
Foto: Canva
Ek hunker na woorde
Soos ek oor die vlaktes swerf
in die lig van ’n stukkende son
vind ek heel skaduwees
wat soos jy lyk
vygies wat soos jy ruik
dan weet ek
die pad is nog reg
dan anderkant my berg
swenk ek weg na môre
anderkant gister
se mislukkings
om die kronkelpad te vat
na die godeberg
waar ek die pad ken
want hierdie pad is reguit
alles langs die pad is krom
skeef en beef soos ’n riet
wat in die wind waai
om te wapper
soos die lamp se vlam
waarvan die pit skeef is
tog is die wind genadig
soos die God van die Bybel
wat nie die riet sal breek
of die lamp se pit sal uitblus nie
dan net toe ek dink ek het verdwaal
hoor ek die basuin wat my nader wink
na die put vol woorde –
wat jy laas daar neergesit het
in jou vorige lewe
toe jy my brief gekry het.