits op die spieël. Steek dan sy dik gehandskoende hand in die gat in, gee 'n pluk en bring 'n stuk vuilheuning so groot soos 'n rugbybal te voorskyn. Hy sit dit in die wit 20 lt plastiek ex-verfemmer. Draai op sy ander kant en steek weer sy hand in en bring nog 'n stuk vuilheuning te voorskyn. Kyk met die stuk spieël weer in die gat in en voel-voel en pluk-pluk kom nog vuil heuning uit.
Hy gee die emmer vir sy maat wat daarmee bakkie toe begin aan stap en vra vir ou koerantpapier. Ek kry dit in die stoortjie en hy stop die oopgekapte gat daarmee toe en verklaar dat dit so twee weke sal duur vir al die bye om te vrek en hulle gee pad met my +- 6 kg vuilheuning sonder om verder 'n woord te sê.
Ek het nie 'n druppeltjie, nie 'n lekseltjie, nie 'n stukkie heuningkoek gekry nie. Niks! Daai gevoel wat jy kry wanneer jou raasgat-buurman jou na 'n Blou Bul wen komplimenteer met jou verdraagsaamheid, geduld en bedagsaamheid, spoel oor my.
Ek het opgemerk dat die bye in die veld so twee uur voor sonsondergang daagliks terugkeer nes toe en sien dat die wat buite was dit nog steeds doen maar omdat hulle nie kan in nie, op die koerantpapier om en in die gat saamkoek. Die gezoem het gegroei en tot sonsonder aangehou. Die volgende oggend en deur die dag bly dit so.
Na 'n paar dae, toe na 'n week, toe na 10 dae sê ek vir wederhelf dit lyk nie asof die bye enigsins besig is om te vrek nie! Wederhelf sê net jy bly daar weg!
Twee weke het gekom en gegaan. In die aand, donker, besluit ek om te kyk. Want dis stil dan. Met die flits lig ek en trek in die een hoek versigting repies koerantpapier van die muur weg en sien 'n groot opening, netjies oopgevreet. Die ouens buite en die ouens binne het na mekaar toe deur die koerant gevreet !
Was daar dan kommunikasie? Ek was verstom.
word vervolg …
Raed-na-Gael


Kommentaar
Jinne Raed-na-Gael,
Dit is ’n oulike storie/gebeurtenis. Lees geniet-lekker!
Trienie